Pioneer teel nog ‘n voorloper: P1225PW vind staanplek onder vol besproeiing in die meer gematigde oostelike deel van die Oranjerivier-besproeiingsgebied

P1225PW onder volbesproeiing Upscaled Expanded
Foto 1: P1225PW onder vol besproeiing in die Oranjerivier besproeiingsgebied met goeie blaargesondheid.
Die baster P1225PW is in die 2023- 24 seisoen vir die eerste keer in strookproewe in die Noord-Kaap besproeiingsgebied aangeplant, en het in ‘n vroeë proef in die Luckhoffgebied goed presteer teen bewese besproeiingsbasters. Die kultivar is aanvanklik ontwikkel vir droëland in die oostelike produksiegebiede, maar word ook meer wes aangewend; asook in proewe getoets vir aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal onder vol besproeiing.
Die basisgenetika word reeds vir die afgelope drie seisoene aangeplant en toon goeie aanpasbaarheid in die koeler gedeeltes van die westelike besproeiingsgebied. Die PowerCoreTM weergawe maak die platform volledig en bied weerstand teen veral Busseola usca en Chilo partellus, asook die gerief van Roundup Ready®-toediening aan boere. Figuur 1 toon die opbrengste aan wat behaal is met ‘n plantdatum van 4 Oktober 2023.
Behandelings
Die proef is bemes teen 333 kg stikstof (N), 65 kg fosfor (P) en 113 kg kalium (K). Die plantestand was 95 000 pitte/ha en volbesproeiing is toegepas. Die stroopdatum was 7 Maart 2024.

Foto 2: Graan van P1225PW.
Belangrike agronomiese eienskappe
• Opbrengspotensiaal en graangehalte:
Die kultivar toon uitstekende opbrengspotensiaal met baie goeie graangehalte soos Foto 2 aantoon, en pak 18 tot 20 rye pitte op die stronk, wat die goeie opbrengs tot gevolg het. Goeie skepelmassa van die pitte dra ook by tot opbrengs.

Foto 3: Nekrotiese Noordelike -blaarskroeiletsel op P1225 -blaar wat weerstand teen die siekte demonstreer.
• Kophoogte tot plantgrootteverhouding:
Die koppe word onder besproeiing op ± 48% van plantgrootte gedra. Dit maak die kultivar heeltemal aanvaarbaar vir besproeiing. Plante wat te hoog dra (bo 50% van plantgrootte) onder besproeiing kan omvalrisiko vergroot. Die plantgrootte van 2,44m is aanvaarbaar vir besproeiing. Hoe later die plantdatum aangeskuif word, hoe hoër sal die koppe gewoonlik gedra word, maar met normale plantdatums in die eerste helfte van Desember, vergelyk die kultivar goed met gevestigde besproeiingsbasters.
• Staanvermoë:
P1225 en P1225PW toon goeie staanvermoë op droëland en onder besproeiing omdat die koppe relatief laag op die plant gedra word.
• Blaarsiekteweerstand:
P1225 besit die Ht-N geen wat verantwoordelik is vir goeie blaarsiekteweerstand (Foto 3). Hier kan gesien word hoe die plantweerstand veroorsaak dat ‘n geel afsnylaag om die Noordelike-blaarskroeiletsel vorm en dit isoleer sodat dit nie verder versprei nie. Die besmette plantweefsel binne sterf wel af, maar die siekteverspreiding word beperk.

Figuur 1: Luckhoff-proefopbrengste (t/ha) aan die basis van die histogram met die vogpersentasie (%) tydens stroop bo.
Kontak gerus die Pioneerlandboukundige in u gebied vir kundige advies en aanbevelings.