Pioneer vier 100 JAAR met Agronomie-toer

20260324_090818
Elke jaar bied Pioneer hul Agronomie dae aan. Hierdie dae gee boere in verskillende areas die geleentheid om eerstehands te sien wat Pioneer se saadgenetika vir hulle kan beteken.
Hierdie jaar was egter ekstra spesiaal: dié wêreldbekende saadmaatskappy het hul 100ste bestaanjaar herdenk. Om
hierdie mylpaal te vier, het hulle nie een nie, nie twee nie, maar vier Agronomiedae aangebied tydens hul Agronomietoer. Die toer het in Sannieshof begin, en oorgegaan na Hoopstad en Harrismith, en geëindig in Bethal. Behalwe vir die saamkuier en die mooi lande, het boere ook die geleentheid gekry om met Corteva se globale vise-president van mielies, Casey Onstot, te gesels oor wat voorlê vir Pioneer – en om idees uit te ruil.
Hierdie vier areas lê soms gemiddeld net 100 km van mekaar af, maar die grond en groeitoestande verskil drasties. Daarom het elke Agronomie-dag op die behoeftes van daardie spesifieke area gefokus. Op die laaste dag was daar ook ’n paneelbespreking met die nasionale en internasionale bestuur van Pioneer en Corteva.
Waar het dit alles begin?
’n 100 jaar gelede is die Pioneerhandelsmerk deur Henry Wallace gestig. Henry het die heel eerste bastergewasse ontwikkel, en mielie-gewasse was een van die eerste tipes wat hy ontwikkel het. Casey vertel dat Pioneer oor die
afgelope 100 jaar hul kiemplasma bevorder het en op daardie gewasse en tegnologieë gebou het tot waar hulle vandag is – met byna sewe keer die opbrengsverbetering van mielies in vergelyking met ’n eeu gelede.
Maak ’n draai in Sannieshof
Die heel eerste dag is op Lourens van Wyk se plaas, Verdiend in Sannieshof, aangebied. Hier vertel Dirk van Niekerk, die verkoopsagent vir die area, dat Pioneer al ’n paar jaar saam met Lourens werk. “Lourens is ’n baie lojale kliënt wat glo in ons kultivars en ons aanbevelings. Hy hou daarvan om proewe te plant en te sien hoe ons kultivars onder sy bestuurstyl uitblink in opbrengs en produktiwiteit,” sê Dirk.
Hy glo dat vertroue een van die belangrikste faktore tussen Pioneer se agente en kliënte is. Daarom gaan Pioneer uit hul pad om die regte aanbevelings te maak en proewe te plant by boere, sodat kliënte self die data onder oë kan kry.
Charl de Wet, Pioneer-agent in Lichtenburg en Coligny, het verduidelik dat boere in die area opsoek is na ’n sterk, meerkoppige witmieliekultivar wat op laer stande kan groei.
“Van ons grootste uitdagings is droogte, en as dit hierdie jaar nie vir die ondergrondse vog was nie, het ons in ses weke amper net 19 mm se reën gehad. In die area werk P2565 reeds baie goed vir ’n geruime tyd, maar ons het ook nou die P2565 PowerCore™ ingebring en hy het die markleier geword. Dit is nie altyd so ’n hoë mielie nie, maar sy pitte se skepel is baie goed,” vertel Charl.
Vir Nelis Potgieter, Pioneer se areabestuurder in Noordwes, was dit lekker om so baie boere van die area by hul Agronomie-dag te sien. “Die dae is vir ons baie belangrik. Ons toets baie van die kultivars – dié wat reeds op die mark is en dié wat nog kom. Pioneer bly aan die voorpunt met navorsing, en die proewe speel ’n groot rol daarin,” sê Nelis. Hy noem ook dat tegnologie soos G-Link boere help om deur middel van NDV-beelde en weerpatrone presies te weet waar en hoeveel produkte hulle moet neersit en hoeveel jou stand moet wees om sodoende jou oes te verbeter.
P28022WPW – die nuwe mededinger op die mark
P28022WPW is ’n nuwe witbastermieliekultivar wat Pioneer onlangs bekend gestel het. Hennie du Plooy, areabestuurder vir die Wes- en Noord-Vrystaat, vertel dat hierdie kultivar hulle besonders opgewonde maak en dat hulle aanvanklik gedink het hulle gaan net ’n paar sakkies van die saad verkoop, maar dat hulle bykans uitverkoop is. “Hy werk veral mooi in ons area omdat hy sterk meerkoppig is en nie te dig geplant hoef te word nie. Dit het uitstekende graankwaliteit,” voeg Hennie by.
’n Nat dag in Hoopstad
Op dag twee van die Agronomie-toer het die hemel oopgemaak, maar darem was daar koffie en pannekoek en planne
gemaak sodat die boere die pragtige lande van Chris Schoonwinkel en sy seun William se plaas, De Rots Boerdery Morningtide Investments, kon sien. Die Pioneer-areabestuurder vir die Wes- en Noord-Vrystaat, asook ’n gedeelte van Noordwes, Hennie du Plooy, vertel dat die boere in hul area in ’n unieke landbou-omgewing boer.
“Hier is nie veel uitdagings nie; dit is van die beste landbougronde in die land. Ons noem dit die diep watertafelgronde. Die enigste uitdaging kan wees as ons te veel reën kry en die grondprofiel vinnig vol raak,” verduidelik hy.
Omdat hierdie witmieliewêreld is, vertel Hennie dit is vir hom lekker om te kan sê dat Pioneer ’n volledige witmieliepakket aanbied wat aan die area se boere se behoeftes kan voldoen. Braam Strauss, Pioneer se agent in die Wesselsbron-area, het vertel dat hulle graag soveel moontlik van Pioneer se produkte ten toon wou stel met die proewe wat hulle geplant het. In hierdie area, vertel Braam, is P2565WPW nog altyd ’n staatmaker, maar hulle is opgewonde om te sien hoe P28022WPW gaan vaar.
“Behalwe vir die sonneblomme wat ’n kwaai reënbui van 80 mm gehad het nadat dit geplant is, het ons met hierdie proewe die witmielies teen die boer se normale stand van 27 000 geplant en dit ook opgevat na 56 000. Ons het ook
met bemesting rondgespeel om te kyk watter effek dit het. “Die groot toets kom maar altyd in die stroop, maar ons kyk met goeie hoop uit na die oesproses. Dit is die harde werk van Chris en William wat hierdie proewe so suksesvol gemaak het,” sê Braam.
William boer saam met sy pa en is nou die derde generasie op die familieplaas wat teen die Vaalrivier grens. Hier boer hulle met mielies, sonneblom, sojabone en koring. Hoewel William nou maar eers vyf jaar permanent boer, vertel hy dat hulle al die afgelope vier jaar proewe vir Pioneer plant.
“Dit is nogal lekker om die pad saam met Pioneer te stap en die groei te sien wat besig is om plaas te vind. Hoe
verder ons gaan, hoe meer raak ons opgewonde om te sien wat Pioneer doen.
“Ek voel goed oor die proewe, hoewel die boeredagperseel bietjie houe gevat het met 100 mm-buie, is hierdie ’n bogemiddelde hoëpotensiaal-jaar en ons is baie tevrede,” vertel William opgewonde.
Wat lê vir Pioneer voor?
Pioneer en Corteva belê elke jaar $4 miljoen in navorsing en ontwikkeling, vertel Casey Onstot, Corteva se globale vise-president van mielies. “Ons dink nie net aan vandag nie, maar ook aan die probleme wat boere in die toekoms in die gesig kan staar. Ons fokus op insekbeheer, en ons glo steeds dat 20 tot 40% van die wêreld se oesopbrengs aan insekte verlore gaan. “Ons fokus op onkruidbeheer wat ons deur middel van onkruiddoder-tolerante stelsels kan bestuur. Ons fokus ook op plantsiektes en hoe hulle bestuur word, en dan ook op brandstofverbruik, marktoegang en soveel meer,” sê Casey.
Vir hom is die toekoms van saadtegnologie by Pioneer ’n onbenutte goudmyn wat alles by kiemplasma begin. Volgens Casey is daar nog honderde duisende kiemplasma-kombinasies om ontdek te word, en hy vertel dat
Pioneer een van die grootste wêreldwye kiemplasma-poele vir mielies het. “En dan voeg ons tegnologie daarby om soveel as moontlik opbrengs van daardie kiemplasma te probeer vasvang. Ons het vandag wonderlike handelstegnologie, soos PowerCore™, maar soos ons aanhou vorentoe beweeg, het ons die volgende generasie handelstegnologie wat nuwe insekeienskappe het om boere nuwe werkingsmeganismes te gee om daardie onkruid te beheer.”
Pioneer vat dit selfs ’n stap verder deur ergonomiese eienskappe soos opbrengs en opbrengsstabiliteit by te voeg om daardie plant meer krag vroeër te gee en die opbrengs te verhoog. Hierdie toer was vir Casey die gulde geleentheid om met boere te gesels oor hul uitdagings en drome vir die toekoms van landbou in Suid Afrika.
“Landbou in Suid-Afrika is pragtig, dit is ’n pragtige land met wonderlike hulpbronne en wonderlike boerderygeleenthede,” sê Casey.





