Categories: Stock and game farmingPublished On: 18th August 2017

Ons praat oor kruisteling met Senepol: Teel vir die toekoms

By 5 min read
938 words
senepol

senepol 1

Studies word gedoen en lang redenasies word gevoer oor die beste manier om beeste te onthoring. Veral in ’n voerkraal is daar geen ruimte vir horings nie, want diere beseer mekaar en vleis gaan verlore as gevolg van kneusings. Ook op die plaas is dit moeiliker om beeste met horings te hanteer en wedywering by die voerbak, watertrog en drukgang lei dikwels tot beserings.

Dit is ook gevaarlik vir die mense wat die beeste moet hanteer. Om ’n kalf te onthoring bly ’n tydrowende en pynlike proses en die moontlikheid vir ontsteking van wonde of vliegbesmettings is altyd daar. Die oplossing is eintlik eenvoudig: Teel horings uit jou kudde uit!

Dit gaan jou oor die langtermyn geld en tyd bespaar en bied ’n blywende oplossing. ’n Ras wat ideaal geskik is om die poena-geen in jou kudde in te dra, is Senepol. Die suiwer Bos Taurus-ras is nou al ’n eeu oud. Dit het ontstaan toe N’Dama-beeste van Senegal aan die Weskus van Afrika op die St Croixeiland met Rooipoenskop-beeste van Engeland af gekruis is. Die gevolg is ’n mediumraam, rooi bees met kort hare wat uitstekend geskik is vir Afrika-omstandighede.

Uitgebreide studies, ook in Amerika, het gevind dat die poena-geen so dominant is dat jy binne een geslag jou kudde kan opteel na poenskop. Danie Niewoudt, president van die Senepol Genootskap het toetse met verskillende bekende poenskoprasse gedoen en gevind dat hy met Senepolbulle op sy Sussex/Afrikaner-koeie ’n 100% suksessyfer gehad het teenoor die ander rasse wat gewissel het van minder as 20% tot net meer as 50%. Poenskop is egter net een van die voordelige eienskappe wat ’n Senepolbul in ’n kommersiële kudde kan indra.

Gladde haarkleed

Senepol is een van die min Bos Taurusrasse wat ’n natuurlike weerstand teen bosluise en ander insekte het. Bosluistellings het getoon dat Senepol/Limousin-kruisings vyf keer minder bosluise op hulle gehad het as suiwer Limousins. Dit onderstreep die kruiswaarde van Senepols in gevaarlike bosluisgebiede.

Hitteverdraagsaamheid

Danie vertel dat sy Senepol-beeste verlede jaar met die droogte deur die hitte van die dag nog gestaan en wei het, waar die ander kommersiële beeste lankal net om die watertrog gaan lê het. Navorsing in Amerika het getoon dat die Senepol ’n koeler liggaamstemperatuur handhaaf as die meeste ander rasse, wat daartoe lei dat hulle gemiddeld tot 1 uur 15 min langer per dag wei. As dit baie warm is, kan ’n mens ’n roset”-patroon oor die rug van die rooi beeste sien. Dit is net ’n bewys dat die sweetkliere goed werk om die diere af te koel.

Aanpasbaarheid

Thomas Stewart van die Grasveldtelersgroep sê toe hy van Natal af in die Brandfort-omgewing in die Vrystaat begin boer het, het hy gou besef dat daar ’n ras nodig is wat die wisselende temperatuur en droë omstandighede goed kan hanteer. Senepol het vir hom die antwoord gebied, naamlik ’n mediumraam-bees met ’n laer voedingsbehoefte wat uitstekende resultate in opteelprogramme en kruistelings bied. Van Nguni-boere in die Karoo tot melkboere in die Suidwes-Kaap het al Senepol-bulle met groot vrug gebruik om bepaalde eienskappe in hulle kuddes in te teel.

Rustige temperament

Die beeste het ’n rustige temperament, wat hantering veel makliker maak. Thomas sê: “Die gemak om ’n vleisbees met die temperament van ’n melkbees te hanteer, bly ’n plesier in die kraal.”

Vroeg geslagsryp

Wilhelm Oosthuysen, adjunk-president van die Senepol Genootskap, se Joxepa-kudde is in 2015 aangewys as Senepol SA se Kudde van die Jaar. Sy verse word op 15 maande gedek en moet op 24 maande kalf. Hy gebruik een bul vir elke 25 tot 40 koeie en vaderskap word deur DNS-toetse bepaal. Elke koei moet elke jaar ’n kalf speen om in die kudde te bly. Dié soort noukeurige seleksie en bestuur deur lede van die Genootskap beteken dat kommersiële boere wat Senepol-gene inkoop verseker kan wees dat die diere aan streng standaarde voldoen en waarde tot hulle kudde sal toevoeg.

Karkasgehalte

Senepolbeeste en -kruisings is gewild in voerkrale. Een rede is die poenskopeienskap. Die ander is  vleisgehalte en uitstekende voeromset. Senepolbeeste het al heelwat karkaskompetisies in Suid-Afrika gewen en die Kanadese beesvleisspesialis, Mark Schatzker, het die ras hoog by die Ultimate Beef Challenge aangeskryf.

Kalwingsgemak

Kalwingsgemak is een van die sterkste eienskappe wat die ras in kruisteling indra. Suiwer kalwers toon ’n gemiddelde geboortemasse van 31 kg, soos gemeet in Amerika. In die Joxepakudde is die gemiddelde geboortegewig 35 kg met ’n gemiddelde sewemaandespeenmassa van 250 kg vir bulkalwers en 230 kg vir versies. Een van die beste bewyse dat daar ’n sterk aanvraag na Senepol-gene is, is die feit dat dit die ras is wat die vinnigste groei in Suid-Afrika. Die eerste Senepol-beeste is in 2002 van Zimbabwe af ingevoer. Daar was net drie telers met 31 vroulike diere en ses bulle.

Teen die einde van 2016 was daar 40 telers met 3 642 geregistreerde vroulike diere en 1 025 geregistreerde bulle. Oor die algemeen word Senepol as die ideale kruisrasbees beskou as gevolg van hulle sterk erflikheidsfaktor as onafhanklike, suiwer Bos Taurus-ras. Tussen 80 en 100% van alle Senepolkruiskalwers sal byvoorbeeld tipiese Senepol-eienskappe toon en poenskop wees. Internasionaal is daar baie beesboere wat na Senepol verwys as die universele kruisrasdier. Navorsing deur die Amerikaanse Departement van Landbou het bewys dat Senepolkruise basterkragvlakke van 5,4% vir geboortegewig, 6,2% vir speengewig en 6,4% vir daaglikse gewigstoename toon, ver beter as die normale 3 tot 4% vlakke wat normaalweg in Bos Taurus X Bos Taurus-kruise gesien word. Nog ’n groot pluspunt vir Suid-Afrikaanse boere is dat die Senepols en baie van hulle kruise ’n pragtige, eenvormige rooi kleed dra!

Kry meer inligting oor Senepols en die volgende bulveiling by die Senepol Genootskap van Suid-Afrika, by 071-364-0076 of info@senepolsa.co.za, of besoek www.senepolsa.co.za.

senepol

Senepol X Charolais

senepol

Senepol X Sussex

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0