Plaasaanval op Heilbron afgeweer
’n Plaaswerker en boere van die Heilbron-distrik het ’n winkeleienaar, Kerry Moody, op die plaas Vyandsvlei te hulp gesnel om ’n moontlike plaasaanval af te weer. Volgens inligting aan die VKB/VL Veiligheidslessenaar gerapporteer, het die werker op pad werk toe vreemde mans rondom sy werkgewer se huis gewaar. Hy het Kerry geskakel en gewaarsku om nie sy huis te verlaat nie, en het daarna na die buurman gehardloop om bewus te maak.
Die distrik se noodplan is geaktiveer, en boere het na die toneel beweeg. Drie verdagtes is aangekeer, en twee het op die vlug geslaan. Die verdagtes het glo die huis ’n tyd lank dopgehou asook in die veld geskuil om die egpaar se bewegings dop te hou.
Vyf boere het die verdagtes aangehou tot die Polisie op die toneel aangekom het. Toue en bruin kleefband is onder andere op die toneel gevind. Dit is die tweede keer wat ’n moontlike aanval op Vyandsvlei afgeweer is met behulp van die plaaslike veiligheidstruktuur. Tydens die vorige voorval in April die jaar, is een verdagte aangekeer. Dit is die derde aanval op Kerry. Tydens die eerste voorval is hy aangeval, en is die veiligheidsplan ook geaktiveer. Die verdagtes in dié verband is ook deur die boere aangekeer, en is tans in die tronk.
Die boere op die toneel was almal dankbaar dat hulle Kerry en sy vrou te hulp kon snel en moontlike erge beserings of selfs dood kon help voorkom.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se Wet en Orde Komitee, sê hierdie optrede is ’n duidelike boodskap aan misdadigers dat boere binne die Landelike Beveiligingsplan baie nou met die Polisie sal saamwerk om hulle gemeenskappe te help veilig hou. “Ons wil misdade voorkom en misdadigers aankeer om ons landelike gebiede veiliger te maak. Ons is baie dankbaar vir almal se samewerking in dié verband, asook vir al die boere wat op die noodkreet gereageer het.”
Volgens die lessenaar se statistiek, is hierdie die 15 de plaasaanval wat die jaar in die provinsie voorkom is.
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar