Massey Ferguson skep tradisie en vooruitgang

pic1
“Massey is nie net nog ՚n trekker op die plaas nie, hy raak deel van jou gene; die plaas gaan van geslag tot geslag en so gaan dit ook met Massey. Ons harte, net soos die Stiglinghs s’n, klop Massey.”
Brendon Puttick, gebiedsbestuurder van AGCO in die Wes-Kaap, raak net so opgewonde soos sy boere oor Massey Ferguson se tradisie en tegnologie. Hendrik-Pieter en Hanro Stiglingh se plaas, Spitskop, in die Heidelberg-distrik in die Wes-Kaap, is pure Massey Ferguson-tradisie en -prestasie.
Die Stiglingh-broers is die vierde geslag op die plaas en hulle het saam met die Masseys op die plaas grootgeword.

Hendrik-Pieter vertel dat hy op ՚n 1105 MF geleer trekker ry het toe hy nog in die laerskool was. Hy en Hanro het die graan aangery silos toe en grondbewerking gedoen. “My broer was veral lief vir die trekkers. Ons was
in die koshuis en kon net naweke plaas toe kom. Hanro het ՚n 290-trekker gehad met ՚n foto van homself in die lisensieskyfiehouer. Vrydagaande het hy met sy oorpak aan gaan slaap sodat hy Saterdag vroeg reg kan wees om die graan aan te ry.”
Hulle pa, Hendrik, was oortuig daarvan dat dit sy persoonlike verantwoordelikheid was om die Massey Ferguson 36-platsnyer, waarmee hy met gemak die kontoere op die plaas kon baasraak, te bestuur. Hy het al die jare die 14-voet bandaangedrewe platsnyer verkies omdat dit smal genoeg was om die kontoere beter te hanteer.
Net soos Massey Ferguson het die boerdery nie stagneer nie, maar met nuwe tegnologie vooruit gegaan. Die broers stem saam dat die Masseys se goeie brandstofverbruik en tegnologie die nodige ondersteuning aan hulle boerdery bied.

Op Spitskop word daar met koring, gars, kanola, hawer en lusern vir die skape, en natuurlik Merino-skape geboer. Hendrik-Pieter is verantwoordelik vir die diere en Hanro vir die saaigedeelte van die boerdery.
Hanro sê die omstandighede op die plaas is soms moeilik met min reën en dit is baie belangrik dat daar deeglik vooruit beplan word, sodat die trekkers en werktuie optimaal benut word.
Hy sê die MF 8737 en die MF 7724 word goed ingespan vir hulle presisietegnologie, krag en suinige brandstofverbruik. Die 8737 gebruik sowat 20 liter per uur om ՚n 12-meter minimumbewerkingsplanter met 42 tande te sleep … en hy doen dit met gemak.

Die 7724S gebruik sowat 16 liter per uur en wys self sy staal met ՚n 7,4-meter planter. Die trekker word ook gebruik vir spuitwerk wanneer daar
klaar geplant is.
Tegnologie vir besparing
՚n Groot hupstoot vorentoe vir besparing in die boerdery is dat albei die trekkers met ISOBUS-tegnologie toegerus is, wat beteken enige ISOBUS-presisieimplememt kan met die trekker kommunikeer sonder dat hulle elkeen hulle eie skerms nodig het.
Die MF 8737 het ook ՚n Trimble-stelsel vir akkurate bestuur.
Hendrik-Pieter sê: “Die tegnologie is goed. Ons het vanjaar die MAP (monoammoniumfosfaat) wat ons in die grond plaas deur die trekker se satellietstelsel gedoen volgens die bepalings van ons oesverslag. Dit was goed om die produktiwiteit van die grond te bepaal en vas te stel waar die meeste kunsmis nodig is sodat ons ook die grond kan verbeter.”

Nog ՚n onlangse aankoop vir die boerdery is die MF 9335-selfloopspuit. Hanro sê: “Ons het die MF 9335 vir die kanola gekoop as gevolg van sy grondvryhoogte. Die kanola staan baie hoog en die spuit loop maklik bo-oor sonder om die blomme af te stamp. Hy is ook baie lig op brandstof.”
Die Stiglinghs loop die tegnologiepad saam met hulle plaaslike handelaar, Van Breda Agri van Caledon, wat die hele Heidelberg-, Overberg- en ՚n gedeelte van die Suidkaap-distrik bedien. Van Breda Agri verstaan landbou in die omgewing en ken hulle boere.
Hennie de Wet, takbestuurder, sê met die stygende koste van kunsmis en diesel is dit baie belangrik om die beste moontlike werkverrigting uit toerusting te kry. Dit gaan oor beter gehalte werk teen die mees ekonomiese spoed.
Hy sê die verhouding tussen die boer en handelaar is baie belangrik: “Hulle moet mekaar kan vertrou om die regte besluite vir die boerdery te neem.”

Hennie verduidelik dat die koste van eienaarskap gemeet moet word oor die leeftyd van die trekker. Dit gaan nie oor die aankoopprys, of prys van onderdele of versiening nie, maar dit wat die trekker oor sy leeftyd vir die boer beteken gemeet teen die totale koste. Van daar af word dit afgebreek na koste per uur of per hektaar.
Die doel van die noukeurige berekening is om vir die boer te wys wat die produktiwiteit van die trekker is en ook hoe dit oor tyd verander, sodat ՚n boer ՚n ingeligte besluit kan neem oor opgradering of uitbreiding van sy vloot.
Met AGCO se nuwe struktuur beweeg die mense van die vervaardigingsmaatskappy (Massey Ferguson) en die handelaars ook baie nader aan mekaar as vroeër, wat verseker dat die behoeftes van boere en die ontwikkelings van die vervaardiger op die plaas bymekaar kom.

Brendon van AGCO sê: “Dit is vir ons baie belangrik om die noue verbintenis met die Stiglinghs te hê. Masseys lê vir my ook baie na aan die hart, want ek het self op die plaas met hulle grootgeword.”
Hy sê vir Massey Ferguson se 175ste verjaarsdag is die bekende driehoekembleem aangepas en dit staan bekend as die Massey-bloedlyn. Hy sê: “Ons sien die hartklop van boere in die bloedlyn.”

Hendrik-Pieter is ook trots daarop om deel te wees van die 175 jaar se geskiedenis. “Vir 52 van die 175 jaar boer my familie al met Masseys. Massey was nog altyd goed vir ons.”
Jy kan ook deel word van die vooruitstrewende tradisie of jou bestaande Massey Ferguson-vloot aanvul met die jongste, nuttigste tegnologie. Kontak jou naaste Massey-handelaar of besoek www.masseyferguson.co.za.
Skakel ook Brendan Puttick (066-581-7516) vir meer inligting.