Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 19th May 2026

PRAKTIESE ASPEKTE VAN BIOLOGIESE INSEKTEBESTUUR IN MAKADAMIABOORDE IN LIMPOPO

By 7 min read
1277 words

Schalk_foto 6

Dr. Schalk Schoeman, ook bekend as Suid-Afrika se “goggameester” vanweë sy uitgebreide kennis oor die bekamping van skadelike “goggas”, veral in koffie- en makadamiaboorde, het dekades se ervaring in hierdie veld.

“Ek het op ’n tabakplaas grootgeword en wou graag weer terug landbou toe. Ná my diensplig kon ek kies om vir die destydse Transvaal-huis in Pretoria op termiete te werk of om ’n projek in die Laeveld op koffie te doen. Ek het koffie gekies en die res is geskiedenis,” sê Schalk.

“Baie van die destydse koffieboere het oorgeskakel na makadamias en avokado’s en ek werk tans nou saam met hierdie mense om geïntegreerde plaagbestryding (IPM)-sisteme vir die gewasse te ontwikkel.

Toe die makadamia-viltluis (Erriococcus ironsidei) vir die eerste keer in 2017 in makadamiaboorde waargeneem is, het dit baie min natuurlike vyande gehad. Omdat chemiese plaagbestryders die wind van voor kry, sê Schalk biologiese insektebeheer is die beste opsie om hierdie skadelike insekte te bekamp. Insekte soos liewenheersbesies (Rhyzobious lophantae) en roofkewers (Cybocephalus binotatus) het aangepas by die omstandighede in die Laeveld en kom nou voor in makadamiaboorde as natuurlike vyande van die viltluis. Die Landbounavorsingsraad (LNR) evalueer tans of die parasitoïed (perdeby) (Metahpycus macadamiae) vrygestel moet word om ook dié dopluis te bestry. “Minder strawwe en meer gefokusde metodes vir die beheer van hierdie insekte is dus die sleutel tot doeltreffende beheer,” sê Schalk.

Volgens hom is stinkbesies “gewis die grootste probleem onder die boere hier by ons maar ook elders in die wêreld”. Hy sê boere het nie baie keuses gehad betreffende beheer nie en het gevolglik breëspektruminsekdoders gebruik. Die algemene gebruik van die produkte het sekondêre probleme veroorsaak wat op sy beurt weer chemiese ingrypings benodig het.

“Gelukkig is daar nou verskeie maatskappye wat biologiese produkte verskaf en is die opleiding van die boere asook die toets van produksiesisteme van kardinale belang. Daar is reeds heelwat suksesresepte maar daar is ook slaggate
as die produkte nie reg gebruik word nie. Opleiding en demonstrasieproewe is dus van uiterste belang.”

Dr. Schalk Schoeman, een van Suid-Afrika se voorste kenners wat betref
skadelike insekte in makadamiaboorde in die Laeveld en Limpopo – en hul bekamping om grootskaalse verliese te voorkom.

Tipes biologiese beheer

• Klassieke: Metaphycus macadamiae word gewoonlik een maal vrygestel en is baie effektief teen viltluise.
• Aanvullende beheer: Parasitiese perdebye (Trichogrammatoidea cryptophlebiae), parasitoïede van die makadamianeutboorder asook die valskodlingmot (VKM) (Trissolcus basalis) en ander parasitoïede (perdebye) (Telenomus sp.) is ook baie effektief teen stinkbesies. Vir meer doeltreffende resultate word hul natuurlike populasiesyfers aangevul.

Bewaring van predatoor-insekte

• Gebruik minder skadelike chemikalieë
• Verbeter natuurlike plantweerstand deur middel van verskeie grondverbetaars en optimale boerderypraktyke
• Boordvloerbestuur

Biologiese plaagbeheer van stinkbesies

Eierparasitoïede soos groenstinkbesie parasitoïede is algemeen beskikbaar.

• Neemolie, ’n natuurlike insekbestryder afkomstig van die saadpitte van die Neem-boom, en Beauveria bassiana, ’n swam wat natuurlik in die grond voorkom.
• Metharhizium anisopliae, ’n fungus wat natuurlik in die grond voorkom, veroorsaak siektes in skadelike insekte omdat dit soos ’n parasitoïed optree. Dit het goeie resultate gelewer met die bestryding van die rooibesie in appel- en peerboorde. Tydens feromoonproewe in avakado’s het ’n blou kleur aansienlik meer stinkbesies gelok as enige ander kleur.
• Gereelde snoei is baie belangrik.
• Pas deeglik boordvloerbestuur toe vanaf blom tot Desember.

’n Beduidende viltluis-infestasie op makadamianeute.

Opsies vir neutboorders

• Aanvullende vrylatings van VKM en makadamia neutboorder (MNB)-eierparasitoïede (Trichogrammatoidea cryptophlebiae)
• Grondbehandelings van entomopatogeniese nematodes en fungi.
• Chemiese beheer moet geïntegreer word by die vrystelling van voordelige insekte – tydsberekening is baie belangrik
• Feromone ontwrig paring

Belangrike gehalte-sertifikasie

Toets die eierkaarte van Trichogrammatoidea cryptophlebiae, ’n eierparasitoïed van VKM wanneer jy dit ontvang en teken die volgende aan:

• Vooraf uitbroeiing
• Getal geparasiteerde eiers

Onthou dat een geparasiteerde eier tot drie parasitoïede kan lewer wanneer jy jou tellings doen. Toets die eierkaarte ongeveer twee weke ná plasing om die uitbroeipersentasie (of uitbroeikoers) te bepaal. Gebruik ’n sterk handlens of ’n mikroskoop vir hierdie proses.

Opsies vir makadamia-viltluis

• Liewenheersbesies, wat viltluise baie suksesvol bekamp, is aanvanklik in lae getalle op die doppe van dié luise waargeneem.
• Dit blyk dat liewenheersbesies as predatore nou by die gasheer aangepas het.
• Witluis-liewenheersbesies (Cryptolaemus montrouzieri) is in hokke getoets maar hulle het nie in die veld gevestig nie.
• Die LNR het roofkewers eers vrygelaat vir die bekamping van mango-luise. Hierdie insek is baie suksesvol teen alle luise en ten spyte van sy klein grootte, kom hy in groot getalle voor.
• Groot getalle roofkewers kom in die Barberton-vallei voor.

Wat om nou te doen

• Aanvullende vrylating van liewenheersbesies.
• Liewenheersbesies is baie kwesbaar vir insekgroeireguleerders (IGR’s). Volg dus ’n bewaringsbenadering.
• Baie boere gebruik Thiamethoxam.

Hierdie produk, wat nie vir dopluise geregistreer is nie, bekamp stinkbesies. Dit verskaf tydelike verligting maar gebruik oor ’n wye area sal weerstand daarteen vergroot, veral as dit elke seisoen aangewend word. Aangesien hierdie produk ook bye affekteer, moet die gebruiksaanwysings deeglik gevolg en ’n bewaringsbenadering gevolg word.

Opsies vir blaaspootjies (thrip)

• Feromone sal kommersieel beskikbaar wees
• Patogene kan aangewend word maar is nog nie geregistreer nie
• Bewaringslandbou

1. Boordvloerbestuur
2. Plaagdoder-seleksie (blaaspootjies is primêre peste, maar hul impak kan beduidend vererger as gevolg van die
gebruik van breëspektrumprodukte)
• Vrystellings van predatore soos myte (Amblyseius swirskii)

Riglyne vir aanvullende vrystelling van parasitoïede

• Vir maksimum doeltreffendheid is die tyd wanneer die parasitoïede vrygestel word baie belankrik. Twee ure voor sonsondergang is die ideale tyd en vrystelling in die oggend is naasbeste.
• Hulle kan ook vrygestel word wanneer die temperatuur tussen 22 °C en 29 °C is, maar vestigingskoerse kan laer wees as gevolg van hoë verspreidingskoerse.
• Hulle moenie vrygestel word wanneer dit warmer as 29 °C nie.
• Vrylating in temperature onder 13 °C lei tot swak vestigingskoerse, dus is die ideale temperatuur vir vrylating tussen 13 °C en 21 °C.
• Vrylating van insekte in die middaghitte kan vestiging tot met 60% verminder.

Riglyne vir die vrystelling van aanvullende parasitoïede

• Relatiewe humiditeit (RH) van 40% tot 70% is ideaal vir vrystelling.
• Insekte moet vrygestel word voordat ’n hoogtepunt in die populasie van die pessyfers bereik word.
• Die windspoed moet minder as 8 km/h wees.
• Moenie insekte vrystel wanneer oormatige reën voorspel word nie.

Tweekol-stinkbesies – waarde van biologiese beheer

Die volgende aannames is gemaak:

• Net een manlike en een vroulike stinkbesie begin die voortplantingsiklus aan die begin van die seisoen.
• Geslagsverhouding: 66% vroulike en 33% manlike besies.
• Vroulike besies het 15 eierpakkies wat elk 14 eiertjies bevat.
• Daar is geen natuurlike sterfte nie.
• In die derde generasie van hul voortplantingsiklus kan hulle in skrikwekkende getalle in makadamiaboorde voorkom.

Die dramatiese voortplantingsiklus van stinkbesies wat nie beheer word nie, word duidelik hieronder uiteengesit: Hierdie getalle kom nie natuurlik in die natuur voor nie omdat biologiese organismes die besiegetalle beperk. Boere moet derhalwe kennis neem van die waarde van biologiese beheer.

Ten spyte van die magdom probleme wat landbouers moet oorkom, staan plaaslike boere se uithouvermoë en vindingrykheid uit vir Schalk. “Ek dink ons het van die beste boere op die planeet. Klimaatsverandering, asook verskeie uitdagings in terme van navorsing en ontwikkeling, maak die lewe vir die ouens moeilik maar nogtans doen hulle goed.” Schalk sluit af op ’n meer persoonlike noot, wat sy nederigheid sowel as sy diep geloof beklemtoon.

“Tans bestuur ek my eie maatskappy wat hoofsaaklik geïntegreerde plaagbestuur in Suidelike Afrika hanteer. Ek is twee jaar aan die gang en dit is by verre die grootste avontuur nog. Ek het die voorreg om baie mooi plekke in Afrika te sien en baie interesante mense te ontmoet. Ek sê my Skepper elke dag dankie vir hierdie voorreg en om dit met twee van my oud-kollegas by Samac te kan deel.”

Vir meer inligting oor biologiese insektebeheer in makadamiaboorde, stuur ’n e-pos aan dr. Schalk Schoeman by goggameester@gmail.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0