’n Regophakkige bees sal nie die paal haal nie

xxxx
Die ergste agterbeenkonstruksiefout by grootvee is regophakkigheid, wat in Engels postleggedness genoem word. Regophakkigheid is wanneer die agterbene te regop is. Die probleem strek vanaf die sitbeen deur die draaibeen, deur die skaambeen en die dybeen, deur die kniegewrig tot by die hak.
Alle diere op vier bene moet ’n buig in die kniegewrig hê, anders sal die dier op sy tone loop, wat sal veroorsaak dat te veel van sy tone wegslyt. Dit sal lamheid tot gevolg hê. ’n Bul het ’n buig in die knie nodig om te kan dek. Tydens die dekproses moet ’n springbeweging gemaak word om bevrugting te laat plaasvind. ’n Regophakkige bul vind dit moeilik om daardie wipbeweging te maak. Wanneer ’n bees regophakkig is, is sy kans op lamheid baie hoog, hoër as enige ander konstruksiefout, en dit is ongelukkkig ’n hoogs oorerflike probleem.
Die bees wat regophakkig is sal nie met gemak ver kan loop om te kan wei nie. Hy sal baie meer lê as gevolg van sy ongemak, pyn en gewrigsontsteking wat kan plaasvind. Swak kondisie sal die gevolg wees. Om so ’n dier se pyn en ongemak te verlig, sal die korrektiewe hoefsnoeier die hakke kan wegsnoei sodat hy gemakliker kan loop. Maar dit verlig net die ongemak – dit stel nie die probleem reg nie.
Omdat dit ’n oorerflike probleem is, moet ’n regophakkige dier liefs nie vir aanteeldoeleindes gebruik word nie. In die skouring word so dier summier uitgegooi of behaal ’n baie swak plek.
In die volgende paar uitgawes sal pootdefekte en -siektes bespreekword en daar sal vertel word hoe Johan Hoewe te werk gaan om dit te hanteer.