Nuwe droëland wit Pioneer kultivar

P2885WPW
Betroubaarheid, stabiliteit en veral aanpasbaarheid van nuwe kultivars is van uiterste belang vir suksesvolle mielieverbouing. In ‘n omgewing van konstante nuwe agronomiese benaderings, en die onvoorspelbaarheid van klimaat (reën en temperatuur) word gemoedsrus ernstig beproef. Beperking van risiko is om die beheerbare te beheer. Dit raak toenemend belangrik.
Beheerbare rolspelers is die tipe wisselboustelsel, grond se fisiese en chemiese toestand, keuse van geografiese ligging ten opsigte van produkplasing, plantdatum, tydigheid, plantdiepte, plantpopulasie, rywydte, asook die praktiese implementering met implemente tot beskikking. Die bestuur van insekte en plantsiektes is ook belangrik.
Kultivarkeuse – ‘n kardinale besluit wat berus op:
- Opbrengspotensiaal
- Meerkoppigheid
- Produktiewe spruite
- Genetika
- Staanvermoë
- Kophoogte
- Blaar-, wortel- en kopsiekteverdraagsaamheid
- Aanpasbaarheid by wisselvallige temperatuur
- Reënvaltoestande
- Uitermatige grondverskille
- Populasie aanbevelings
Watter tipe gemoedsrus bied ‘n sekere genetiese platform hiervoor?
Data
Meerjarge strookdata van P2885WBR (VTP weergawe) wys dat hierdie genetiese platform wel aan hierdie vereistes voldoen. Dit is met opgewondenheid dat die PowerCoreTM weergawe, bekend as P2885WPW, by die Pioneer Weste wit kultivarpakket gevoeg word. PowerCoreTM bied beskerming van die plant teen mieliestronkboorder. Dit pas perfek in ’n stelsel waartydens Roundup gebruik word.
Teen hierdie agtergrond wil ek graag P2885WPW as PowerCoreTM toevoeging tot die genetiese platform bekendstel.

Figuur 1. ‘n Illustrasie waar P2885WPW – die swart lyn – gelykgestel aan nul is in terme van kilogram per hektaar verskil, relatief tot ander kultivars.
Die swart lyn in Figuur 1 hierbo verteenwoordig P2885WPW, gelykgestel aan nul in terme van kilogram per hektaar (kg/ha) verskil, relatief tot ander kultivars.
Die Impact data in die Westelike produksiegebied toon dat P2885WPW uitstekende genetiese stabiliteit toon. P2885WPW klop die VTP weergawe (P2885WBR) naelskraap met 21 kg/ha (13 lokaliteite). Toevoeging van die nuwe PowerCoreTM tegnologie het niks van die merkwaardige opbrengsprestasie en stabiliteit van die genetiese platform ontneem nie.
Inteendeel vergelyk P2885WPW baie goed met die gedugte kompetisie “A” en kompetisie “B”. P2885WPW klop kompetisie “A” met 98 kg/ha (31 lokaliteite), en verloor met slegs 82 kg/ha teen kompetisie “B” (30 lokaliteite). P2885WPW presteer op gelyke voet teen topverkoper kultivars. Wat die oorweging van P2885WPW bevoordeel is die merkwaardige graankwaliteit en uitstekende staanvermoë wat hierdie produk onderskei.
Indien PowerCoreTM produkte vergelyk word, klop P2565WPW wel P2885WPW oortuigend met 454 kg/ha (13 lokaliteite). Aan die ander kant klop P2885WPW, P2849WPW weer met 84 kg/ha (29 lokaliteite). Hier is dus drie Pioneer wit kultivars wat as stalmaats in die Weste aangewend kan word. Dit verseker aanpasbaarheid, stabiliteit en risikoverspreiding in ‘n pakket. Dit is noodsaaklik in ‘n reeds onvoorspelbare klimaatsomgewing en palm gemoedsrus in.
Die PowerCoreTM tegnologie bevat die Roundup geen. Dit pas uitstekend in ‘n Roundup bestuurstelsel, en bied gelyktydig beskerming teen mieliestamboorder.
Agronomiese eienskappe
Die meerkoppigheidsindeks is 1,76. Koppe is nie ewe groot nie, maar ontwikkel relatief gelyk. P2885WPW is ‘n mielieplant wat baie kan spruit indien toestande daarvoor geskik is. Die spruite is 24-60% produktief, wat dui op genetika met sterk uitdrukking van meerkoppigheid. Uitstekende graankwaliteit met ‘n bogemiddelde skepelmassa.
Saalinggroeikrag is aanvaarbaar. Die gevolg is die uniforme opkom van saailinge wat die beste aanslag vir opbrengs as fondament verskaf. Staanvermoë is uitstekend.
Plante is nagenoeg 2,23 meter lank met koppe wat so teen 51% van die plantlengte gedra word. Met koppe wat 1,13 meter hoog gedra word, is die produk maklik stroopbaar.
Samevatting
P2885WPW is gevolglik ‘n kultivar wat antwoorde bied om risiko te beperk. Dit verleen uitstekende mededinging in terme van opbrengs. Dit is veral die stabiliteit en aanpasbaarheid as gevolg van goeie “flex” kompensasievermoë van die genetiese platform, wat dit ‘n aanbeveling maak. Gesien teen die agtergrond van uitstekende agronomiese eienskappe, behoort P2885WPW deel te vorm van enige witmielie kultivarpakket wat in die Westelike produksiegebied droëland geplant word.
Plantpopulasies van 25 000 tot 32 000 plante per hektaar op hoë potensiaal toestande, en 23 000 tot 28 000 plante per hektaar op lae potensiaal toestande, is geskikte populasie aanbevelings. Die genetika presteer goed op alle grondtipes, maar veral op sandgronde. Enige ry-konfigurasie (0,9-1,5m rye) is aanvaarbaar.
Vir enige navrae kontak Pioneer deur ‘n e-pos te stuur aan info.rsa@pioneer.com of besoek hulle webwerf by www.pioneer.com/za