President Donald Trump se steun vir Suid-Afrika se boere verwelkom

skynews-donald-trump-us_6821783
Vrystaat Landbou verwelkom die steun wat president Trump vandeesweek aan die landbousektor toegesê het. Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, is dit vir die organisasie bemoedigend dat die Amerikaanse regering ag geslaan het op die pleidooi van Suid-Afrikaanse boere en erken het dat landbouers se veiligheid en eiendomsreg deur die ANC-geleide regering bedreig word.
Die bewering dat president Trump en sekretaris Rubio “vandeesweek valslik beweer het dat die owerhede in Suid-Afrika besig is om private eiendom te konfiskeer”, is self verkeerd. Die konfiskering van eiendom mag eindig in die werklike onteiening van grond, maar die proses begin reeds met beleid en wetgewing wat gevestigde eiendomsregte ondermyn of verswak.
Die feit is dat Suid-Afrika se nuwe Onteieningswet staatsliggame in staat stel om grond en ander bates te onteien sonder om markverwante vergoeding te betaal. Die terminologie wat mnr. Trump en mnr. Rubio gebruik het, is dus akkuraat, selfs al is spesifieke stukke grond in Suid-Afrika nog nie onteien nie.
“Vrystaat Landbou, as ʼn landbou-organisasie, staan gereed om enige hulp en ondersteuning vir die landbousektor en ons boere te aanvaar. Veral wanneer die hulp van die VSA en president Donald Trump aangebied word, moet ons dit met ope arms ontvang. Verder is ons ook bereid om plaaslik saam te werk met enige persoon of organisasie wat kan help om boere se veiligheid, eiendomsreg en toekoms te verseker,” het Wilken gesê.
President Trump se aankondiging dat boere en Afrikaners voorts vlugtelingstatus in die VSA sal geniet, dien as ʼn wekroep vir die regering, landbou-organisasies en alle gemeenskappe in Suid-Afrika.
Plaasmoorde en plaasveiligheid is al vir langer as 30 jaar ʼn realiteit, en geen van ons pogings om die ANC regering tot aksie aan te spoor, het blywende resultate opgelewer nie. Ons staan weerloos teen die misdadigers wat vir dekades ons vee steel en groot dele van ons oeste plunder, terwyl die polisie nie in staat is om ons te help nie.
Boere is reeds vir 30 jaar die teiken van radikale linkse politici wat met haatspraak hul ondersteuners teen boere en die landbousektor probeer mobiliseer het.
Vir 30 jaar is hierdie probleme ontken, weggepraat en geïgnoreer deur ʼn politieke elite wat ons land kaal gestroop en ons platteland versaak het. Nou word nie net ons besittings nie, maar ook ons ekonomiese voortbestaan bedreig deur die nuwe Onteieningswet.
Al is grond nog nie deur die staat gekonfiskeer nie, stel die Onteieningswet die regering in staat om enige eiendom – grond, geld, huise, motors en meer – af te neem. Daarom is die regering se belofte dat bates nie gekonfiskeer sal word nie, eenvoudig ongeloofwaardig.
Vrystaat Landbou staan gereed en wag af om te sien hoe Suid-Afrika se boere en die VSA ʼn opbouende pad saam kan stap om ons eie, en Suid Afrika, se toekoms te verseker.
Bron: Vrystaat Landbou