Categories: Tydskrif, Tydskrif (RSA)Published On: 19th May 2020

ProAgri 243

By 2 min read
371 words

proagri_243_mei_2020.indd

Ek haal vandag my hoed af uit respek vir ons boere wat deur hierdie hele tyd voortgegaan het met produksie en maniere gevind het om produkte by die markte en winkels af te lewer. Ek haal my hoed af vir die res van die voedselwaardeketting wat daarin geslaag het om die rakke in die winkels vol kos te hou die afgelope twee maande.

Ek haal my hoed af vir landbouorganisasies en andere wat opstaan en vir die ANC-ministers duidelik laat verstaan dat hulle nie kan voorskryf wie hulp mag ontvang nie. Ek haal my hoed af vir mense wat uit hulle pad gaan om boere te ondersteun deur regstreeks by hulle te koop. Ek haal my hoed af vir groot instansies wat bereid is om mense ’n kans te gee om later paaiemente in te haal, verhuurders wat skade ly omdat huurders nie kan betaal nie en almal wat uitreik om mekaar te ondersteun.

Ek wens ons kon meer doen om ander klein ondernemings te help wat nie hulle deure sal kan oopmaak na hierdie krisistyd nie. Daar is geen politieke wil om diegene te ondersteun wat die ratte van die ekonomie laat draai nie. Van die regering se kant af is daar meer struikelblokke as hulp en ek glo die tyd was nog nooit so ryp soos nou om die kaders na ’n wêreldhof toe te vat vir “Misdaad teen die mensdom” nie.

Om die uitdeel van kospakkies toe te vertrou aan betaalde ampsdraers wat reeds gevang is met gesteelde kospakkies in hulle voertuie, is ’n misdaad. Om mense te keer om sopkombuise in hulle buurte oop te maak of kos by mense in hulle omgewing af te laai, is ’n misdaad. Onthou die bose sal oorwin as goeie mense stilbly. Kom ons vind nog maniere om mekaar te ondersteun. Ons doen wat ons boere die beste doen en dit is om ’n plan te maak!

Die hakke klap miskien nie op Nampopark nie, maar die ProAgri-groep het in April drie-miljoen mense aanlyn en deur ons tydskrifte bereik, en ons adverteerders getuig van baie navrae, belangstelling in hulle produkte en ek glo, ook aankope.

Lees lekker en boer slim!

Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za

0

Deel hierdie artikel.

One Comment

  1. Dionne Snyman 25th May 2020 at 13:55 - Reply

    Baie dankie vir mense soos jy wat nie huiwer om die waarheid te praat nie.
    Ons weet ook al lankal dat daar geen politieke wil in hierdie land nie bestaan nie.
    Ek wonder party keer of dit nie onbevoegheid, selfsustig of laksheid of miskien korupsie die oorsaak van agteruitgaan is nie.
    Ek geniet elke uitgawe van jou tydskrif al boer ek nie meer nie.
    Ek wens jou alle sukses toe.
    Groete,
    Dionne Snyman

Leave A Comment

0