Categories: NewsPublished On: 14th September 2017

Noord-Kaap se boere word gehelp in droogtetyd

By 3 min read
547 words
droogte

Hay bails

26 vragmotors vol voer word more (Vrydag 15 September) na boere in Vredendal in die Noord-Kaap gestuur om hulle in die droogtetyd te help.

Die vragmotors is gereël deur Caring Daisies, ‘n hulporganisasie. Caring Daisies, net soos die Boere in Nood-groep en georganiseerde landbou, is nog onverpoosd besig om boere te help. Verlede jaar is boere in die Vrystaat en Wesstreek gehelp en hierdie jaar help hulle weer medeboere in die Kaap.

Die situasie in die Karoo lyk veral sleg. Boere sukkel om hulle diere te voer en baie vee moes al doodgemaak word. Die lente het nou begin en daarom kan warmer temperature verwag word in daardie gebiede.

“Ek dink die boere lê ons almal na aan die hart. Hulle is uitgelewer  aan die natuur en het nie werklik beheer nie. Ek en jy kan harder werk, meer ure insit en nog kliënte soek, maar hulle is totaal afhanklik.  Ek dink dit is die rede hoekom ons altyd sal probeer help indien dit vir ons moontlik is. Ons fondse is egter baie beperk en ons is totaal afhanklik van skenkings,” sê Anria van Heerden van Caring Daisies.

“Vibro Bricks verskaf 26 trokke gratis en Dawid van Aswegen van Texan Petroleum het die diesel vir ons geborg. Ons en Jakaranda FM se Good Morning Angels Fund dek die verskil en ons het ook intussen ‘n skenking van R35 000 van die Round Table gekry en KPMG het vanoggend ‘n bykomende bedrag van R40 000 inbetaal. Indien daar nog fondse beskikbaar is, gaan ons nog trokke na die onderskeie droogte geteisterde gebiede stuur,” sê Anria.

Al die vragmotors is Mercedes Benz-vragmotors, waarvan daar ses wipbakvragmotors  is, elf drie-asvragmotors en agt gelede vragmotors. Hulle gee ook die bestuurders van die vragmotors en elke bestuurder is baie trots om deel te wees van die projek.

“Die voer en mielies wat ons stuur is deur die boere van die Pretoria, Standerton en die Val-distrik geskenk. Johan Pistorius is ‘n baie dinamiese boer in die omgewing en dit is sy inisiatief,” sê Anria.

Die voer sal deur Burre Burger versprei word tussen die boere wat dit nodig het. Die boere kom laai self die voer op in Vredendal. Burre het ook ‘n Facebookblad genaamd Droogtehulp met Burre Burger.

Caring Daisies is hoofsaaklik ‘n fondsinsamelingsorganisasie.  “Ons probeer juis daar help waar groot organisasies nie ‘n verskil kan maak nie. Ons kry op ‘n daaglikse basis versoeke wat strek van mediese hulp, kos, skoolfooie ens. Ons doen dan die nodige huiswerk rondom elke versoek en indien moontlik help ons.  Ons kan gemiddeld 80% van alle versoeke wat ons kry uitsorteer.  Ons het hierdie jaar al R2 900 000 spandeer om ‘n verskil te maak en dit sluit nie ons hulp aan die boere in nie. Ons het groot maatskappye wat op ‘n gereelde basis vir ons geld gee soos We BUY Cars en dan hou ons twee groot fondsinsamelingsfunksies per jaar. Ons gholfdag is reeds verby en ons veiling is volgende Donderdag 21 September. Ons het verlede jaar oor die R2 000 000 op die aand ingesamel,” sê Anria.

Sy voeg by deur te sê enige donasie help. “Elke R10 maak ‘n verskil.”

Jy kan ook help:

Enige skenkings vir die boere in die Noord-Kaap kan gemaak word aan Caring Daisies.

Rekeningnaam: Caring Daisies

Rand Merchant Bank (FNB)

Rekeningnommer: 62321551906

Takkode: 222-026

Verwysing:  #BoereHulp

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0