Na 11 maande word kontrakteur vir doodspad aangestel

pothole
As gevolg van die haglike toestand van die R30 doodspad, het nagenoeg 25 mense die afgelope maande hul lewens verloor. Alhoewel Vrystaat Landbou (VL) die uiteindelike aanstelling van kontrakteurs (wat die R30 sal herstel) verwelkom, kon baie lewens gespaar gewees het indien die regering vroeër toegetree het.
Kempen Nel, voorsitter van die Infrastruktuur komitee van Vrystaat Landbou (VL), sê dit is kommerwekkend dat landsburgers se lewens op die spel geplaas word as gevolg van burokratiese rompslomp en gevolglike staatsverval.
Sedert Januarie 2022 se vloede is ʼn deel van die R30 amptelik gesluit. Waarskuwingsborde en versperrings is egter gesteel en is die pad daagliks gebruik. Grondwalle is later oor die pad gegooi wat boere afgesny het van graan silo’s.
“Die paaie departement het aan boere toestemming gegee om met hul trekkers en sleepwaens oor die grondwalle te ry ten einde
hul produkte af te lewer,” sê Uys van Heerden van Allanridge Landbouvereniging.
Die R22-miljoen kontrak beoog om ʼn 300m stuk pad op die R30 te herstel. Werk moes reeds vanaf 20 November begin, maar blyk dit dat die pad heeltemal gesluit moet word tydens die herstel tydperk.
VL is bekommerd oor die tydsame proses om kontrakteurs aan te stel. Volgens dr Jack Armour, VL kommersiële bestuurder, het 500 kontrakteurs aansoek gedoen vir al die padtenders wat die departement uitreik en dié moet elk fisies deur twee komitees goedgekeur word. Dit word nog verder bemoeilik agv omslagtige bemagtigsvereistes wat in die verlede
veroorsaak het dat kader-kontrakteurs, wat nie die werk kan doen nie, aangestel word.
“VL se posisie bly dat ons sou verkies dat die strategiese belangrike R30 pad van Virginia tot Orkney deur SANRAL oorgeneem word, wat ʼn baie beter rekord het van paaie onderhou as die provinsiale departement van paaie,” sê Armour.
Bron: Vrystaat Landbou