ProAgri SA 302

Proagri_302_April2025_Cover
Die opwinding vir NAMPO 2025 bou al op – en ek weet ek is nie die enigste een wat met groot afwagting uitsien na die grootste landbouskou in die land nie! Maak gereed om van 13 tot 16 Mei 2025 te NAMPO Park, Bothaville, die lekkerste landbou-ervaring te beleef.
Ons is opgewonde oor die geleentheid – nie net om nuutste tegnologieë te verken nie, maar om saam met ons boere, klante en vennote die liefde vir landbou te deel. Die landboubedryf in Suid-Afrika is deurlopend besig om aan te pas en te groei, veral te midde van uitdagings soos uiterste weerstoestande en die soeke na volhoubaarheid.
Een van die grootste neigings wat ons in die bedryf sien, is die toenemende gebruik van tegnologie om die landbouproduksie ten beste te benut en om ՚n meer volhoubare toekoms te verseker – hetsy dit nou is om jou opbrengs te verhoog met nuwe kultivars en tegnologie of om jou werk met nuwe tegnologie makliker en doeltreffender te maak.
Maar boere kyk nie net na die tegnologie nie – hulle dink deurlopend oor hoe om meer waarde uit hulle produkte te haal. Ons het ՚n opwindende maand agter die rug met ՚n paar lekkerlees artikels; van die bekendstelling van die nuwe, indrukwekkende Case IH Quadtrac Steiger 715-trekker (wat ook vanjaar by NAMPO bekendgestel gaan word) tot die Nasionale Bonsmara SA-veiling waar uitsonderlike pryse vir vroulike diere behaal is. Lees meer oor hierdie geleenthede op ons webwerf.
Ons het ook die eerste Pioneer Agronomiedag vir 2025 op Hannes van der Merwe van Kroonland Agri op die plaas, Harmonie tussen Kroonstad en Vredefort bygewoon, waar die Pioneer-span hulle beweegrede agter die agrnonomiedae gedeel het, en ook nuwe kultivars, tegnologie en proewe aan boere bekendgestel het. Lees meer op bladsy 39.
TLU SA se Jongboerkonferensie het ook weer gewys hoe boere, jonk en oud, saamwerk om ‘n volhoubare toekoms vir die landboubedryf te bou. Dit is ՚n mooi voorbeeld van hoe ons almal in die landboubedryf mekaar kan begeester en help om vorentoe te beweeg. Lees meer oor die Jongboerkonferensie op bladsy 13.
Het jy al ooit gewonder wat die wêreld sonder koeie sal wees? Daar is nuwe opwindende genetiese navorsing wat in die veeboerdery ondersoek word, en ons kon ons hande op die inligting lê, wat ook in hierdie uitgawe bespreek word. Corteva is toegewyd daartoe om deurlopend navorsing te doen en met oplossings na boere te kom, om die uitdagings wat in die gesig gestaar word te verminder en probleme op te los. In hierdie uitgawe deel Corteva
meer oor hulle produk Zorvec® Encantia®, wat beoog om laatroes op aartappels te bekamp.
Lekker lees aan hierdie uitgawe van ProAgri. Ons sien julle by NAMPO!
ProAgri-groete
Bianca henning- bianca@proagri.co.za