Categories: NewsPublished On: 5th October 2015

Na gaan ons boere (se oeste) geweeg word

By 3 min read
649 words

Elke knars vindingrykheid en slim boereplan gaan hierdie seisoen toegepas word in die wedloop om te kyk wie Suid-Afrika se Kip Cullers is. Dié Amerikaanse boer het plaaslike boere se verbeelding aangegryp toe hy verlede jaar by boeredae voor volgepakte sale vertel het hoe hy dit reggekry het om ‘n soja-oes van 10,8 ton per hektaar te behaal.

Hy was ‘n wenner van die opbrengskompetisie wat deur die National Corn Growers Association in Amerika aangebied word en plaaslike boere het by die boeredae die wens uitgespreek om ook aan so ‘n kompetisie deel te neem.

 Du Pont Pioneer het die uitdaging aanvaar en die eerste jaarlikse Weeg & Wen™  nasionale opbrengskompetisie vir mielie- en sojaboere in Suid-Afrika is vandag bekend gestel. Die kompetisie is oop vir alle graanboere in Suid-Afrika en word in samewerking met John Deere, FNB en Senter360 gehou.  Die Proteïennavorsingstigting is ook as vennoot betrek om hulle kundigheid te deel.

“By DuPont Pioneer was ons doel nog altyd gewees om wetenskap en tegnologie op maniere wat die meeste saak maak na die wêreldmarkte te bring. Die opbrengskompetisie is nóg ’n voorbeeld hiervan en bied boere ’n geleentheid om genot daaruit te put om nuwe produksiepraktyke te toets terwyl hulle opbrengste maksimaliseer en idees uitruil,” sê Rikus Schoeman, DuPont Pioneer se bemarkingsbestuurder in Suid-Afrika. “Boere sal ’n unieke geleentheid hê om mee te ding, te netwerk en om van mekaar te leer.”

Deelnemende boere sal in vier mieliekategorieë meeding: Besproeiing Nasionaal, Droëland-Wes, Droëland-Watertafelgronde en Droëland-Oos.  Sojaprodusente wat deelneem, kan inskryf vir Besproeiing Nasionaal, Droëland Oostelike Hoëveld (insluitend die Oos-Vrystaat), Droëland KwaZulu-Natal en Droëland-Wes.  In die konteks van ’n droë klimaat, word daar verwag dat die besproeiingskategorie vir mielies die felste mededinging gaan lok. In hierdie kategorie sal die eerste vyf plekke toekennings ontvang, met drie plekke in al die ander kategorieë. Daar gaan ’n totaal van 14 mielie- en 12 sojatoekennings wees.

Die inligting wat DuPont Pioneer gedurende hierdie kompetisie insamel, is nog ’n manier waarop die maatskappy met produsente saamwerk om  vooruitgang aan te vuur en om die opbrengs per hektaar op die plaas te verbeter deur die regte produk op die regte hektaar aan te plant. Dit help ook om skeppendste bestuurspraktyke te identifiseer wat gebruik word om die hoogste mielie-opbrengste moontlik te behaal.

Rikus het op die bekendstellingsgeleentheid aan die media gesê dit maak nie saak watter maatskappy se saad die boere plant nie, dit moet net geregistreerde saad wees en al die praktyke moet wettig wees in terme van geregistreerde oesbeskermingsmiddels en bemesting. Hy sê Du Pont Pioneer is die beste geposisioneer om die nasionale kompetisie aan te bied, want hulle verteenwoordigers is regdeur die hele land, “tot op die kleinste dorpies.”  

Carel Theron, bemarkingsbestuurder van John Deere, die mede-hoofborg van die kompetisie het by die geleentheid gesê hulle neem graag deel, want boere vereenselwig hulle met wenners. Hy sê dit bly John Deere se fokus om voortdurend nuwe kommersiële boere te wen vir John Deere.  

Pryse ter waarde van R100 000 of R50 000 per kategorie is in die spel en natuurlik die eer om as Suid-Afrika se oeskoning gekroon te word. Daar sal van wenners verwag word om hulle kundigheid met medeboere te deel.

Tony Esmeraldo van Du Pont Pioneer en Carel Theron van John Deere by die bekendstelling van die Weeg & Wen Opbrengskompetisie.  

Inskrywings is beperk tot 200 boere; dit wissel tussen 50 en 20 per kategorie. Die wenners sal tydens die toekenningsgeleentheid in Augustus 2016 aangewys word.  Inskrywings het vandag, op 1 September 2015 geopen en sluit op 30 April 2016 of wanneer die maksimum aantal inskrywings behaal is. Dit kos R1 000 per inskrywing. Om te wen, moet produsente die mielie- of soja-oes met die hoogste opbrengs oor ‘n minimum van twee hektaar stroop.

Die opbrengs sal onafhanklik geweeg en bevestig word.

Om meer oor die kompetisie uit te vind, besoek WeegenWen of stuur ’n epos aan weegenwen@pioneer.com.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0