Meer mense honger teen 2025

hunger 4
Inwoners van talle lande in Afrika en Asië het nie voedselsekerheid nie. (Bron: Pixabay)
Bykans die helfte van Suid-Afrika se bevolking gaan teen 2025 nie weet waar hulle volgende bord kos vandaan gaan kom nie. Volgens die bevinding van die Shoprite-groep, wat op Wêreldvoedseldag sy voedselindeks vrygestel het, sal 48,96% van die mense in Suid-Afrika teen 2025 nie genoeg kos hê om te eet nie.
Die indeks is saamgestel uit inligting van die World Data Lab wat gebruik word om voedselsekerheid in die toekoms te voorspel. Hoewel die prentjie beslis nie rooskleurig is nie, blyk dit dat dit effens beter gaan met Suid-Afrikaners as in 2020 toe Covid-19 se grendeltyd op sy kruin was en toe 52% van die bevolking voedselonsekerheid ervaar het.
Volgens die indeks sal Limpopo met 54% die slegste daaraan toe wees, gevolg deur KwaZulu-Natal (53%), Noordwes (53%) en die Noord-Kaap (52%), Gauteng (47%) en die Wes-Kaap (41%). In sommige provinsies sal meer mense in landelike gebiede geraak word, maar in ander provinsies sal stedelinge honger ly.
Die vlak van voedselonsekerheid hang ook af van die persentasie mense in die stede of op die platteland. In die Oos-Kaap se landelike gebiede gaan daar 59% honger mense wees, vergeleke met die 13% honger mense in landelike gebiede in die Wes-Kaap, waar meer honger mense (87%) in die stede sal voorkom.
Die Shoprite-groep het die navorsing laat doen om die aandag te vestig op maniere hoe voedselsekerheid teen 2030 in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte kan wees.
Elke bietjie help

Sanjeev Raghubir, Shoprite se hoof vir volhoubaarheid en korporatiewe maatskaplike besteding. (Bron: Shoprite Groep)
Sanjeev Raghubir, Shoprite se hoof vir volhoubaarheid en korporatiewe maatskaplike besteding, sê die syfers is onaanvaarbaar hoog en te min mense raak beter daaraan toe. Oor twee jaar gaan bykans die helfte van die bevolking honger slaap.
Volgens die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) is dit makliker om te sorg dat mense kos het, as om die probleme wat deur hongersnood veroorsaak word op te los. Buiten maatskaplike onstabiliteit strem dit ook die fisiese en verstandelike ontwikkeling van kinders, wat uiteindelik bydra tot die armoede- en hongersiklus.
Volgens Sanjeev gaan oplossings nie net daaroor om geld te skenk nie; daar is ander maniere om te help soos byvoorbeeld om ‘n kostuin te begin of in ‘n sopkombuis te help. “Selfs klein ingrypings kan ‘n verskil maak.”
Shoprite het verskeie projekte wat help om honger te verlig. Skenkings van R5 per persoon aan die Act For Change Fund by winkels van Shoprite, Checkers en USave word deur middel van goedgekeurde hulporganisasies soos Rise Against Hunger en Meals on Wheels versprei.
Die winkelgroep het al R50 miljoen bestee aan 215 kostuine in die land en nog sewe in ander Afrikalande. Die kostuine het gehelp om meer as 61 000 mense se hongerpyne te stil. Shoprite het ook reeds surplus kos ter waarde van R226 miljoen, wat vir 67 miljoen maaltye betaal, aan gemeenskapsvennote in Suid-Afrika en elders op die vasteland geskenk.
Voorts word ook 114 kinderontwikkelingsentrums ondersteun waar 1,1 miljoen voedsame etes aan 7 287 kinders verskaf is. Vir baie kinders is die kosprogramme by skole die enigste voedsame maaltyd wat hulle kry. Sedert 2016 verkoop Shoprite brode, en sedert 2017, ook wegneemetes teen R5 stuk.
“Ons is besig om ons pogings teen honger te verskerp, maar ‘n gesamentlik poging deur landbou, vervaardigers, handelaars, die regering, nie-regeringsorganisasies en enigiemand is nodig. Om honger aan te spreek is nie net die regte ding om te doen nie, dit help ook om ons toekoms te verseker,” sê Sanjeev.

Veral kinders in geweldgeteisterde, arm gemeenskappe oral in die wêreld ly dikwels honger. (Bron: Pixabay)
Hoekom honger?
Dit is maklik om te verstaan hoekom baie mense nie weet waar more se brood vandaan gaan kom nie as die gebrek aan ekonomiese groei, die enorme werkloosheidsyfer en maatskaplike toelaes wat aan miljoene uit die belastingbetaler se sak betaal word, in ag geneem word. Baie meer mense moet deel in die koek wat nie groot genoeg is nie.
Volgens Statistiek SA se jongste 2022-sensus het Suid-Afrika se bevolking van 51,7 miljoen in 2011 aangegroei tot 62 miljoen. Dit is ‘n toename van sowat 20% oor tien jaar en verteenwoordig ‘n toename van 1,8% per jaar, terwyl die ekonomie die afgelope 10 jaar met net 1% gegroei het.
Die werkloosheidsyfer was in Mei 32,7%, wat neerkom op 7,8 miljoen mense.
In Maart vanjaar het Sassa (South African Social Security Agency) bekend gemaak dat meer as 18 miljoen mense maatskaplike toelaes ontvang. Dit is sowat 47% van die bevolking.
- Wanneer daar nie genoeg kos is nie of wanneer dit te duur is, is veral haweloses, bejaardes, vroue, kinders en gestremdes kwesbaar. (Bron: Pixabay)
- Onder- en wanvoeding het ՚n invloed op die fisiese en verstandelike ontwikkeling van kinders en kan tot vetsug en suikersiekte in volwassenes lei. (Bron: Pixabay)
Voëlgriep
Om sake te vererger is een van Suid-Afrikaners se goedkoopste bronne van proteïen bedreig deur die ergste uitbreking van voëlgriep ooit wat daartoe gelei het dat miljoene hoenders van kant gemaak en eiers vernietig moes word om die verspreiding daarvan te keer. Dit lei tot tekorte en hoër pryse. Die gevaarlike H5N7-voëlgriep wat tot ‘n verwoestende uitbreking in die noordelike provinsies gelei het, het intussen ook na die Wes-Kaap versprei.
Kostuine keer die honger weg
In die Wes-Kaap het die landbouminister, dr Ivan Meyer, in Oktober tydens Voedselsekerheidsmaand die skep van kostuine aangemoedig. Die tema van die program is “Water is kos, water is lewe. Laat niemand agter nie”. Volgens Dr Meyer bly dit een van die provinsie se grootste uitdagings om voedsel-onsekerheid en wanvoeding aan te spreek.
Altesaam 123 huishoudings in Kranshoek, Crags, KwaNokuthula, New Horizon en Wittedrift het voordeel getrek uit die departement se One Home, One Garden-inisiatief.
“Dit is ‘n doelgerigte poging om weg te beweeg van kospakkies, wat nie volhoubaar is nie, deur eerder huishoudings te motiveer om hulle eie kostuine aan te lê.”
Gesinne in die gebiede wat aan die projek deelneem het die basiese toerusting ontvang om ‘n kostuin aan te lê. Hulle sal ook opleiding ontvang oor watter kossoorte die beste aard en hoe dit gekweek moet word, asook inligting oor pes- en plaagbeheer.
- Burgemeester David Swart en dr Ivan Meyer luister wat Nettie Gladstone oor haar kostuin te vertelle het. (Bron: Wes-Kaapse Departement van Landbou)
- Food Mountain: ՚n Berg kos is deur vrywilligers ingesamel vir verspreiding aan behoeftige gemeenskappe in die Plettenbergbaai-omgewing. (Bron: Wes-Kaapse Departement van Landbou)
Sodra die krisis rondom voëlgriep opgelos is, sal nog sewe huishoudings elk tien lêhenne, ‘n hokkie en genoeg hoenderkos vir drie maande ontvang.
Die projek het ten doel om seker te maak dat die gesinne deurlopend genoeg bekostigbare kos tot hulle beskikking sal hê.
Gemeenskapstuine is ook by Kranshoek Primêr, die Immanuel-kerk in Crags, en die Phakamisani Primêre skool in KwaNokuthula aangelê. Hulle is ook voorsien van infrastruktuur, toerusting, produksie-insette en opleiding.
Die departement het voorts ook die Food Mountain-veldtog begin wat kos ingesamel en oorhandig het aan verskeie nie-regeringsorganisasies en organisasies sonder winsbejag. Dit is by sopkombuise en kleuterskole in die gebiede uitgedeel. Voorkeur is verleen aan organisasies wat kinders, vroue, bejaardes en gestremdes ondersteun.
“Honger is een van die onwaardigste lydings waaraan ‘n mens onderwerp kan word,” het Dr Meyer gesê. “Ek moedig gemeenskappe aan om hulle eie kostuine aan te lê om vars, gesonde kos vir hulle gesinne te kweek.”
Hy het die inwoners ook gemaan om water spaarsamig te gebruik. “Oes reënwater vir julle tuine, dan is julle nie van munisipale water afhanklik nie. Onthou julle het water vir julle tuine nodig – water is lewe, water is kos.”
Bronnelys
Du Plessis, J. (2023) Werkloosheid in SA ‘n ‘nagmerrie’ (Maroela Media) https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/werkloosheid-in-sa-nagmerrie/
Kruger, A. (2023) A population of 62m (poorer) people. (2023) Moneyweb https://www.moneyweb.co.za/news/economy/a-population-of-62m-poorer-people/
Matshoba, A. (2023) About half of SA’s population is facing hunger come 2025. Moneyweb. https://www.moneyweb.co.za/news/south-africa/about-half-of-sas-population-is-facing-hunger-come-2025/
Schamrel, A. (2023) Staan saam teen honger, pleit Shoprite te midde van skoksyfers https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/maatskappye/staan-saam-teen-honger-pleit-shoprite-te-midde-van-skoksyfers-20231016
W-Kaapse pluimveeboere ‘moet waak teen nuwe voëlgriep’ (2023) Netwerk24. https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/landbou/w-kaapse-pluimveeboere-moet-waak-teen-nuwe-voelgriep-20231010



