ProAgri SA 303

Front page_Proagri_303 May2025
Beste ProAgri-leser
As jy hierdie uitgawe van ProAgri in die hand hou tydens NAMPO 2025, sit jy dalk op NAMPO-park tussen trekkers, toerusting en duisende boere … maar terug op jou plaas is dit waarskynlik ‘n heel ander prentjie.
Oor groot dele van die land is daar vanjaar een woord wat alles oordonder: reën. Wat aanvanklik soos ‘n seën gevoel het na die droogtes van vorige jare, het nou oorgeslaan na ‘n nuwe uitdaging. Veldpaaie is deurweek, oeste staan gereed om gestroop te word, maar wiele sak weg en masjiene gly.
Baie boere staan tans voor die harde werklikheid van tydsdruk, graan wat begin ontkiem, en ‘n stroopseisoen wat niks soos die handboeke lyk nie. Dit verg aanpassing, planmaak en soms … net ‘n bietjie geduld met die natuur. Maar ons weet ook: dit is juis in hierdie tye van uiterstes waar die boer se vindingrykheid en deursettingsvermoë skitter. In hierdie uitgawe gee ons erkenning aan daardie gees. Ons voorbladfokus val hierdie maand op Tian Kruger Boerdery in die Groblersdal-omgewing.
Hulle het onlangs hulle graanhantering na ‘n volgende vlak geneem met die oprigting van ‘n indrukwekkende nuwe
silo-aanleg, volledig met ‘n AGI droërstelsel. Hierdie stelsel stel hulle in staat om graan vinniger en meer kostedoeltreffend te hanteer – selfs tydens ongunstige weer. Dit is ‘n voorbeeld van hoe tegnologie en beplanning saamwerk om risiko te verminder en winsgewendheid te verbeter.
Of jy nou droog of deurweek is – ons wens jou toegewydheid en uithouvermoë toe vir die res van die seisoen. Mag jy inspirasie vind in hierdie uitgawe, en mag jy by NAMPO nuwe idees kry wat jou boerdery sterker maak.
ProAgri-groete
Bianca Henning – bianca@proagri.co.za