Oakdale se toutrekspan weer wêreld se beste

toutrek 1
Voor links na regs: Abrie de Wet (spanbestuurder) en regs Piet Lourens (afrigter). Seuns links na regs: Lourens Brand, Tony Dürr, Reghard Olivier, Markus Janse van Rensburg, Thys Lourens, André Crous, NJ Tesner en D’Niel de Wet.
Die Hoër Landbouskool Oakdale het vir die tweede agtereenvolgende jaar as die land se Proteaspan die 560 kg-afdeling in die kategorie vir Junior Mans in Switserland gewen. Verlede jaar het hulle die gesogte titel ook in Nederland verower.
Die span van twaalf seuns van die bekende landbouskool het vanaf 31 Augustus tot 3 September aan die kampioenskap deelgeneem. Die span bestaan uit Lourens Brand (Gr 10) van Swellendam, Tony Dürr (Gr 12) van Malmesbury, Reghard Olivier (Gr11) van Beaufort-Wes, Markus Janse van Rensburg (Gr 11) van Heidelberg, Thys Lourens (Gr 12) van Riversdal, André Crous (Gr 12) van Misgund, NJ Tesner (Gr 12) van Gouritsmond, D’Niel de Wet (Gr 12) van Caledon, Wihen Conradie (Gr 11) van George, Zander Groenewald (Gr 11) van Ladismith, Francois Janse van Rensburg (Gr 11) van Robertson en Steyn de Wet (Gr 11) van Caledon.
Op Vrydag 1 September het Oakdale 2 spanne (560kg A & 560kg B) ingeskryf wat deelgeneem het aan die Wêreld Ope-Klub Kampioenskappe. In totaal het Oakdale meegeding teen 13 ander spanne van Duitsland, Switserland, België, Engeland, Ierland, Wallis, Thailand, Swede en Nederland.
“Hierdie was ‘n merkwaardige prestasie, want Oakdale se A- en B-span het deurgedring na die finale ronde, waar hulle teen mekaar meegeding het. Ons het dus 1ste en 2de plekke in die Ope-Klub Kampioenskap verower.” sê Piet Lourens, wat die afgelope 23 jaar die toutrekspan afrig.
- Voor links na regs: D’Niel de Wet, Tony Dürr, Lourens Brand, André Crous en Abrie de Wet (spanbestuurder). Agter links na regs: Piet Lourens (Afrigter), NJ Tesner, Thys Lourens, Reghard Olivier en Markus Janse van Rensburg.
- Die span het al hul uitdunne gewen, en mens kan sien hoekom as jy so na die inspanning kyk.
Verloop van die kampioenskap
Die hoogtepunt was op Sondag 3 September toe Oakdale se 560kg A-span, wat die land se verteenwoordigende Proteaspan is, deelgeneem het aan die geslote Wêreldkampioenskap waar elke land slegs hul nasionale span kan inskryf.
Volgens Piet het die groep al sewe uitdunwedstryde, of trekke waartydens hulle onder meer teen Switserland, Engeland, Nederland, Duitsland, België, Ierland en Wallis meegeding het, gewen. In die halfeindronde het hulle Nederland met 2-0 geklop en sodoende na die finale kragmeting deurgedring.
“In die naelbyt-trek teen Sjinese Taipei het hulle ook met ‘n oorwinning van 2-0 met die louere weggestap – en so is Oakdale se Bulle weer as wêreldkampioene in die 560 kg-kategorie vir Junior Mans gekroon.”
Na afloop van die toernooi het hulle ‘n vinnige draai in Zürich en Lucerne gemaak, waar hulle ‘n uitstappie na Pilatus-berg, wat oor laasgenoemde stad uittroon, onderneem het. Van hulle het ook ‘n paar dae saam met hul ouers in Venesië in Italië deurgebring.
- Links is Piet Lourens, die afrigter. Voor na agter is Markus Janse van Rensburg, Reghard Olivier, D’Niel de Wet, André Crous, Thys Lourens, Lourens Brand, Tony Dürr en NJ Tesner.
- Die leerders word naas akademiese vakke ook in alle aspekte van landbou onderrig, insluitend veeteelt en akkerbou, asook hout- en metaalwerk.
Uitdagings
Volgens Piet was een van die grootste uitdagings, soos gewoonlik, die finansiële implikasies van deelname. “Switserland is ‘n baie duur land. Om ‘n eenvoudige voorbeeld te gebruik: ‘n McDonald’s burger met skyfies jaag jou ‘n volle R400 uit die sak.”
Die lang vlug van Kaapstad na Switserland is ook ‘n uitdaging. “Tydens die vlug kan die seuns nie juis baie beweeg nie, en die stilsit lei daartoe dat baie vog in die liggaam opbou. Hulle kan ook nie te veel eet nie, want ons moet 48 uur nadat ons geland het inweeg. Ons kan ook nie langer voor die kompetisie vlieg nie, want verblyf is te duur.”
Volgens Malan du Plessis, die skool se sporthoof, het die koste R38 500 per leerder beloop. Klein Karoo Saadproduksie was weereens die hoofborg, maar Iteligro, Rovic Leers, GIC, OVK en SSK het almal hand in die sak gesteek. En al is dit duur, dra die ouers ook by wat hulle kan. “Die ouers is baie trots op hulle seuns wat wêreldkampioene is.”
Daar is nie prysgeld by die toernooi betrokke nie. “Al is daar geen prysgeld betrokke nie, is die eer genoeg en dit bly vir die seuns ‘n voorreg om deel te neem.”
- Oakdale se missie is om deur doelgerigte ontwikkeling van die kind uiteindelik lewensvaardighede en waardes by die kind te skep en uit te bou sodat hy in ‘n veranderende sosiale en ekonomiese klimaat homself kan handhaaf.
- Die leerders kry die geleentheid om hulle op alle vlakke te bekwaam sodat hulle na skool ‘n belangrike bydrae tot die familieboerdery kan lewer of hulself verder in ‘n landbourigting te bekwaam.
Voorbereiding
Die seuns werk heeljaar deur baie hard om fiks te bly. “Die manne oefen ten minste twee ure per dag, vyf dae van die week. Die oefenprogram bestaan uit touwerk, werk in die gimnasium en draf, en hulle berei voor deur deel te neem aan senior-kompetisies.”
Volgens Piet is oefen die sleutel tot sukses wat van ‘n Oakdale-bul ‘n kampioen-toutrekker maak. “Oefen, oefen, oefen en nogmaals oefen. Om geestelik en fisies sterk te wees is van kardinale belang.”
Die span het al in 2022 begin oefen vir die kragmeting. ‘n Toutrekker moet nie net fiks en gesond wees nie, maar sy liggaam moet ook sterk wees. Volgens Piet bestaan die manne se dieet uit baie proteïene, maar geen stysel of suiker nie. “Dis vir seker ‘n uitdaging, maar die koshuise doen moeite om vir die seuns ‘n dieet met meer proteïen en minder stysel te gee.”
Piet se seun Thys, is ook in die koshuis, al woon hulle op die buurplaas. “Die personeel het elke oggend spesiaal vir ons eiers vir ontbyt en vleis vir middagete gemaak,” vertel hy.
Volgens Piet is dit vir die Bulle ‘n groot eer om hulle land en skool op ‘n internasionale platform te verteenwoordig. “Hulle besef dat struikelblokke oorkombaar is en harde werk altyd beloon word,” sê hy.
“Mens kan nie beter kry as om op ‘n nasionale vlak deel te neem – en dan nog te wen ook nie,” beaam Thys, wat vanjaar vir die tweede jaar deel was van die span wat in die buiteland deelgeneem het.
Willem du Buisson, die skoolhoof, is nie min trots op die Bulle nie. “Hoër Landbouskool Oakdale is ongelooflik trots op ons 560 kg-toutrekspan wat vir die tweede jaar in ‘n ry gekroon is as wêreldkampioene,” sê Willem. “Hierdie groep seuns het Oakdale se naam hoog gehou. Ons eer hulle vir hulle ongelooflike toewyding en harde werk oor baie jare. Oakdalers hou nie op as ons moeg is nie, ons hou op as ons klaar is!” sê Willem.
- “Ons hou nie op as ons moeg is nie, ons hou op as ons klaar is,” se Willem du Buisson, die skoolhoof. Net so wanneer daar geoes word.
- ‘n Groep leerders by ‘n mielieland met die Langeberge se kenmerkende piek ‘Die Slapende Skoonheid’ in die agtergrond.
Trotse geskiedenis
Volgens Oakdale se webtuiste, is die plaas Oakdale buite Riversdal in die Wes-Kaap aanvanklik uitgesoek vir die stigting van ‘n opleidingsplaas vir soldate wat na die Tweede Wêreldoorlog teruggekeer het, maar dit het nooit gebeur nie.
Die moontlikheid om die plaas Oakdale as ‘n landbouskool te ontwikkel is in 1927 ondersoek en daar is 200 merino-ooie, agt muile, vier jerseykoeie en ‘trekgoed’ aangekoop.
Oakdale het in 1928 sy beslag gekry met ses seuns – drie uit die Vrystaat en nog drie uit die destydse Transvaal. Aanvanklik het die seuns in die ou plaashuis en buitegeboue tuisgegaan tot ‘n afsonderlike koshuis met verblyf vir 42 leerders in November 1930 gebou is. Die plaashuis het toe die skoolgebou geword.
Die aantal leerders het aangegroei en die geboue moes uitbrei om meer seuns te huisves wat van heinde en verre hierheen gekom het. Vandag is daar sowat 480 leerders in die skool.
- Deelname aan Jeugskou is besig om al gewilder te raak. Dit gee die leerders die geleentheid om op ‘n ander vlak met hulle diere te werk. Dit sluit ook kulinêre kuns en die geleentheid om aan afslaerkompetisies deel te neem.
- Gerdus Holtzhausen (gr 9) geniet dit om in die afdeling vleisbeeste aan die Jeugskou deel te neem. Die seuns ontwikkel ‘n nou band met die diere waarmee hulle werk.
Vormingsgeleenthede
Die skool streef na uitnemende en unieke vormingsgeleenthede vir die seuns. Dit sluit die doelgerigte ontwikkeling van elke leerder op alle terreine in om vir hom die lewensvaardighede en waardes te skep en uit te bou sodat hy homself in ‘n veranderende wêreld kan handhaaf.
Wat Oakdale uniek maak is die hoë standaard van hierdie geleenthede wat gebaseer is op ‘n balans tussen akademie, sport, kultuur en geestelike waardes. Dissipline is die wagwoord, en die tradisie van samehorigheid en lojaliteit word ondersteun deur die unieke koshuiskarakter.
“Toutrek leer seuns van deursettingsvermoë, selfbeheersing en om in spanverband saam te werk,” sê Malan. “Nie net moet almal na hulle gewig kyk om saam 560 kg in te weeg nie; op die tou moet hulle saam funksioneer om die ander span te uitoorlê. Die groter doel is om die seuns lewensvaardighede te leer deur sport.”
Kontakbesonderhede
Kontak die skool by: info@oakdale.co.za / (028) 713 2549









