Categories: Artikels, NuusPublished On: 19th December 2022

‘n Groen Somerkersfees…

By 8 min read
1481 words

Screenshot 2022-12-19 140158

Die Gamkarivier by Letjiesbos het afgekom na die goeie reën in die omgewing. (Foto: Déan Gous)

deur Tisha Steyn

Boere in die Sentraal-Karoo, Klein-Karoo en Tuinroete jubel oor die reën wat wyd in die gebiede uitgesak het.

“Ek het vanoggend met ‘n knop in my keel opgestaan oor die lieflike reen wat ons van gisteraand af kry,” vertel Henry Meyer van die plaas Pleasant View in die Mosselbaai-omgewing. Hy is Agri Wes-Kaap se streeksvoorsitter vir  die Tuinroete (Streek 17).

Die Calitzdorpdam in die Nelsrivier by Calitzdorp het op 5 Desember 57% water gehad. (Foto: Tisha Steyn)

“Tot vanoggend, Dinsdag 14 Desember, was ons nog in ‘n benarde situasie oor die min reën wat ons sover gekry het. Oor die naweek het ons 10 mm uit misreën gekry, maar gisteraand seweuur het die sluise van die hemel oopgemaak. Ons het 44 mm reën gekry. Ek het gedink aan Koos Doep se liedjie ‘Helder Somerkersfees’: Vanjaar gaan ons ‘n lekker groen Kersfees hê …”

Volgens Henry het dit by Herbertsdale 35 mm gereën en oor die naweek 24 mm by Brandwag, nader aan Mosselbaai as wat sy plaas is.

“Ons is goddank bly. Gisteroggend het ek nog na vanjaar se syfers gekyk en was bekommerd. As daar minder as 60% van jaar se reën val, kan dit as droogte geklassifiseer word. Ons het nog net 60% van ons jaarlikse 650 mm gekry, so ons kort nog baie – maar dié reën het ons syfers ‘n groot sprong gegee.”

Die reën het binne ‘n kort rukkie uitgesak. “Hier by ons kan die grond sowat 8 mm per uur opneem en ‘n totaal van sowat 40 mm teen daardie tempo om die grondprofiel nat te maak. Die kleigrond vat moeilik vog omdat dit so dig is, en ons het ‘n paar jaar van bogemiddelde reën nodig om dit goed nat te maak.”

Die Gamkadam by Beaufort-Wes, waar hierdie foto geneem is, is tans 84,5% vol. (Foto: Tisha Steyn)

Hy het verwag dat baie water gaan wegloop omdat die reën so intens was en in ‘n kort rukkie geval het. “Maar die uiters droë grond weens intense hitte en suidoostewinde het baie van die water opgeneem. Ons grondvogmeters het dit bevestig.

“Ek het gisteroggend met ‘n nekspasma van spanning oor die swak syfers wakker geword, maar die spasma is nou weg en ons het klaar begin tef saai en ander planne maak.”

Maar ‘n boer moet mos kla, se hy. “Die donderstorm het die krag afgeslaan en ons het heelnag nie krag gehad nie. As gevolg daarvan en met beurtkrag kon ons nie die water wat in die strome afloop in die damme pomp nie…”

Meiringspoort vanaf Barry Meijer se plaas in die Swartberge. Die poort is Sondag toegemaak omdat verwag is dat reën in die Sentraal-Karoo die Grootrivier, wat deur die poort vloei, kan laat afkom. (Foto: Tisha Steyn)

En al is diesel se prys met amper R1,50 af, is dit steeds duur, net soos kunsmis en saad – alles wat na die Suid-Kaap vervoer moet word. “Maar die reën maak dit makliker om met geloof en hoop saad in die grond te sit.”

Sentraal-Karoo

“Eindelik het die Karoo sy deel ook gekry met reën wat die eerste naweek in Desember oor die verskillende streke uitgesak het,” sê Déan Gous, voorsitter van Agri Sentraal Karoo.

“Dit is ‘n wonderlike wegspring vir die somerreënseisoen. Dit volg nadat die meeste van ons gebiede sowat ‘n maand gelede ook ‘n bonusbui van tussen 15 en 20 mm gekry het.”

Beaufort-Wes: Volgens syfers wat Déan ontvang het na Sondag en Maandag se donderbuie het Koup 4, wat onder Beaufort-Wes val, gemiddeld 20 mm gekry wat van 6 mm op plekke tot 42 mm op ander plekke geval het. Letjiesbos het gemiddeld 43 mm gemeet met tussen 16 en 62 mm op plekke. Neverset se gemiddeld was 38 mm, met tussen 24 en 53 mm op plekke. Nuveld het gemiddeld 25 mm gekry. Op plekke het dit 4 mm gereën, terwyl ander plekke 50 mm gekry het.

Die Stompdriftdam by Oudtshoorn het tans 23,87% water. (Foto: Tisha Steyn)

Laingsburg se gemiddeld was 25 mm, met 10 tot 50 mm op plekke. Merweville het gemiddeld 23 mm gekry, met tussen 8 en 36 mm op plekke. Murraysburg se gemiddeld was 24 mm, met tussen 10 en 55 mm op plekke. Nelspoort se gemiddeld was 28 mm, met tussen 5 en 50 mm. Prins Albert se gemiddeld was 19 mm, met tussen 12 en 30 mm op plekke, en Rietbron- het gemiddeld 35 mm gekry, met tussen 5 en 65 mm op plekke.

“Heelwat van ons plase, veral in die Rietbron en Letjiesbos-gebiede, het die afgelope twee dae altesaam oor die 100 mm reën ontvang,” sê Déan.

Die meeste riviere in die gebied het afgekom. “Hier en daar is geringe vloedskade aangemeld – meestal laagwaterbrûe wat beskadig is en skade aan heinings.

“Eskom het egter meer skade aan hooflyne na sekere gebiede ondervind en van die gebiede is van Saterdag af sonder krag.”

Volgens Déan duur die droogte al tien jaar. Die boere is baie opgewonde en meer positief. Kuddes moet egter nou weer opgebou word nadat veegetalle tydens die droogte drasties verminder is.

“Mens sou kon sê dat die droogte oor die grootste deel van die Sentraal-Karoo in ‘n mate gebreek is, veral na verlede jaar se goeie reën. Mens moet egter in gedagte hou dat die veld in die Karoo na so ‘n uitgerekte droogte nie vinnig herstel nie en dit kan vyf of ses jaar neem om voldoende te herstel.”

Hoe lank dit sal vat om te herstel hang af van hoe droog dit was, maar ook hoe die boer tydens die droogte sy kudde bestuur en verminder het, en sy veld laat bewei het. “Sodra daar droogte is, is jy veronderstel om jou getalle met ‘n minimum van ‘n derde te verminder. In ons geval was daar baie boere wat uiteindelik omtrent net hulle aanteeldiere gehou het.”

Met hierdie lang tydperk van aanhoudende droogte het die meeste van die eetbare bossies gevrek, en selfs bome wat redelik droogtebestand is, soos soetdoring en karee, het ook gevrek.

Die gras wat gou na reën opkom, is seisoensgebonde. “Binne ‘n paar maande is dit droë gras en jy moet vir die diere byvoeding gee. Talle Karoobossies is goed aangepas om ‘n kort droogte te oorleef en herstel vinnig, selfs binne ‘n jaar, na goeie reën.”

Klein-Karoo

Die water van die harde bui reën het op Mount Pleasant kortpad gevat deur die tuin en skuur waar die werktuie staan. (Foto: Henry Meyer)

Willie Barry, wat vier kilometer van Gamka-Wes buite Calitzdorp boer, sê ‘n donderbui het Maandagaand 48 mm reën binne 90 minute gelewer. By Gamka-Oos het 40 mm op een plaas geval, maar binne ‘n kilometer daarvandaan het ‘n stortbui na raming minstens 100 mm laat uitsak sodat water vir die eerste keer in jare in ‘n kloof afgekom het. Van die boere se wortel- en preiesaad het weggespoel. In Calitzdorp self is 70 mm gemeet. “Ons is dankbaar vir die reën, al gaan dit met skade gepaard,” sê Willie.  

Dean Barnard van Waboomskraal sê dit het tussen 5 en 10 mm gereën. “Dit is baie droog en die damvlakke begin nou kwaai sak. Die watertafel in die landerye en boorde is baie laag en ons het nie water om dit reg te stel nie, maar ons glo ons gaan binnekort lekker reën kry.”

Volgens Barry Meijer van die plaas Meijers Rust naby De Rust, het dit 10 mm by hom gereën. “Ons hele wêreld is desperaat,” sê hy.

Gronddamme op Henry Meyer se plaas Pleasant View het water gekry al kon die water wat in die bergstrome afgekom het, weens ‘n kragonderbreking en beurtkrag nie in damme gepomp word nie. (Foto: Henry Meyer)

Volgens Wendy Young van Uniondale het dit Maandagnag 46 mm gereën en Dinsdag nog 10 mm.

Johan Keller van Volmoed sê dit het tussen 17 mm en 20 mm in die omgewing gereën en leë velddamme het water gekry. “Ons het drie weke gelede ‘n leibeurt uit die Stompdriftdam gekry, maar die vars water met stikstof laat die droë geel gras oornag groen verkleur.”

Johan Koegelenberg van Rooiheuwel  buite Oudtshoorn, sê dit het sowat 20 mm by hom gereën.  Weens die droogte kan hy slegs 10% van sy grond bewerk waar hy vanjaar bietjie lusern geplant het. “Die krisis is groter as drie jaar gelede,” sê hy.

Die Gamkadam by Beaufort-Wes, waar hierdie foto geneem is, is tans 84,5% vol. (Foto: Tisha Steyn)

Hy meen dit is nie moontlik om ‘n boerdery uit die Kammanassiedam aan die gang te hou nie, want die dam kry baie min water. “Wanneer dit in die Uniondale-omgewing goed reën, kom die riviere af, maar dit het nie die afgelope klompie jare daar gereën nie.”

Weens die droogte is daar nie lusernsaad beskikbaar nie, want dit is te droog om lusern vir saad te kweek. “Die bietjie lusern wat ek wel aan die gang hou, word nou deur torre opgevreet!”

Volgens Willem Fourie, bestuurder van die Stompdrift-Kammanasie Watervereniging (SKWV) wat Oudtshoorn se boere bedien, was die Stompdriftdam vroeg in Desember 23,87% vol, terwyl die Kammanassie 3,66% water gehad het.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0