Palmer amaranth en weerstand: ‘n bose kombinasie wat gebreek kán word

Palmer amaranth 4 – Resize
Palmer amaranth is tweeslagtig en het dus aparte manlike en vroulike plante, asook kenmerkende lang bloeihalms.
‘n Amerikaanse variant van die bekende misbredie kan plaaslike voedselproduksie geweldig benadeel. Ingrid Boshoff, tegniese onkruiddoderkenner by Syngenta Suid-Afrika, verduidelik egter hoe hierdie onkruid met vroeë, vinnige en effektiewe optrede suksesvol beheer en uitgeroei kan word.
Palmer amaranth is ‘n onkruid wat saaiboere hoofbrekens besorg omdat sy biologie en weerstand teen onkruiddoders beheer uiters moeilik maak. Met die verskyning van Amaranthus palmeri, wat die eerste keer in 2018 in Suid-Afrika geïdentifiseer is, moet alles moontlik gedoen word om die voortgesette en winsgewende produksie van breëblaargewasse soos sonneblom, aartappels, sojabone, droëbone, grondbone, katoen en lusern te verseker. Alhoewel misbredie die moeilikste beheerbaar is in breëblaargewasse, kan dit net so ‘n groot probleem in ander rygewasse, mielies ingesluit, word.
- ‘n Kenmerkende eienskap van Palmer amaranth is dat die blaarsteeltjie langer as die blaarskyf is. Om seker te maak, vou die blaarskyf oor die blaarsteel (foto regs).
Amaranthus palmeri is ‘n aggressiewe kompeteerder wat vinnig groei en hoogs effektief voortplant. Die onkruid is tweeslagtig, met aparte manlike en vroulike plante. Onder gunstige groeitoestande is ‘n groeitempo van tot 6 cm per dag moontlik en kan ‘n enkele vroulike plant tot 600 000 piepklein saadjies wat maklik versprei, produseer. Die onkruid kan ook vegetatief voortplant deur hergroei uit stamme wat in lande agterbly.

Ten spyte daarvan dat hierdie sojaboonland met glifosaat gespuit is, het Palmer amaranth steeds gevestig.
Afgesien van die feit dat Amaranthus palmeri soos die spreekwoordelike onkruid vermenigvuldig en versprei, lê die groot gevaar daarin dat hierdie misbredie bewese weerstand teen meer onkruiddoders het as enige ander onkruid. Dit beteken dat daar beperkte chemiese opsies is om hierdie vernietigende onkruid mee te beveg.
Weerstand is die inherente vermoë van ‘n plant om te oorleef en voort te plant nadat dit blootgestel is aan ‘n onkruiddoderdosis wat gewoonlik dodelik sal wees. Elke onkruidpopulasie het sulke individue; die doelwit is om te keer dat hulle die oorhand kry. Dit word hoofsaaklik bereik deur korrekte toedieningspraktyke wat bewerking, weerstoestande en die regte produk op die regte tyd teen die regte onkruid insluit. Oneffektiewe toediening is olie op die vuur van plante se natuurlike weerstand.
Amaranthus palmeri se weerstand teen nege van die 17 chemieklasse is alreeds wêreldwyd bevestig. In Suid-Afrika is weerstand teen groepe 2 en 9 reeds aangemeld, asook verlaagde effektiwiteit van ‘n handvol ander aktiewe bestanddele. In die plaaslike konteks is glifosaatweerstandigheid die grootste bekommernis. Maar dit beteken nié dat produsente hulpeloos is nie.
‘n Holistiese en geïntegreerde benadering is die antwoord. Só ‘n program moet die sanitasie van alle implemente, toerusting, klere en skoene insluit. Alles moet op een sentrale plek gewas word sodat die afloopwater opgevang en die reste, nadat die water verdamp het, verbrand kan word. Wanneer lande reeds besmet is, moet ‘n diep bewerking gedoen word, waarna die plante uit die lande verwyder en verbrand moet word om hergroei te keer. Dit is ook belangrik dat produsente alle Amaranthus spesies in en om hulle lande moet beheer om kruisbestuiwing met Amaranthus palmeri te voorkom. Dit is verder krities noodsaaklik om te keer dat die onkruide saad stort en dat sade ontkiem.
Wat chemiese beheer betref, is voorkomende optrede uiters belangrik en is die regte kombinasies van voor- en na-opkomsonkruiddoders dus onontbeerlik. In dié verband hou SAHRI (die South African Herbicide Resistance Initiative) verwikkelinge op die Palmer amaranth front fyn dop. DNA-analises van populasies in verskillende dele van die land word gedoen, terwyl weerstandprofiele van ander saamgestel word. Kundiges monitor ook die impak wat verskillende onkruiddoderformulerings op populasies het.
Die Amerikaanse Onkruidwetenskapvereniging het Amaranthus palmeri in 2017 aangewys as die land se mees problematiese onkruid vanweë sy vermoë om weerstand teen onkruiddoders op te bou en omdat hy so moeilik is om te beheer en uit te roei. Ten spyte hiervan is dit egter moontlik om hierdie pes te beheer en selfs uit te roei deur ‘n omvattende strategie te volg wat die korrekte onkruiddoders en toedieningspraktyke insluit.
Bron: Syngenta