ProAgri 238

voorblad_238
Dit is ’n nasionale ramp. Geen veilings word toegelaat nie as gevolg van bek-en-klouseer. Veilings vorm steeds die ruggraat van ons veeverhandelingsbedryf en die nasionale verbod op vei lings gaan nie net veeboere nie, maar almal wat iets met die vleiswaardeketting te doen het, hard slaan.
Dit sluit verbruikers in. Die uitbreek en verspreiding van beken-klouseer is nie ’n gesondheidsprobleem nie, dit is ’n bestuursprobleem. Die maatreëls wat in Januarie ingestel is, was duidelik nie voldoende nie of nie goed genoeg toegepas nie.
Toe was dit ’n plaaslike probleem, maar nou is dit ’n nasionale probleem. Steeds is daar mense wat die verbod op veilings ignoreer en diere word verskuif. Ek het soveel begrip daarvoor dat mense se bestaan daarvan afhang, maar op die lang duur skiet jy jouself in die voet … en jou buurman … en die hele bedryf. Die bewyse is gelewer dat die verspreiding by veilings begin het.
Die verbod, saam met die droogte, saam met die jongste deurdruk van maatreëls om grond te steel deur die proses van onteiening sonder vergoeding en saam met die wrede plaasmoorde wat nie einde kry nie, is genoeg om ’n mens verslae te laat. Verslae is darem nog nie verslaan nie.
Ek vertrou dat die goeie reën wat wel oor groot dele van die land uitgesak het, help om gemoedere te lig. Hoewel dit nie almal beskore is nie, help dit om die algemene voerreserwes op te bou. Selfs al sou die regering eendag uit die blokke kom met geldelike droogtehulp is dit nie hulle wat die voer plant nie, dit is ander boere. Ons gee spesiale aandag aan wiele in hierdie uitgawe en rits lekker rond in ’n Toyota en ’n paar Fords.
Volgende maand ry ons verder met nog ’n paar, dalk minder bekende, bakkies. Ons het ook toestemming gekry om meer te vertel oor John Deere se nuwe reeks trekkers en ons ry met Scania tot in Klerksdorp.
Dankie aan almal se ondersteuning in ’n baie spesiale jaar vir ProAgri Media. Ons eie produkreeks het so gegroei dat ons nou 250 000 mense in die landboubedryf in vyf lande bereik met ons gedrukte en aanlyntydskrifte. In Januarie het ons nog groot nuus, maar nou gaan ons eers stil raak en saam met ons families die Boodskap van Hoop vier.
Geseënde Kersfees!
Boer slim!
Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za