Categories: Stock and game farmingPublished On: 24th November 2016

Nasionale Veiling bewys: Brahmanboere belê in die toekoms

By 5 min read
1039 words
Brahmane

brahmankoei-feature

“Ek het baie navrae gehad oor die koei en kalf. Die kalf kom uit ’n Ivory-bul uit die stal van V/B8 (V8) Brahmane in Amerika. Ek het die saad ingevoer van daar af en ek is die enigste ou in Suid-Afrika wat die kalf het. Die koei kom uit R10 Brahmane uit, van die R10/67-bul.”

So gesels Hannes Liebenberg van SHL Brahmane (Koster) wat by die Brahman Beestelersgenootskap se Nasionale Veiling die rekordprys van R110 000 behaal het vir sy koei en bulkalfie. Aan koperskant vertel Hannes Vosloo, wat namens Arc-en-Ciel Brahmane van Delmas gebie het: “Ons kyk maar watter genetika, watter bloedlyne, gaan vir ons werk en ons is doodtevrede met wat ons gekoop het.”

Hy sê hulle het minder diere as gewoonlik by die veiling gekoop, bloot as gevolg van die droogte wat hulle drakrag verminder het. Oor die algemeen was die kopers en verteenwoordigers van BKB, wat jaarliks die veiling hanteer, aangenaam verras met die gehalte van die diere wat aangebied is, selfs in die droogtetyd.

Jan Mostert van BKB Louwid sê daar het 85 kopers geregistreer en hulle kon kies uit die room van die ras: “Die gehalte van die aanbiedings was baie, baie goed. Die stoetbulle het teen ’n goeie gemiddelde prys van naby R100 000 verkoop, daar is goeie pryse vir embrio’s en saad behaal, maar die verrassing vir die dag was beslis die koei en kalf wat vir R110 000 verkoop is.”

Adel Schoeman, wat tydens die Presidentsdinee as Jong Teler van die Jaar aangewys is, het voor die veiling aan ProAgri gesê: “Ons verwag die beste, maar ’n mens weet nooit wat die mark in die droogte sal maak nie. Ons is darem nie kwaad vir ons diere nie; ons kan hulle weer terugvat huis toe.”

Haar bul, B124, het verseker nie saam met haar teruggegaan huis toe nie. Hy is vir ’n allemintige R100 000 aan Hansie Viljoen Boerdery van Leeudoringstad verkoop. Die ander R100 000-bul was HJW 11-169 van Hennie en Marelize Jacobs (HJW Brahmane) wat aan De Waal Nigrini (DK Nigrini) van Parys verkoop is.

HJW Brahmane het ook die duurste vers, HJW 13-245, gelewer, wat vir R75 000 aan Schalk Burger Boerdery verkoop is, en die duurste vroulike dier, HJW 12-168, wat vir R90 000 aan DK Nigrini verkoop is.

Die goeie pryse wat vir vroulike diere behaal is, het ook net weer die belang van die rol wat goeie moeders in die opbou van ’n kudde speel, beklemtoon. Op die Presidentsdinee het twee telers toekennings ontvang vir hulle uitsonderlike koeie:

Mike Bentley het ’n toekenning ontvang vir die mees produktiewe Brahman-koei. JH 58-18 het in haar produksie-leeftyd van 23 jaar 20 natuurlike kalwers geproduseer. Dit is ’n gemiddelde tussenkalfperiode van 372 dae.

Llewellyn Labuschagne het die toekennning ontvang vir die oudste en mees produktiewe Brahman-koei wat steeds aktief is. R10 98-25 is 18 jaar oud en het al 19 kalwers gehad (drie stelle tweelinge) en ses embrio-kalwers. Llewellyn is die vise-president van die Brahman Beestelersgenootskap. Hy sê Suid-Afrikaanse boere het die ras ontsettend verander, met meer vleis, beter bespiering en stewiger beenstruktuur as die Brahmane elders in die wêreld.

Hy sê: “Ons is in die vleisbedryf en jy het alleenlik ’n bestaansreg as jy diere kan produseer wat in die voerkrale kan aanpas en goed presteer.”

Die skou het ook die beoordelaars met ’n paar moeilike keuses gelaat. Jan van Zyl sê: “Die gehalte van die diere is elke jaar beter. Daar is elke jaar by ons beoordelaarskonferensie sekere aspekte wat ons uitwys waaraan gewerk kan word. Die mense vat dit huis toe en gaan werk daaraan.”

Hier is ’n kort opsomming van die algehele raswenners in die verskillende kategorieë:

Nie-haltermak raskampioenkoeie:

Rooi: HJW 14-86 van HJW Brahmane Wit: HJW 13-245 van HJW Brahmana

Reserwe rooi: BOSR 15-84 van BW Staal (Edms) Bpk

Reserwe wit: BOS 15-274 van BW Staal (Edms) Bpk

Nie-haltermak raskampioenbulle:

Rooi: HJW 13-263 van HJW Brahmane

Wit: BOS 11-383 van BW Staal (Edms) Bpk

Reserwe rooi: JHA 13-46 van JHA Prinsloo Reserwe wit: BOS 12-309 van BW Staal (Edms) Bpk

Haltermak raskampioenkoeie:

Wit: HOT 13-255 van Brandwater Boerdery

Rooi: DSV 12-118 van Bonvu Brahmane

Reserwe wit: BHH 13-124 van JH Hattingh

Reserwe rooi: BON 14-3 van Bonvu Brahmane

Haltermak raskampioenbulle:

Rooi: BON 14-5 van Bonvu Brahmane

Wit: BAR 13-80 van WJ Barnard

Reserwe rooi: WWH 13-600 van WW Hattingh

Reserwe wit: R10 12-314 van L Labuschagne

BAR 13-80 van Willem en Adri Barnard wat aangewys is as die Senior Kampioen en Raskampioen (Wit) is ook by die afgelope Alfaweek se Nasionale Interras-kompetisie aangewys as die Interraskampioen van Suid-Afrika.

Willem en Adri was baie betrokke by die organisasie van die geleentheid. Willem sê hy glo dit is belangrik dat dit goed moet gaan met die Genootskap, want dan gaan dit ook goed met die telers en dan kan die Brahmanbedryf internasionaal bevorder word.

’n Liefde vir die ras is die beginpunt. Soos Adri sê: “’n Brahman het ’n persoonlikheid en ’n karakter wat geen ander bees na my mening het nie. Dis ’n liefde vir ’n Brahman wat ons het.”

Vir meer inligting oor die geleentheid en die ras, kontak gerus vir Karin Botha by 051-446-4619/3452 of karin@brahman.co.za of besoek www.brahman.co.za.

Brahmane

Dit is dié ma en kalfie van ’n trotse Hannes Liebenberg
wat soveel opwinding by die veiling verwek het met ’n
gesamentlike rekordprys van R110 000. Dit is R30 000
meer as die vorige rekord vir ’n koei en kalf. Schalk
Burger van Bronkhorstspruit was die koper.

Brahmane

Die Nasionale Brahmanveiling is een van die
hoogtepunte op BKB se besige veilingskalender en
van hoofkantoor af het Jacobus le Roux (links) en
Cobus Oberholster (regs) in die opwinding kom deel.
Tussen hulle staan Piet Wessels, BKB Kroonstad.

Willem en Adri Barnard het die Presidentdinee georganiseer, maar toe self ook ’n toekenning ontvang vir hulle bul BAR13-80 wat aangewys is as die Raskampioen (Wit). Die toekenning is deur Sietze Smit, rasdirekteur, oorhandig.

Willem en Adri Barnard het die
Presidentdinee georganiseer, maar
toe self ook ’n toekenning ontvang
vir hulle bul BAR13-80 wat aangewys
is as die Raskampioen (Wit). Die
toekenning is deur Sietze Smit,
rasdirekteur, oorhandig.

Brahmane

Die Bullseye bul, B124, van Adel Schoeman is vir R100 000
verkoop. Adel is ook aangewys as die Jong Teler van die
Jaar. Sy het haar toekenning van Riaan Theron, raadslid,
ontvang.

Brahmane

Brahmane

Die Staal-boerdery het verskeie toekennings vir
hulle spogdiere ontvang. Hier ontvang Burnie
Staal die toekenning vir die Suksesvolste Produksieveiling
van Stephan Coetzee. Stephan en Andries
Marx is die manne wat gesorg het dat alles
rondom die skou en veiling vlot verloop.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0