Oorweeg uitwerking van ongewenste mynbou op voedselsekerheid, vra AgriSA

extraction-2781679_1920
Bron: Pixabay
Boere is uiters bekommerd oor die uitwerking van die verspreiding van ongewenste mynbou en gaseksplorasie op of in die omgewing van produktiewe landbougrond, veral met betrekking tot die natuurlike hulpbronne waarvan die sektor afhanklik is. Daarom volg AgriSA die besprekings van die jaarlikse Mynbou-indaba wat tans in Kaapstad plaasvind, noukeurig.
Hoewel die belangrikheid van mynbou vir die Suid-Afrikaanse ekonomie erken word, is die mededinging om natuurlike hulpbronne tussen landbou en mynbou vanselfsprekend. AgriSA beklemtoon dus dat voedselsekerheid en die bewaring van landbougrond, veral hoëwaarde-landbougrond, geprioritiseer moet word.
Die organisasie is bemoedig deur president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wet op die Bewaring en Ontwikkeling van Landbougrond op 27 Januarie 2025, met die doel om landbou-ekostelsels en lewensvatbare landbougrond-eenhede te bewaar en te bestuur deur regulasies en die ontwikkeling van norme en standaarde. Werk in dié verband moet nou in alle erns begin.
Bron: Agri SA