Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 27th June 2025

Melkboere suig maar aan die agterspeen

By 6 min read
1267 words

henry 3

Henry Meyer, suiwelboer van Mosselbaai, sê boere verkoop verse omdat hulle nie met die melkprys hulle skuld soos ՚n koöperasierekening kan betaal nie. (Bron: Verskaf)

Hoewel melk een van die hoekstene van voedselsekerheid in Suid-Afrika is, meen suiwelboere in die Suid-Kaap die bedryf is glad nie rooskleurig nie. Veral in die lig van Wêreldsuiweldag wat op 1 Junie gevier is, is dit belangrik om te verstaan dié bedryf suig maar aan die agterspeen …

“Ons boere se groot behoud is ons geloof,” sê Henry Meyer, ՚n suiwelboer van Mosselbaai en verteenwoordiger van die gebied by Agri Wes-Kaap. Hy haal Jannie de Villiers, destyds van Graan SA, aan wat in ՚n Afrikaanse koerant geskryf het: ‘Boere leen vyf-, sesmiljoen rand wat hulle in die grond sit, en dan begin hulle bid.’ Dit is vir my nogal ՚n mooi samevatting van boere en hulle geloof: En dit raak al belangriker as ՚n mens na die insetkoste kyk.”

Volgens Henry is insetkoste nie die enigste probleem nie. “Die melkbedryf is nie gesond nie. Die eerste ding is: Die melkbedryf is nie gekoppel aan markkragte nie. Ons het verlede jaar die situasie op ՚n vergadering met die Mededingingskommissie bespreek: Ons sit nou al jare aan die Melkprodusenteorganisasie (MPO) om te gaan vra hoe dit dan so kan werk dat ons uitgelewer is aan die besluite van melkkopers,”vertel hy, al is hy half ongemaklik vir die reaksie wat sy uitlatings kan ontlok: “Ek is maar ՚n klein produsent wat net-net oorleef …”

Winterpremie

In die gesprek met die Mededingingskommissie wou melkboere weet hoe dit dan is dat die verskillende melkprodukte almal oor dieselfde kam geskeer kan word wanneer dit by melkpryse kom. “Ons het agtergekom dat ons die afgelope twintig jaar of wat nog nooit ՚n melkprysvehoging gekry nie – die melkkopers gee net vir ons ՚n winterpremie van ՚n paar sent om melkboere se koste aan voer te help delg,” verduidelik hy.

“As een van hulle besluit hulle skuif hulle produkprys op, skuif al die ander ook hulle pryse op. Dieselfde geld ՚n vermindering in prys, soos toe bek-en-klouseer in 2024 in die Oos-Kaap uitgebreek het en melkkopers die winterpremie weggevat het. Ons betaal lank na die winter nog af aan ons winterskuld.”

Volgens Henry bepaal die Mededingingskommissie dat iemand wat jou ՚n verhoging in pryse gee nie meer as 3% mag wegvat nie. Omdat dit nie ՚n verhoging as sodanig is nie, kan melkkopers dit enige tyd opskort, soos wat hulle gewoonlik aan die einde van die winter doen.

Arbeid op is duur op ՚n suiwelplaas, veral oor naweke wanneer werkers vir ՚n voldag betaal moet word terwyl hulle net ՚n beperkte aantal uur in die stal werk. (Bron: Verskaf)

Volume-premie

Met die prysstruktuur kry melkboere ook ՚n volume-premie. “Dit is minder lonend om by my min melk, soos 4 000 liter elke tweede dag te kom haal as by ՚n groot produsent waar hulle 10 000 liter per dag kom haal.

“Hulle is besig om stelselmatig die kleiner boer uit te wurg uit die stelsel uit. Dit raak ՚n ekonomie van skaal in die melkbedryf – jy kan net nie meer oorleef nie. Ons oorleef, maar ons sny dit tot op die been.”

Arbeidswette

Om te kan oorleef, ‘oortree’ melkboere wette, soos die arbeidswette wat stilletjies ingekom het, wat dit baie moeilik maak. “Ons werk lang ure, 24/7, 365 dae per jaar. Mense werk oor naweke en die lone en oortyd maak dit geweldig duur. Op ՚n Saterdag is die voorgeskrewe loon 1,5 maal en op ՚n Sondag of openbare vakansiedag is dit dubbel die loon.”

Die probleem is dat die werkers ses uur per dag werk in die melkstal werk: drie uur in die oggend, en drie in die aand. “Sodra hy meer as vier uur werk, moet hy voldag betaal word. Op ՚n Sondag moet ek hom vir daardie tyd dubbel betaal vir ՚n dag wat hy nie voldag werk nie. En dan is daar die arbeidswet wat bepaal dat die ou na soveel dae moet rus.”

՚n Ander melkboer verduidelik die dilemma so: Hy moet drie mense aanhou, so hy moet twee huise bou. Dit het ՚n groot nadraai, want volgens die munisipale regulasies mag net ՚n sekere aantal huise op die eiendom gebou word.
As daar meer as vyf huise is, word dit as dorpstigting beskou. Daar kan nie meer rioolgate gebruik word nie, maar ՚n rioolaanleg moet gebou word.

“As jy nader as 600 m van die naaste stroom af is, moet jy ՚n impakstudie laat doen, anders gaan hulle nie my bouplanne goedkeur nie. Vir die bouplanne het jy ՚n argitek nodig wat jou R45 per vierkante meter vra. Dan moet ek aansoek doen vir die bouplanne om deur die munisipaliteit goedgekeur te word vir nog ‘n katastrofiese hoeveelheid geld.”

Genetika-oorskot

Volgens Henry is daar ՚n geweldige goeie diere met goeie genetika in die mark. “Dit was nooit so nie. Omdat jy nie jou kudde kan uitbrei nie, word die verbeterde genetika in die mark gesit, so die kuddes raak oud. Die mark vir verse tans versadig; niemand kan koop nie. Jy kan nie geld gaan leen en ՚n vers koop nie, so ՚n kleiner ou kan nie so uitbrei
nie. Ouens verkoop die verse omdat hulle nie met die melkprys hulle skuld soos ՚n koöperasie-rekening kan betaal nie.”

Hy vertel van ՚n groot melkboer wat onlangs 1 000 verse in die mark gesit het. “Ek self het verse verkoop wat uitgevoer is na Zimbabwe, Zambië en Malawi waar die regerings besig om in hulle eie suiwelbedryf te belê vir beter
voedselsekerheid.

“Met bek-en-klouseer moet daardie sake weens die uitvoerverbod gestaak word. Daardie koper sou R15 000 vir ՚n vers betaal het, wat nou drie maande in ՚n kwarantynstasie moet staan wat hom R3 000 sou kos, so hy is nou bereid om net R12 000 te betaal en ek moet die prysverlaging vat, niemand anders nie.”

Volgens hom koop boere in elk geval eerder ՚n koei met ՚n bewese agtergrond as ՚n vers wat minder melk gaan lewer en haarself nog moet bewys. Maar om ՚n koei te koop, kan ook ՚n risiko van siekte of gebreke inhou.

Henry Meyer melk beeste wat op aangeplante weiding loop, maar hy moet steeds sekere tye van die jaar voer. (Bron: Verskaf)

Kostes

Tegnologie het ook duur geraak, want landbou-inflasie trek al by 70%, so pryse skiet die hoogte in sodra verskaffers van tegnologie hoor die boere het bietjie meer gekry. “Om nou ՚n nuwe melkmasjien op te rig praat jy van tussen R50 000 en R100 000 per punt, afhangende van hoeveel bells and whistles jy aansit.”

Hy verstaan die beginsel, want toerustingvervaardigers van het ook uitdagings. “Hy moet ՚n klomp goed inbou om binnevet aan te sit om te vergoed vir al die ander goed wat bykom, soos sy verliese, swak produktiwiteit, stakings wanneer hulle fabrieke staan… Na Covid is almal maar besig om daardie verliese te probeer inhaal – en die melkboer moet betaal.” Voermaatskappy vat ook hulle pond vleis. Hulle wil by hom weet wat sy koste is, want hulle grond hulle pryse op wat die melkboer vir sy melk verdien.

Insetkoste is nog ՚n knyptang: Kunsmiskoste wat weens die oorlog in Oekraine opgeskiet het, het nog nie weer volledig gedaal nie. “Die melkkopers weet presies wat jou kostes is, maar hulle weet ook jy sit met ՚n vars produk wat jy moet verkoop, so jy aanvaar maar die prys wat hulle aanbied.

“Melkboere is eintlik verskriklik doeltreffend as jy kyk wat hulle regkry met die pryse wat hulle kry. Die aantal suiwelboere in die land het van 3 600 tien jaar gelede afgekom na 800 – nou die dag nog was dit 836, maar ՚n klomp
het intussen toegemaak. Baie het opgehou omdat dit meer lonend is om met graan, wat hulle voorheen vir voer geplant het, te boer. Maar al is daar minder suiwelboere, produseer ons nog net soveel melk!”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0