NUUS: Wes-Kaap se landbou groei met 17,2%

trekker
Wes-Kaapse premier Alan Winde en landbouminister dr Ivan Meyer onderneem om landbou op elke moontlike manier te ondersteun ter wille van werkskepping en volgehoue groei en ontwikkeling in die sektor. (Bron: Wes-Kaap Landbou)
Ten spyte van herhaalde wydverspreide oorstromings in die Wes-Kaap het landbou in die provinsie tydens die vierde kwartaal van 2024 ‘n groeikoers van 17,2% getoon.
Volgens die nasionale kwartaallikse bruto-binnelandse produk (BBP) syfers wat op 4 Maart bekendgemaak is, het die landbousektor in die Wes-Kaap met 17% gegroei.
“Na afloop van die ekstreme weertoestande is groei in die landbousektor aangewakker deur veldgewasse en diereproduksie, wat ‘n positiewe prestasie in graan, vrugte en veeproduksie insluit,” sê dr Ivan Meyer, sê die provinsiale minister van landbou in ‘n mediaverklaring.
Volgens S&P Global, sal die Suid-Afrikaanse en Wes-Kaapse ekonomieë na verwagting gedurende 2025 met onderskeidelik 1,8% en 2,1% groei. In die Wes-Kaap sal groei in landbou met 5% en Handel met 3,2% hiertoe bydra.
Volgens dr Meyer sal die ekonomie verder versterk namate die Wes-Kaapse Groei vir Werk-strategie verder toegepas word wat ‘n gunstige omgewing vir verbeterde ekonomiese groei en meer werksgeleenthede skep.
Hy meen die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat beleggings lok omdat doeltreffende regering en duidelike riglyne vir ekonomiese groei hoop en vertroue inboesem.
Volgens die Buro vir Ekonomiese Navorsing en die Rand Aksepbank se sakevertroue-indeks is die Wes-Kaap in die eerste kwartaal van 2025 se indekspunte 52, vergeleke die res van die land se 45 indekspunte.
“Ons landbousektor is ‘n komponent van kritieke belang vir ons ekonomie,” sê Alan Winde, die Wes-Kaapse premier. “Hierdie sektor verskaf werk aan meer as 200 000 mense in die provinsie. Daarom is dit belangrik om die sektor se veerkragtigheid en groeipotensiaal te verseker, veral in die fiskale klimaat waarin ons onsself tans bevind.
“Ons sal aanhou om landelike- en landbougemeenskappe op elke moontlike wyse te ondersteun en hulle help om deel te word van ons ekonomiese herstel en sukses.”
Hy sê te midde van die huidige geopolitieke ontwikkelinge sal daar na verwagting ‘n betekenisvolle toename in aanvraag vir die provinsie se landbou-uitvoere wees. Die Wes-Kaapse regering sal voortgaan om met handelsvennote te praat met die oog op nog meer uitvoere.
Winde meen ‘n 5% toename in landou-uitvoere oor ‘n tydperk van vyf jaar sal ‘n bykomende 22 900 nuwe werksgeleenthede in die provinsie skep. “Deur ekonomiese diplomasie sal ons aanhou om nuwe markte in die Midde-Ooste, Suidoos-Asië, Indië, Sjina en Afrika te teiken en sodoende nog meer werkgeleenthede te skep.”
Die Groei vir Werk-strategie het daartoe gelei dat die provinsie vir die tweede agtereenvolgende kwartaal die laagste werkloosheidskoers op 19,6% aangeteken en het. Altesaam 62 000 nuwe poste is in die vierde kwartaal van 2024 bygevoeg.
Volgens Winde lei die provinsie lei ook in arbeidsmagdeelname en opnemingskoerse, wat voortgesette ekonomiese veerkragtigheid weerspieël.
Du Toit, C. (2025) Groei vir Werk-strategie dryf indiensnemingsukses in Wes-Kaap. Bulletin: https://bulletin.co.za/groei-vir-werk-strategie-dryf-indiensnemingsukses-in-wes-kaap-klank/