Categories: Tydskrif, Tydskrif (RSA)Published On: 7th March 2022

ProAgri SA 265

By 2 min read
335 words

Voorblad_proagri_265_march_2022

Alle paaie lei na …

Die regering wil binne drie jaar die helfte van die sowat 600 000 km grondpaaie in die land plavei. Jy het reg gelees – nie teer nie. Hulle wil plaveiselstene pak sodat hulle werk kan skep.

Dit is aangekondig deur Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur. Die besluit lyk soos ‘n poging om die suksesvolle heropbou van Duitsland dekades gelede na die Eerste Wêreldoorlog na te boots.

Ongelukkig is dit redelik maklik om te voorspel dat die Suid-Afrikaanse poging gaan uitloop op ‘n skandaal, misbruik van geld, gekonkel met kontrakte en waarskynlik hope stene in die veld, net soos daar nou al ‘n paar keer toilette in die veld bly staan het.

Dit sal soveel meer sin maak om eerder die bestaande geteerde padnetwerk van 150 000 km in stand te hou met die R5,3 triljoen wat begroot word. As die klem op werkskepping is, gee dan vir elkeen ‘n pik en ‘n emmertjie teer!

Solank dienslewering in diens bly van politiek kan ‘n mens maar altyd verwag dat selfs die nuut-geplaveide paaie nie na Rome sal lei nie, maar na verval.

Hier is boerderye in die land met groter en meer komplekse begrotings en bestuursvereistes as vele dorpe. Dink net hoe lekker sou die dinge geloop het as hierdie kundige span dienslewering in die land kon bestuur!

Ondertussen moet die meeste boere hard werk om hulle pad te vind tussen die slaggate van stygende koste van brandstof, krag en alle landbou-insette. Dit is gans te duur om foute te bekostig en ProAgri is hier om te help sodat jy ingeligte besluite kan neem.

Ons bring nuus van verskaffers en ook ‘n wye reeks wenke vir boere – van winsgewende skaapboerdery tot die nuutste in landboutegnologie. Wat jy nie in die gedrukte tydskrif sien nie, sal jy op die webwerf vind. Besoek gerus www.proagri.co.za vir meer leesstof of www.agri4all.com vir ‘n eenstop-koop-en-verkoop-diens. 

Lekker boer!

Annemarie Bremner annemarie@proagri.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0