Categories: Artikels, WielePublished On: 10th April 2026

Ontmoet die Volkswagen Tayron 1.4 TSi Life DSG 7-sitplek

771 words

tayr-1

Volkswagen SA het laasjaar die langverwagte opvolger van die Tiguan Allspace plaaslik bekendgestel in drie modelweergawes. Ons het onlangs die voorreg gehad om die middelafwerkingsvlak Tayron LIFE met 7-sitplekke vir ‘n week te kon toetsbestuur.

Al drie weergawes word toegerus met Volkswagen se beproefde 1.4 liter viersilinder turbo aangejaagde petrolenjin.

Die Tayron word gebou op Volkswagen se nuutste weergawe van die groep se modulere argitektuur bekend as MQB Evo, ‘n gerespekteerde platform vir kompakte motors wat in Wolfsburg ontwerp is om ook hibried en elektriese aandrywing te akkommodeer.

Die nuwe Tayron is groter in lengte en breedte as die Tiguan Allspace wat dit vervang, hoofsaaklik om 3 rye sitplekke gerieflik te kan bied. In Volkswagen se SUV modelreeks sit die nuwe Tayron bo die 3de generasie Tiguan, maar onder die Touareg wat blykbaar binnekort van die toneel gaan verdwyn.

Die Tayron se voorkoms is beide modern en lomp. Die neus en agterkant vang die oog met ‘n vars en moderne ontwerp met veral die ontwerp van LED lighulse wat die Tayron onderskei. Die rooi verligte VW kenteken ontwerp is veral treffend. Die LED hoofligte bied ‘n outomatiese domp/skerp-funksie. Pragtige opsionele 19” Catania sierwiele komplimenteer die Tayron, maar van die kant beskou, en ten spyte van die pragtige en sportiewe Dolphin Grys metaalverf, vertoon die lang lyf egter lomp.

Die VW Tayron se kajuit vertoon en voel aansienlik meer premium as die uitgaande Tiguan Allspace met beter bougehalte, duurder materiale en algehele afwerking meer superieur.

Die 12,9” inligtingskerm is opgegradeer en bied nou vinniger reaksies en intuïtiewe integrasie met hoë gehalte volkleur grafika. Dit ondersteun steeds koordlose Apple CarPlay en Android Auto.

Wat opval is dat VW weer skakelaars in die Tayron teruggebring het vir hooffunksies soos die ligte, ritmodusse en klankvolume. Ook die skakelaars op die multifunksie stuurwiel hoef nie meer met ‘n vingerskuif te werk nie.

Die 7-sitplek Tayron ”Life” model soos getoets bied ondermeer ‘n digitale instrumentpaneel, aanpasbare spoedbeheer, baanhouhulp, 3-sone klimaatbeheer, 9 lugsakke asook atmosfeerbeligting vir die kajuit met 10 kleuropsies.  Ons toetsmodel het oor ‘n opsionele groot elektriesbeheerde panoramiese glasdak met ‘n elektriese blinding beskik. Ook opsioneel ekstra in ons toetsmodel was die Varenna leersitplekke met die voorste sitplekke wat oor elektriese verstelling, 3 geheuestellings asook masseer- en verhitting funksies beskik.

Die ruim kajuit bied meer as genoeg been-, kop- en skouerspasie vir die 2de ry met sitplekke wat na agter of vorentoe kan skuif en rugleunings wat kan teruglê. Wat wel kort is USB koppel/laaipunte vir die 2de ry passassiers. ‘n Pluspunt is die kantblindings vir die vensters by die 2de ry sitplekke.

Die 3de ry sitplekke vou gelyk plat om die laairuimte agter met toegang danksy die opsionele elektries ondersteunde agterklap, groter te maak. Opgeslaan bied die 2 sitplekke egter net genoeg spasie vir jong kinders.

Soos gemeld word die Tayron aangedryf deur Volkswagen se bekende 1.4 TSi 4silinder turbopetrol enjin wat 110kW en 250Nm se maksimum kragte lewer. Krag word na die voorwiele gestuur deur VW se 7-gang DSG dubbelkoppelaar outomatiese ratkas.

Amptelik gebruik die Tayron 7,6L/100km, maar ons kon na ongeveer 1000km se gemengde gebruik nie beter doen nie as 8,6L/100km. Die 0-100kpu lopie word aangegee as 9,2 sekondes met ‘n topspoed van 207kpu.

Op die pad is die Tayron heel gemaklik teen snelwegspoed en sukkel ook nie te veel met verbysteek nie. Ons vermoed egter dat die 1,4liter turboenjin dalk mag sukkel met sewe insittendes en bagasie selfs op die oop pad. Die 1,4 TSi enjin in die Polo en ander kleiner VW modelle is gemaklik rondom 6,0 liter/100km en die hoër verbruik by die Tayron kan heel waarskynlik toegeskryf word aan die swaarder en groter bak. Daar word wel ‘n 2.0liter 4Motion en ‘n 2.0Liter Hibried plaaslik verwag.

Andersins bied die Tayron gemaklike en verfynde ritdinamika met goeie balans en greep waar dit nodig is. Alhoewel ons toetsmodel oor ‘n opsionele verstelbare sleephak met ‘n elektroniese  sleephulp stelsel toegerus was, het ons nie die sleepvermoë en/of die sleepstelsel kon toets nie.

Ter opsomming en ten spyte van die lang lyf en moontlikheid  (ons het dit nooit getoets nie, so die aanname mag dalk geen waarheid inhou) dat die enjin onder gewig dalk mag swaarkry, is die VW Tayron ‘n lekker gesinswa.  Die prys mag dalk verkope inhibeer, veral gemeet teen die 7-sitplek  mededingers in hierdie uiters tawwe en kompeterende segment.  Dink maar aan Mitsubishi Outlander, Hyundai Alcazar en ‘n legio Chinese modelle waaronder  Cherry Tiggo 8 ProMax, Haval 6, Changan CS75 Pro om maar net ‘n paar te noem.

Prys en waarborge

Die Volkswagen Tayron 1.4TSi Life DSG kos R853 800-00 en sluit in ‘n 3jaar/120,000km waarborg  en ‘n  5 jaar/90 000km diensplan 15 000km diensintervalle.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0