Moringa is goed vir mens en dier

moringa 1 april
Boere in die rypvrye gedeeltes van die land het die geleentheid om wins te maak met die aanplanting van Moringa oleifera op kontrak (lees meer in ProAgri 204). Jy hoef egter nie Moringa aan te plant om die voordele van die veelsydige, voedsame plant te geniet nie.
Moringa oleifera het ’n uitstekende voedingswaarde vir ’n wye verskeidenheid diere. Gerhard Abrie, konsultant by Moringa4all, sê na aanleiding van die artikel in ProAgri het hulle heelwat vrae ontvang oor die kweek en gebruik van Moringa. Baie boere wou weet hoe hulle dit vir hulle diere, van beeste tot visse, kan gebruik. Hier is die antwoord: Moringa oleifera is baie bruikbaar as voerbymiddel vir diere aangesien hulle blare hoogs voedsaam is. Die blare is smaaklik, verteerbaar en bevat ’n gebalanseerde chemiese samestelling van proteïene en minerale. Moringablare word geredelik geëet deur beeste, skape, bokke, varke en hase.
Die gebruik van Moringablare vir pluimvee, varke en vis is haalbaar, maar net in beperkte hoeveelhede as gevolg van die teenwoordigheid van vesel en antivoedingsfaktore. Moringa oleifera is ’n belowende proteïenbron vir insluiting in ’n visdieet op lae vlakke. Dit is ryk in proteïen en is vir verskeie visspesies getoets as ’n potensiële plaasvervanger vir vismeel.
Voedingsproewe toon egter dat slegs ‘n beperkte hoeveelheid Moringa veilig kan gebruik word in visdieet, wat waarskynlik te wyte is aan die teenwoordigheid van fenole, saponiene, fitosuur en ander stofwisselingsprodukte met antivoedingseffekte in vis. Hoenders wat met Moringablare en -sade gevoed is, se eierproduksie toon ’n verbetering. Die insluiting van Moringa oleifera in die dieet van groeiende tradisionele hoenders het geen negatiewe uitwerking op lewendeliggaamsgewig, gemiddelde daaglikse gewigstoename, voeromsetverhouding, karkas- en orgaaneienskappe, gesondheid en sterftesyfers in voëls in vergelyking met die kontrolegroep nie.
Groeiende lammers se gewig het toegeneem toe katoensaadkoek in hulle dieet met Moringablare vervang is saam met ’n lae-gehalte hooi. By melkbeeste het die voeding van Moringablare ’n positiewe uitwerking op melkproduksie gehad sonder om die melksamestelling te verander. Wanneer dit aangebied word as enigste voer (vars of ingekuil) plus melasse, toon dit dieselfde resultate as ‘n lae voedingswaardevoer aangevul met konsentraat. In groeiende tollies is Moringablare gebruik as enigste voeding by ’n konsentrasie van 0,59% biologiese waarde. Dit het gelei tot ’n daaglikse gewigstoename van 380 g.
Moringa oleifera toon dus baie belofte as dierevoeding en verdere navorsing is nodig oor die waarde daarvan in die vee- en akwakultuurbedryf. In baie lande in Afrika kan die Moringa oleifera-boom op groot skaal verbou word vir die vervaardiging van natuurlike en omgewingsvriendelike gesondheids- en voedingsprodukte.
Vraag van Nico van Pretoria
Ek het vier Moringabome in my tuin waarvan ons die blare oes om in ons slaai in te werk. Die bome is al twee jaar oud. Toe dit so warm en droog was, het van die blare geel geword en noudat dit goed gereën het, het die bome begin verlep. Waarom sou dit gebeur?
Antwoord:
Die geel blare is ’n manier van die boom om sy blare te speen en so die droogte te oorkom. Dit help om gedurende sulke droë tye die boom ’n bietjie water te gee. Die verlep van die boom is heelwaarskynlik omdat die grond nie goed dreineer nie en die wortel het begin vrot toe dit baie water gekry het. Maak seker dat die Moringaboom in grond geplant word wat goed dreineer.
Vraag van Peet van Warmbad
Ek en my broer wat naby Alldays boer het op dieselfde tyd Moringasaad geplant wat ons by dieselfde verskaffer gekry het. Ons het baie reën gekry en my bome het goed gegroei. My broer het minder reën gekry en sy bome het beter gegroei. Waarom so?
Antwoord:
Humiditeit en dag- en nagtemperature speel ’n baie groot rol in Moringabome se groei. Omdat die bome redelik droogtebestand is, kon die bome in Alldays beter vaar as die bome in Warmbad.
Stuur jou vraag oor Moringabome na Gerhard Abrie by info@moringa4all.co.za.


Waar kan ek saad te koop kry van Moringa Olefera ?
Hi Ryno, dankie vir jou navraag.
Stuur jou vraag oor Moringabome na Gerhard Abrie by info@moringa4all.co.za.
Groete, Redaksie-span