Plant vir Afrika met Great Plains
In Suid-Afrika plant boere drievoetrye en hulle soek masjiene wat dit kan doen, want om alles te verander, kos te veel geld.
Die twee 16-ry Great Plains-planters met die modelbeskrywing, Yield Pro 1625A – 1636, wat op Gert du Preez se Langspruit Landgoed naby Standerton loop, was ’n eerste vir die Amerikaanse vervaardiger, maar beslis nie ’n laaste nie.
Die Yield Pro 1625A – 1636 se arms vou netjies vorentoe om rywerk deur plaashekke moontlik te maak
Die 36 in die modelnommer beteken dat Gert-hulle nou ’n wyeraamplanter het wat 91 cm uitmekaar kan plant, in plaas van die Amerikaners se gewone 76 cm. Dit is maar een voorbeeld van die vlak van dienslewering wat Gert oortuig het om die Great Plains-pad saam met sy plaaslike Agri Afrikahandelaar, Winston Ritchie, te loop. Die masjiene is ook wel beskikbaar in 12 en 16 rye wat gespasieer is op 76 cm. Gert sê: “Dit gaan in die eerste plek oor naverkopediens en dan oor die masjien.”
Met albei is hy hoogs tevrede, veral ook na sy besoek aan die Great Plainsfabriek in Kansas. “Jy kan sien elkeen daar weet presies wat hy moet doen, die vakmanskap en die materiaal wat hulle gebruik is net die beste.” Die planter self het ’n omwen teling op die plaas veroorsaak. Die dieselrekening is die helfte minder en al die soja, sorghum en kuilvoermielies op die uitgebreide saaiplaas is aansienlik vinniger met heelwat minder arbeid geplant as vroeër.
Pierre Terblanche, operasionele bestuurder van die boerdery, sê hulle mikpunt was om 20 hektaar op ’n slag te plant voor daar weer volgemaak moet word en dit is presies wat hulle nou regkry. Die planter is toegerus met twee bykomende tenks saam die massakunsmistenk van 3 000 liter vir nog vloeibare kunsmis en entstof vir plantvoorbespuiting.
Great Plains-modelle is beskikbaar vir korrel- of vloeibare kunsmis. Die plantwerk word fyn beplan sodat alles gelyk hervul kan word en die mengwa en saad staan gereed op die regte plek langs die land sodat daar geen tyd gemors hoef te word nie. Waar daar vroeër in planttyd sestien trekkers op en om die lande geloop het, word daar nou net agt trekkers gebruik.
Gert du Preez en sy operasionele bestuurder, Pierre Terblanche, sê die twee 16-ry Great Plains-planters het ’n ommekeer op die plaas veroorsaak en hulle brandstofrekening met die helfte verminder.
Pierre sê daar is ’n hele lys voordele aan die spesiale Yield Pro-planters, maar hy hou die heel meeste daarvan dat die uitmeeteenhede met positiewe druk werk en nie ’n vakuum nie. Hy sê as daar iets fout gaan soos ’n pypie wat bars, is daar genoeg lugdruk om voort te gaan met saadplasing en alles gaan staan nie dadelik nie. Daarmee saam vind hy dat die diepteplasing en spasiëring uiters akkuraat is en die saadvastrapper werk baie goed.
Die laers is verseël en hulle het deur die hele plantseisoen nie nodig gehad om enige laers te vervang nie. Die planter verg die minimum onderhoud; dit word net so twee keer per week geghries. “Die wye raam maak ons plantwerk baie vinniger, maar vra minder trekkerkrag as wat ’n mens sou verwag. Ons gebruik ’n trekker van 160 kW. Daarby vou die planter toe tot ’’n wydte van 4 m, wat baie belangrik is, want ons moet deur hekke tussen lande beweeg,” sê hy.
In hierdie stadium gebruik hulle kontakdryfwiele vir die saad- en kunsmisaandrywing, maar hulle wil graag oorslaan na ’n hidrouliese stelsel. Hy sê die kalibrering is eenvoudig, maar jy het gereedskap nodig om die verstellings te doen. ’n Groot pluspunt is dat dit baie eenvoudig is om van die karretjies te ontkoppel sodat daar minder rye geplant word, byvoorbeeld op die kant van die land. Die planter kan ook met ’n Swath-stelsel toegerus word om volledige outomatiese seksiebeheer moontlik te maak. Die Yield Pro pas reeds uitstekend in by hulle bestaande RTK-presisiestelsel en volg netjies in die trekker se Auto Steer-spoor.
Gert-hulle het ook belê in ’n Turbo-till/max van Great Plains. Die vertikale bewerker gaan nou na strooptyd en wanneer die beeste klaar die reste bewei het, deurgestuur word om die stoppels te sny sodat die organiese materiaal kan afbreek voor die volgende plantseisoen. Net die lande wat kalk moet kry gaan dieper bewerk word.
Pierre sê: “Ek is tot dusver baie tevrede met ons opbrengs, veral as jy in ag neem dat dit ’n moeilike plantseisoen was met eers droogte en toe te veel reën op tye.”
Vir nog AgriAfrika-oplossings, skakel Marius Tolmay by 083-581-5709, 012-541-1121 of e-pos marius@agriafrika.co.za. Boere in die Standerton-omgewing kan vir Winston Ritchie skakel by 082-551-9565.