Net begrip en samewerking kan snotsiekte stuit

Screenshot 2023-02-10 084730
’n Melkboer van die Suid-Kaap het agt verse verloor as gevolg van die snotsiektevirus wat vermoedelik versprei is deur ’n buurman se wildebeeste. (Foto: Verskaf)
deur Tisha Steyn
՚n Melkboer van die Suid-Kaap het einde 2022 agt verskalwers weens snotsiekte verloor.
Volgens die boer het kalwers wat in Junie gebore is, aan die begin van Augustus begin siek word. “Die eerste kalf se kop het dik geword en sy het snotsiektesimptome getoon. Sy het eers in die een oog en toe die ander een blind geword. Nog ՚n kalf het ՚n bloederige afskeiding uit die neus gehad.”

Omdat die versies geroggel het, het die boer aanvanklik gedink dis longontsteking en hy het dienooreenkomstig behandel. “Die blindheid en veral die seertjies in die bek het my bekommer, want dit was toe juis die tyd toe nog ՚n vlaag bek-en-klouseer elders in die land uitgebreek het.”
Bevestig
Hy het ՚n veearts gekontak wat monsters van die siek kalf by ՚n laboratorium laat toets het. “Die DNS-toets was positief vir snotsiekte wat deur wildebeeste gedra word,” het die veearts by navraag gesê. “’n DNS- toets kan nie ՚n vals-positief lewer nie en dit het bewys die besmetting is bo enige twyfel veroorsaak deur die virus wat deur wildebeeste gedra word.”

Volgens die veearts is daar ook ander suiwelboere in die omgewing wat verliese kon gely het, maar dalk het hulle nie eens geweet wat hulle kalwers makeer nie. “Daar is geen entstof of doeltreffende behandeling teen snotsiekte nie en die besmette kalwers vrek gewoonlik,” sê hy.
Dr Leana Janse van Rensburg, staatsveearts van die Departement van Landbou op George, het bevestig dat gevalle van snotsiekte in September 2022 in die Suid-Kaap aangemeld is. Die siekte, wat deur laboratoriumtoetse bevestig moet word, is aanmeldbaar, maar die staat voer geen beheer daaroor uit nie en betaal nie vergoeding aan boere wat vee weens die siekte verloor nie.

In 2019 het dr Edwin Dyason, die vorige staatsveearts wat in 2020 afgetree het, aan ՚n plaaslike koerant in Riversdal gesê gevalle van wildebeesen skaapverwante snotsiekte kom elke jaar regdeur die Suid-Kaap voor.
Bly eerder stil
“Omdat die owerhede of die wildboere hulle nie aan die siekte steur nie, is ek maar versigtig om iets te sê wat tot my nadeel kan strek,” sê die boer, wat die melk van sowat 550 koeie aan ՚n internasionale aankoper verskaf. Verse wat nie as vervangingsverse gehou word nie, asook ou koeie wat nie meer na wense produseer nie word op veilings te koop aangebied. In alle gevalle word van ՚n melkboer verwag om enige siektes aan te meld.

Hy vermoed die kalwers, wat in ՚n kamp langs die pad staan, kon besmet geraak het deur die vervoer van wildebeeste in toe trokke wat aan die bokant oop is, wat daar verbyry op pad na ՚n wildboer waar gereeld wildveilings gehou word.
“My grootste vrees is dat as my beeste op hierdie manier snotsiekte kan kry, die kans goed is dat hulle ook met ander siektes soos bek-enklouseer besmet kan word. Miskien kan ՚n moratorium op die vervoer van blouwildebeeste geplaas word?
“Ek weet nie wat my te doen staan nie: bly ՚n mens maar stil en gaan aan? As ek die uitbreking aan die groot klok hang, kan ek nie melk verkoop of my verse veiling toe vat nie. Dit is ՚n tragiese besigheid, en biosekerheid gaan vir die hoenders.”

Oordrag
Marzanne Roets van die Nasionale Dieregesondheidsforum verduidelik die verloop van die siekte soos volg:
Soos met ander herpesvirusse, vestig die snotsiektevirus lewenslange latente besmetting in die natuurlike gasheer, in die geval wildebeeste. Die gasheer kom niks oor nie en die siekte word nie na ander wildspesies oorgedra nie. Dit versprei ook nie tussen beeste nie, en mense kan dit ook nie kry nie.
Die virus versprei hoofsaaklik deur inaseming, maar daar kom gevalle voor waar kalwers voor geboorte of gedurende die eerste paar maande van hulle lewe besmet kan word.

Simptome
Kliniese tekens van die siekte is koors (rektale temperatuur van meer as 42 °C, gebrek aan eetlus, traanvorming en seertjies op die neusspieël en in die bek, en oorvloedige oog- en neusafskeiding.
Volgens haar vrek duisende beeste jaarliks aan dié siekte, wat ekonomiese verliese vir bees- en melkboere veroorsaak.
Die diere ly omdat hulle dikwels ernstige longontsteking kry, wat daartoe lei dat hulle moeilik asemhaal en uiteindelik in hulle eie slym versmoor.
Beeste met gevorderde stadiums van snotsiekte word dikwels doodgemaak
om verdere lyding te voorkom.
Voorkoming
Die belangrikste is om kontak te vermy tussen draers of vermeende reservoirgashere (wildebeeste) en spesies wat klinies vatbaar is (beeste).
Wildebeeste, wat die siekte maklik oordra, moet altyd van beeste geskei word. Wanneer die wildebeeste verwyder word, is die virus ook weg, MAAR omdat die inkubasietydperk maande kan duur, kan die siekte by sommige beeste wat spanning ervaar, soos verskuiwing na ՚n ander plaas, voorkom.

Beeste ontwikkel selde die virus wat met skape vereenselwig word, maar dit is tog raadsaam om skape en beeste afsonderlik te huisves omdat die lammers die virus aktief afskei.
Wanneer ՚n uitbreking voorkom, moet vatbare diere dadelik van verdagte gevalle geskei word. Omdat die inkubasietydperk baie lank kan wees, kan die siekte maande lank voorkom.
Deur die diere se spanning te verminder, kan die siekte wat subklinies of sonder simptome, of gevalle waar diere lig aangetas is, voorkom word.
Volgens Marzanne word kommersiële entstowwe tans ontwikkel, maar dit is nog nie beskikbaar nie.

Wetgewing
Daar is tans geen statutêre beheermaatreëls vir snotsiekte nie. Die siekte is in 1984 onder die Wet op Dieresiektes as ՚n beheerde siekte verklaar. In 1987 moes boere hulle plase registreer as hulle wildebeeste wou aanhou en hulle is net toegelaat om dit te doen as aan streng vereistes voldoen word.
Verdere beheermaatreëls het bepaal dat wildebeeste slegs met ՚n geldige permit vervoer mag word en dat dié spesie van ongeregistreerde eiendom verwyder moes word.
Hierdie beheermaatreëls is egter in 1993 opgehef en sedertdien dra die onbeheerde beweging van wildebeeste by tot ՚n toename van die siekte oral in die land waar wildebeeste voorkom of hervestig word.
Aanmelding
Wanneer die vermoede van ՚n aanmeldbare en of beheerde siekte bestaan, moet die eienaar of betrokke veearts dit by die Departement van Landbou se staatsveearts aanmeld wat ՚n ondersoek sal gelas. Monsters van die siek dier moet by ՚n goedgekeurde laboratorium ingedien word sodat toetse die voorkoms van die siekte kan bevestig.
Indien die dier positief vir die siekte toets, moet voorgeskrewe vorms voltooi word wat by die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling ingedien moet word.

Skadevergoeding
Ten spyte daarvan dat die siekte as aanmeldbaar verklaar is, aanvaar die staat geen verantwoordelikheid vir enige skade nie, vervolg niemand wat besmette wildebeeste vervoer of aanhou nie, en betaal ook nie vergoeding aan ՚n boer wat weens die siekte verliese gly het nie.
Gevolglik is die boer op homself aangewese om besmetting te probeer verhoed en indien dit nie moontlik is nie, moet hy maar verlief neem met die verlies. Hy kan probeer om die wildboer te oorreed om vergoeding te betaal, wat meestal nie werk nie omdat die wildboer bewyse soek, of hy kan ՚n kriminele of siviele saak aanhangig maak, wat hom nog tyd en geld gaan
kos.

Melkprodusente-organisasie (MPO)
Fanie Ferreira, hoofuitvoerende beampte van die Melkprodusente-organisasie (MPO) het simpatie met die melkboer.
“՚n Mens kan aanvaar dat alle wildebeeste draers van snotsiekte is – die ironie is dat dit hulle glad nie aantas nie. As ՚n melkboer weet sy buurman het blouwildbeeste, moet sy biosekuriteit net nog beter wees as selfs met bek-en-klouseer.
“Samewerking tussen bure is noodsaaklik. As gesprekvoering op niks uitloop nie, is al genade maar om ՚n kriminele saak aanhangig te maak, veral as die melkboer kan bewys hy boer al lank op die plaas en dat die snotsiekte slegs voorkom sedert die wildboer blouwildebeeste ingebring het.”
Volgens Fanie is die MPO gereed om melkboere by te staan, al is hulle nie lede van die organisasie nie. “Dit gaan oor die gesondheid van die bedryf en ek is bereid om die melkboer te help om die regte pad te volg om die saak
verder te vat.”

Wildlife Ranching SA (WRSA)
Volgens dr Peter Oberem, Wildlife Ranching SA (WRSA) se direkteur belas met Teling, Dieregesondheid en Biosekuriteit, is alle wildebeeste draers van die siekte. Omdat daar meer blouwildebeeste as swartwildebeeste voorkom, is eersgenoemde vanselfsprekend meer dikwels die draers.
Alhoewel die siekte aanmeldbaar is en ՚n gevaar vir beeste kan inhou, word die spesifieke virus nie aan enige ander dier buiten beeste oorgedra nie. Dit word ook nie oorgedra aan mense nie en die produkte van die kudde is geskik vir menslike gebruik.
Omstandighede bepaal hoe aansteeklik die virus is en hoe vatbaar die dier is wat besmet word. “In hierdie geval was die blouwildebeeste wat gevang en vervoer is onder spanning en die virus vermenigvuldig vinniger in sulke omstandighede. Omdat die virus deur die lug versprei, is dit heeltemal moontlik dat dit uit die verbygaande trok kon gewaai het en die kalwers langs die pad besmet het.” Hoeveel wildebeeste vervoer word, hoeveel virusse uitgeskei word, die tipe trok, die afstand van die pad af, windrigting en baie ander faktore sal ՚n rol speel.

Omdat die inkubasietydperk baie lank kan duur is dit nie altyd moontlik om ՚n spesifieke voorval soos die verbyry van ՚n trok met die betrokke besmetting te verbind nie.
“Die enigste manier om wrywing tussen die wildboer en die melkboer te verminder berus daarop dat die partye voortdurend met mekaar in gesprek moet bly om die risiko’s te bespreek. Albei moet besef dat die moontlikheid van besmetting bestaan en albei moet maatreëls tref om dit te voorkom. Hulle moet mekaar se eiendom en regte respekteer.”
Kontakbesonderhede
Fanie Ferreira, Melkprodusenteorganisasie (MPO) 083-453-9339 of fanief@mpo.co.za
Marzanne Roets, Nasionale Dieregesondheidforum 083-393-7228 of admin@nahf.co.za
Verwysingsbronne
De Klerk, G., Pienaar, H. (2016) Controlled and Notifiable Diseases. National Animal Health Forum http://nahf.co.za/controlled-andnotifiable-diseases/
Grobler, W. J. Snotsiekte. Bergbos Dierekliniek. https://www.bergbosvet.co.za/snotsiekte.htm
Snotsiekte onder skape in die Karoo (2020) Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/kundiges/vravir-faffa/snotsiekte-onder-skape-indie-karoo-20200608
Snotsiekte-oordraging (2018) Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/kundiges/vra-vir-faffa/snotsiekte-oordraging-20180212
Staatsveearts: Snotsiekte nou ‘n uitbreking (2019) Suid-Kaap Forum https://www.suidkaapforum.com/news/article/agriculture/staatsveearts-snotsiekte-nou-n-uitbreking-201905020954