MOLATEK: Unieke lek aanvulling vir herkouers

Espee Olivier
Espee Olivier, areabestuurder vir KwaZulu-Natal en bemarkingspesialis vir MOLATEK veevoere, het hulle unieke produkte en diens tydens vanjaar se NAMPO by Bothaville in die Vrystaat toegelig.
MOLATEK is die vervaardiger van ‘n unieke reeks veevoer produkte vir herkouers. Van ‘n klein begin meer as 40 jaar gelede het MOLATEK ontwikkel tot een van die grootste dierevoedingsmaatskappye in Suid-Afrika vandag.
MOLATEK het bekendheid en vertroue verwerf onder boere deur die jare vir sy wye reeks aanvullende lekke en konsentrate wat gerugsteun word deur kundige advies en tegniese kennis regoor Suid Afrika, Namibië, Botswana, Swaziland en Lesotho.
MOLATEK: ‘n unieke produk
Espee Olivier, areabestuurder van KwaZulu-Natal en bemarkingspesialis vir MOLATEK, het MOLATEK se unieke aard tydens vanjaar se NAMPO by Bothaville in die Vrystaat toegelig.
“MOLATEK is uniek nie net in die sin van die kultuur en die mense wie ons is en wie ons bedien nie, maar ook in die uniekheid van ons produk,” sê hy.
MOLATEK produkte word gebaseer op die hoë gehalte melassestroop en begasse wat verkry word vanuit die suiker vervaardigings proses.
Suikerriet van hoogstaande gehalte word in die Komatipoort en Malelane omgewing van die Mpumalanga Laeveld en in die Pongolagebied van KwaZulu-Natal onder besproeiing verbou.
Die suikerriet word gemaal en verwerk om begasse en melasse te onttrek wat MOLATEK dan van die suikermeulens af kry. Bagasse is die droë veselryke pulp wat agterbly wanneer suikerriet fyngemaal word om die vloeistof te onttrek.
“Hierdie bagasse word dan verder verwerk deur MOLATEK se fabriek om optimale vlakke van onverdunde hoë gehalte melassestroop te absorbeer wat dan die basis van ons produkreeks vorm,” verduidelik Espee.
MOLATEK het sy eie ten volle toegeruste laboratorium waarin eksterne roumateriale, asook die vervaardigde produkte geanaliseer word om te verseker die produkte voldoen aan internasionale veiligheids- en gehalte standaarde.
Voor en gedurende die vervaardigings proses word die roumateriale en die produkte wat bestem is vir die mark by tot ses verskillende kontrolepunte getoets om te verseker dat dit aan die hoogste vervaardigingstandaard, asook voeding- en gesondheidsvereistes voldoen.
MOLATEK se navorsing span het die navorsing van die afgelope 12 tot 15 jaar in samewerking met verskeie rolspelers en universiteite saamgevat in ‘n publikasie Dierevoeding in Praktyk wat vir produsente beskikbaar is.
“Ons kan onomwonde verklaar dat produsente met ‘n geruste hart MOLATEK veevoere kan koop omdat die produk deur ten minste ses gehalte kontrolepunte getoets is voordat dit op die plaas aankom.”
MOLATEK se nasionale tegniese verkoopspan bestaan uit 38 gekwalifiseerde mense.
“Ons sien onsself as ‘n vennoot in die herkouerbedryf,” sê Espee. “Ons is daar om waarde toe te voeg tot jou boerdery en langtermyn verhoudinge en vennootskappe te bou.
“Ons ondersteun ons kliënte en voornemende kliënte op die plaas en waar hulle hul diere skou en vertoon en ons deel ook in hulle sukses – ons is uit die aard van die saak deel van ons kliënte se sukses. Dit is vir ons uiters belangrik om hulle te help presteer sodat ons ook volhoubaar kan wees vorentoe.”
Vir meer inligting oor MOLATEK kontak jou naaste Tegniese Adviseur of besoek hulle webwerf by www.molatek.co.za.
