ProAgri 203 – Januarie 2017

proagri_203_januarie_2017.indd
Daar is al hoe meer bewerings en getuienis dat die verwoestende brande in die Wes-Kaap doelbewus gestig word en dat politiek die dryfveer is. Ek wonder darem tot watter vlak van onnoselheid moet ’n mens daal om te glo dat verkiesingsuitslae gaan verander as niemand meer kos het om te eet nie.
Die aktiviste kan dalk nog hulle maatjies opsweep, maar hulle gaan sukkel om die duisende plaaswerkers wat moontlik hulle werk kan verloor omdat plase tot niet gaan, te oortuig dat sulke optrede tot hulle voordeel is. Boere en die hele landboubedryf sidder nog om te herstel na die versengende droogte (wat steeds op plekke voortduur) en nou is daar nog ’n uitdaging wat klaarblyklik mensgemaak is.
ProAgri is dankbaar dat ons ook weer ’n rol kon speel om ’n landbouskool in die droogtetyd te help. Lees meer daaroor in die artikel oor Hinotrokke. Ons vertrou dat die droogtehulpkraantjies na mens en dier wat dit nodig het, nie sal opdroog nie.
In hierdie uitgawe val die klem op besproeiing en dit laat ’n mens maar net weer besef hoe afhanklik ons van water is en hoe belangrik dit is om ons waterbronne met oorleg te gebruik. Ons het ook ’n hele paar voermaakartikels. Die noodsaak om voer te bêre vir die maer jare is baie hard tuisgebring die afgelope paar jaar.
Mag 2017 vol vreugde en voorspoed wees en kyk tog uit vir die ProAgri Pat Hinde Toyota Hilux waarmee ons redaksionele span van nou af gaan ry. Ons sien uit na die jaar se rygenot!
Boer slim!
Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za
Laai ProAgri 203 hier af: proagri_203_januarie_2017_web