Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 17th August 2023

Merkwaardige vrou lewer bobaas vervoerdiens met Scania

By 6 min read
1162 words

1O0A9656

Scania is ‘n wêreldleier in die verskaffing van vervoeroplossings. Saam met hulle vennote en klante lei hulle die oorgang na ‘n omgewingsvolhoubare vervoerbedryf.

Scania ondersteun vervoermaatskappye regoor die wêreld deur swaar vragmotors na elke klant se behoefte te lewer. Oor die jare het al hoe meer vroue as rolspelers in die vervoerbedryf na vore gekom. Nie net ondersteun Scania vervoermaatskappye nie, maar hulle ondersteun en bemagtig ook vroue in die bedryf om hulle doelwitte te bereik en hulle drome te bewaarheid.

Een so ‘n voorlopervrou is Iselle Eibich. Iselle beskryf Scania as die Rolls Royce van vragmotors. Sy is al vir meer as 20 jaar verantwoordelik vir die bestuur van die bedrywighede by Coldsure Distribution Services (CDS).

Die maatskappy se sukses word toegeskryf aan die ontelbare ure wat Iselle daaraan wy om te verseker dat daar vir elke besonderheid voorsiening gemaak word en dat werknemers begeesterd bly. Iselle glo sterk dat die bou en koestering van klanteverhoudings net so kritiek is soos die werwing van klante, aangesien winsgewende groei rus op ‘n onderneming se vermoë om klante te behou.

Iselle, die bedryfshoof van CDS, sê: “My loopbaan het aanvanklik in die tandheelkundebedryf begin, waarna ek en my man saam met my swaer ‘n baie klein koerierdiens met twee bakkies begin het. Ek het toe nog aan my voltydse werk vasgehou, terwyl ek na die kinders omgesien het en die koerierdiens se werk na-ure gedoen het.”

Iselle se dryfkrag bou ‘n onderneming

In ‘n oogwink het vervoer Iselle se lewensdrang geword: “Ek is verslaaf aan vervoer; ek is baie lief vir wat ek doen!” voeg sy by.

Iselle brei uit: “Die mense maak wat ek doen die moeite werd. Werkskepping en stabiliteit vir ons vragmotorbestuurders, met die wete dat soveel gesinne maaltye op hulle tafels het as gevolg van die bestaan ​​van CDS, is werklik bevredigend. En die kersie op die koek … die vragmotors lyk en klink net so bevredigend!”

Iselle sê: “Elke dag is ’n nuwe uitdaging in die vervoerbedryf. Ons is eintlik vragmotorbestuurders; dit sal nie verander nie, maar die omstandighede waarin ons funksioneer dwing my om buite die raamwerk te dink – dit verskuif ons grense. Ons los klante se probleme op en voorsien hulle van tasbare oplossings. Ons bereik wat soms onmoontlik lyk. Maar die belangrikste is dat ons ‘n doel dien; ons vervoer goedere regoor die land na en van baie ondernemings en huishoudings. Ons dien ons mense; ons dien ons land.”

CDS en Scania se verhouding

“Ons verhouding met Scania het in 2012 begin met die aankoop van ‘n P250 6×2 en drie R410-vragmotors. Ek kan nog onthou hoe opgewonde die res van die span was aangesien die voorhakers die eerste drie kombinasievoertuie in die vloot was. Die besluit om na ‘n groter kategorie vragmotor te skuif, het baie deure vir ons oopgemaak,” sê Iselle.

CDS het tans meer as 70 Scania-vragmotors in hulle vloot. “Ons het ‘n aflewering van 10 R410 6×4’s aan die einde van Julie 2023 ontvang en ons beplan om vroeg volgende jaar nog ‘n bestelling te plaas,” sê sy.

Iselle sê: “Vir my is Scania soos die Rolls Royce van vragmotors. Die paneelbord se uitleg, die kajuitgerief en die stylvolle voorkoms van die vragmotors is virseker die beste.”

Wanneer iemand vir Iselle vra hoe die Scania-handelsmerk met ander handelsmerke in haar vloot vergelyk, antwoord sy: “Jy kan nie vergelyk nie, dit is net nie vergelykbaar nie. Die Scania-handelsmerk is voortreflik. Scania IS die naam vir kommersiële voertuie.”

Prettige feite oor die Scania-vloot by CDS:

  • Hulle H158 – 2014 R410 6×4 MSZ het die meeste kilometer op die klok – 855 334 km.
  • Die R410 is bewys as die beste in brandstofverbruik.
  • 90% van hulle vloot is Scania R410’s (Iselle is verlief op hierdie spesifieke model).
  • Scania het hulle werkswinkel geakkrediteer.

Op ’n vraag oor die algemene instandhouding aan die vragmotors, sê Iselle: “Ons werkswinkeltegnici is goed vertroud met die werking van die Scania-trokke. Sou ons bykomende gespesialiseerde kennis benodig, is daar altyd ‘n Scania-depot wat ons kan betrek.”

Iselle is tevrede met die diens en ondersteuning wat hulle van Scania ontvang. “Dit berus regtig op jou verkoopsverteenwoordiger om te verseker dat jy ‘n uitstekende naverkoopdiens ontvang en ons het die beste verkoopsverteenwoordiger by Scania,” voeg sy by.

Scania bied ‘n vierjaar- (600 000 km) -waarborg op hulle vragmotors. Scania bied ook ’n padbystanddiens deur hulle oproepsentrum, 24 uur, 7 dae per week, 365 dae van die jaar.

Iselle se boodskap aan ander vroue in die bedryf is om in hulleself te glo en trots te wees op hulleself. “Ek wil vroue regtig aanmoedig om ‘n loopbaan in die vervoerbedryf te volg — hetsy as ‘n sake-eienaar of in ‘n posisie met besluitnemingsvereistes. Vervoer is ‘n lonende bedryf, nie net geldelik nie, maar dit bevorder ‘n gevoel van waarde en verhoog moreel. Daar is baie geleenthede in vervoer. En uiteindelik, wanneer jy ‘n besluit moet neem oor watter vragmotor om te koop, koop Scania!”

Die CDS-voetspoor in die boerderybedryf

Coldsure-verspreidingsdienste bied pasgemaakte oplossings om aan die unieke behoeftes van hulle klein, medium en groot klante regoor Suider-Afrika te voldoen.

“Ons lewer heeljaar ’n groot bydrae tot die boerderybedryf. Ons is die voorkeurvervoerder vir baie pakhuise en plase regoor die land. Ons spesialiseer in temperatuurbeheerde vervoer vir vrugte-, groente- en vee-(vleis)boere. Ons het ook daaglikse graanvragte vir ons supergelede vragmotors met seilkante (tautliners) na verskeie bestemmings regoor die land en oor die grense. Ons het ook ‘n kantwip-afdeling wat eksponensieel groei,” verduidelik Iselle.

Om ‘n vrou te wees in ‘n manswêreld

Iselle sê dat die vervoerbedryf steeds oorheers word deur mans. Daar is nie baie vroue in sleutelposisies in die bedryf nie. Sy glo dat vroue hulleself deur opvoeding en aktiewe deelname aan die bedryf moet bemagtig om op dieselfde vlak as hulle manlike eweknieë te kan meeding.

“Selfbemagtiging is die beste manier om die situasie te verander. Hierdeur kan vroue hulleself kwalifiseer om op gelyke vlak om geleenthede mee te ding,” sê sy ter bevestiging dat daar meer vroue in vervoer nodig is.

Iselle sê dat vroue ook meer bemagtig kan word in die werkplek deur beleid in te stel wat gelykheid bevorder. “Ons kan stelsels, soos die staat se bemagtigingsbeleid (BBBEE), gebruik om die vooruitgang van vroue in alle bedrywe te bevorder. Kwalifiserende vroue moet gelyke geleenthede gegun word as hulle manlike eweknieë in die werkplek.”

Oor die betekenis van vroulikheid is sy uitgesproke dat vrou-wees die beste ding is wat jy ooit kan wees. “Ons is gebore versorgers, oppassers, emosionele wesens en strategiese wesens. Ons is ontwerp om altyd dinge te laat werk, altyd ‘n plan te maak. Ons stel mense eerste. Ons daag op, maak nie saak wat nie,” sê sy.

Iselle sê ’n vrou is soos ’n strokiesprentheld sonder ’n masker. Sy glo dat veerkragtigheid ‘n inherente vermoë van vroue is. ‘n Mens hoef dit net in te span en te ontwikkel.

Iselle het haar grootste lesse toegeskryf aan geloof en vertroue in God. “My tydsberekening sal nooit God se tydsberekening wees nie,” het sy bygevoeg.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0