Oakdale se Bulle – én koeie – presteer

jerseys 1
Die Oakdale-Jerseykudde het ‘n platinum-toekenning in SA Stamboek/Elwiedre Voere se nasionale Elite-stoetkudde kompetisie in Bloemfontein ontvang.
Die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal se 560 kg junior toutrekspan vir mans is pas bekroon as die beste skole-sportspan in die land, wat wys die Bulle kan hulle man ook internasionaal staan.
Boonop is Oakdale se suiwelkudde as een van ses bestes in die land aangewys.
Die Bulle
Oakdale se 560 kg-junior toutrekspan vir mans is op die Suid-Afrikaanse sporttoekenningsgeleentheid by Sun City as die SA Skolespan van die Jaar aangewys.
Piet Lourens, die span se afrigter die afgelope 23 jaar, het die toekenning saam met sy seun Thys, voormalige kaptein van die span ontvang.
Volgens Piet is die prestasie besonders omdat daar so baie sportskolespanne in die land is. Sy span is al twee keer vir die toekenning benoem, maar het vanjaar vir die eerste keer met die louere weggestap.
Die toutrekspan se twee strafste mededingers, albei van Pretoria, was die Afrikaanse Hoer Meisieskool se netbalspan en Clapham High School se sokkerspan.
Piet, wat langs Oakdale met melkbeeste boer, rig die span sedert 2001 af. Sedert die span in 2005 vir die eerste keer internasionaal aan toutrekkampioenskappe deelgeneem het, het hulle dit al sewe keer gewen. Hulle oorwinning in 2022 in Nederland en die oorwinning in Switserland in 2023 toon dat die span bestendig is, sê Piet.
Hulle het reeds gekwalifiseer om in September vanjaar in Mannheim in Duitsland te gaan deelneem.

Oakdale se Bulle het in 2023 vir die tweede keer in ‘n ry die eerste plek in Switserland verower.
Die koeie
Die skool se Jersey-kudde is as een van die ses bestes in die land aangewys.
Die kudde het ‘n platinum-toekenning van SA Stamboek/Elwiedre Voere se nasionale Elite-stoetkudde kompetisie in Bloemfontein ontvang.
Volgens Hennie Uys, die skool se suiwelbestuurder, is dit die eerste keer dat hulle die toekenning ontvang sedert hy die kudde in 2003 begin bestuur het.
Die kudde is op verskillende kriteria beoordeel. Dit sluit in dat die koeie se tussenkalfperiodes, die hoeveelheid melk wat hulle produseer, hulle vrugbaarheid en genetiese vordering evalueer word. Van die ses kuddes wat vir platinum-status in aanmerking gekom het, het die Oakdale-kudde vierde plek behaal.
Die kudde bestaan uit 835 geregistreerde Jerseys waarop net ten volle geregistreerde bulle en die beste Amerikaanse teelmateriaal gebruik word.
Volgens Hennie is 80 koeie van verskillende rasse gemelk toe hy in 2003 by Oakdale aangesluit het. Dit het Friese, Jerseys en kruisras beeste ingesluit. Omdat hy Jerseys geken het, is besluit om meer te fokus op ‘n suiwer Jerseykudde. Die kudde is as Oakdale Jerseys geregistreer.
Die aantal beeste in melk wissel tussen 400 en 430 koeie. Afhangend van seisoen wissel die melkproduksie tussen 18 en 21,5 liter melk, per koei, per dag.
Die kudde wei elke dag op aangeplante weiding en kry minimale byvoeding. Die weiding bestaan hoofsaaklik uit kikoejoe en sigorei, terwyl raaigras in Februarie/Maart ingesaai word. Lusern word ook aangeplant; mieliekuilvoer word in die somer en hawerkuilvoer in die winter gemaak. Moutgars word aangeplant sodat die strooi gebruik kan word. Hawerpitbale en kuilvoer word ook aangeplant.
Die Korentepoortdam voorsien die skool en plaas van besproeiingswater vir 55 ha, waarvan 10 ha onder spilpunt is.

Piet Lourens en sy seun Thys saam met Springbokke Manie Llibbok, Marco van Staden en Malcolm Marx, wat ook tydens die Suid-Afrikaanse sporttoekenningsgeleentheid by Sun City vereer is. “Wys ons saam met die Springbokke sodat mense kan sien dis ‘n ernstige besigheid hierdie!” sê Piet.
Suiwelafdeling
Die skool het in 1928 ontstaan. Die eerste melkery het begin met vier verse wat destyds met die hand gemelk is. Vandag beskik die melkstal oor ‘n ge-outomatiseerde melkmasjien.
Die suiwelafdeling is een van die skool se grootste bedryfsvertakkings. Terselfdertyd voorsien die afdeling suiwel-verwante landbou-opleiding aan die seuns; dit sluit onder meer finansiële-, weiding- en kuddebestuur, asook ‘n kursus in kunsmatige inseminasie in.
Die seuns is ook betrokke by Jeugskou en neem deel aan streeksskoue waar hulle tot op nasionale vlak kan vorder en vir hulle harde werk en toewyding erekleure kan verwerf.

Oakdale se seuns neem aan die Nasionale Jeugskou deel en kan selfs erekleure verwerk as hulle ‘n kategorie wen.
Kontakbesonderhede
Kontak Hennie Uys van Oakdale Jerseys by 083-265-4141.
Besoek die skool se webtuiste by https://www.oakdale.co.za/