Ontmoet die Pandamatenga-boere wat Botswana se silo’s volhou

2
Kallie Viljoen en MC Pretorius (Agrico Nylstroom) staan by die Agrico-spilpunt waar Kallie uie plant om aan die Botswana-mark te lewer.
Pandamatenga is ’n landboudistrik in die noorde van Botswana wat meer as 40 000 hektaar se landbougrond beslaan. Hierdie streek word omhein deur 150 km-wildheining wat sorg dat konflik tussen mens en dier tot die minimum beperk word in die groter wildernisgebied. Van 1999 tot 2025 het Pandamatenga gegroei tot die streek wat die meeste van die land se graan produseer. Vandag staan dit bekend as die broodmandjie van Botswana.
In die middel 1980’s het die regering van Botswana ervare boere uit aangrensende Afrika-lande genooi om graanproduksie in die noordelike streek te begin, wat toe nog ongerepte wildgrond was met ryk swart kleigrond. Ander boere het ’n paar jaar later by hierdie inisiatief aangesluit toe die boerderygebied uitgebrei is.
Sorghum, suikerbone, sonneblom, mielies, koring, millet, sojabone, kekerertjies, swartoogboontjies en mungboontjies is net enkele van die graansoorte wat in Pandamatenga verbou word. Buiten graan, is daar ook verskeie soorte groente en vrugte wat hier geproduseer word.
’n Handjievol van die Pandamatenga-boere
Pandamatenga spog ook reeds 26 jaar met sy eie boerevereniging, waar boere – oud en jonk – die landboubedryf verteenwoordig. Hierdie mans en vroue staan bekend as die ‘Pandamatenga-boere’ en hulle is die bewaarders van Botswana se ‘voedselmandjie’.
Kallie Viljoen is die voorsitter van die Pandamatenga-boerevereniging. Hy boer met graan en groente onder beide spilpunt- en dripstelsels, en hy plant ook graan op droëlande.
Dean Hatty boer met koring en sorghum op droëlande en onder spilpuntbesproeiing. Dean en sy gesin het in die vroeë 2000’s na Botswana vanuit Zimbabwe verhuis nadat hul plaas onteien is as deel van die land se skielike grondhervormingsprogram.

Dean Hatty kan met trots in ’n besonderse mooi koringland staan. Die koringoes lyk belowend ondanks uitermatige koue wat hulle deur die winter ervaar het.

Fred van Vuuren (jnr.) en Theo van Staden (Agrico Nylstroom-bestuurder) in ’n vrolike luim in die aartappelverpakkingstoor op Fred se plaas. Panda Potatoes is ’n bekende naam in Botswana se winkels, en hier kan ’n mens sien waar die aartappels verbou en verpak word.
Fred van Vuuren (jnr.) boer met aartappels en bied waardevolle insigte oor die boerderybedryf in Botswana. Een van die grootste verskille tussen boer in Botswana en Suid-Afrika, meen hy, is dat boere hulle produkte direk aan die verbruiker bemark in Botswana. Buiten aartappels, verbou die boerdery ook verskeie soorte graan en maak hulle gebruik van die boorgatwater tot hul beskikking om die landerye met spilpunte te besproei.
Piet Strachan is ’n graanboer wat al van die vroeë 1990’s in die streek boer. “Oom Piet”, soos hy plaaslik bekendstaan, gesels oor sy ervaring van Pandamatenga in die vroeë dae. Hy vertel hoe wild die streek was toe hulle daar begin boer het, en hoe die ontwikkeling oor die laaste dekades heen uitgebrei het.

Oom Piet gesels gemoedelik oor boerdery in Pandamatenga terwyl hy tussen die spilpunte op sy plaas ry.
Hou gerus Agrico se kanale dop oor die volgende paar maande om meer te leer oor elkeen van die boere in die distrik.
Unieke uitdagings van Botswana
Te oordeel aan die toerusting wat snags in die lande gelos word, is veiligheid en diefstal nie noodwendig sulke groot uitdagings as in Suid-Afrika nie. Daar is wel ander uitdagings wat die samehorigheid onder die boere versterk.
In ’n afgeleë area soos Pandamatenga is die ondersteuning en geriewe van nabygeleë dorpe ’n uitdaging – en ook ’n kopseer wat al die boere van die area moet verduur. Pandamatenga is sowat 400 km van Francistown, 800 km van Gaborone en 1 000 km van Pretoria geleë. Die gehalte van die boere se toerusting is dus van uiterste belang aangesien hulle nie sommer vinnig kan dorp toe ry om onderdele te koop wanneer iets breek nie.
Verder is die area se produsente afhanklik van alternatiewe energiebronne weens ’n tekort aan elektrisiteitsvoorsiening op hul plase. Energie word opgewek deur sonpanele enen vir toerusting soos spilpunte wat hoër en meer konstante kilowatts benodig, word dieselkragopwekkers ingespan.
Vir ’n maatskappy om sukses te behaal in hierdie omgewing kan die belangrikheid van gehalteprodukte, verbruikersvriendelikheid en uitstekende naverkopediens nie onderskat word nie. Dit is juis wat Agrico bied.
“Oor die afgelope 15 jaar is Agrico Nylstroom aktief betrokke in die streek, en die vermoë om hoëgehaltediens en produkte te kan lewer word verseker deur die getroue ondersteuning van die boere in die omgewing,” sê Theo van Staden, streeksbestuurder van Agrico in Limpopo-.
Pandamatenga se boere bewys daar is oorgenoeg geleenthede in selfs uitdagende omstandighede, mits daar genoeg passie en deursettingsvermoë is. Skeppende denke lei dikwels tot oplossings binne ’n gemeenskap wat mekaar ondersteun – en met die bystand van maatskappye soos Agrico.
Om meer uit te vind oor die oplossings wat Agrico vir jou kan bied, kontak hulle gerus op hul webblad by www.agrico.co.za of stuur ’n e-pos aan info@agrico.co.za