Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 12th August 2022

Man of vrou, elke boer is uniek en spesiaal

By 5 min read
945 words

case

“Ek het nie besluit om te boer nie,” lag Franelyn Hoffman, beter bekend as Lollie. “Ek het grootgeword op trekkers. In my standard agt-jaar het my pa my wakker gemaak een oggend gedurende die skoolvakansie en gesê: ‘Kom, ek het ՚n drywer nodig.’

Sy het op die wit CASE met sy rooi streep geklim en in haar hart nooit weer afgeklim nie.

Lollie het in die sewentigerjare op ՚n droëlandplaas grootgeword. In daardie jare was die Delmas-gebied in ՚n mielie driehoek vol landerye en pragtige oeste. Deesdae is dit ՚n ander prentjie as gevolg van myne en nywerhede wat nader gekruip het.

“Ek het by my ouers geleer van spanwerk; om te sien wat ՚n man en vrou saam in boerdery kan verrig,” vertel Lollie. “Dit was soms moeilik en ՚n mens kon die spanning aanvoel wan­neer dit nie reën nie, maar dan was ons altyd betyds geseën.”

In 1994 het sy met Francois Hoffman getrou en op die plaas Goedgedacht, wat hulle self gekoop het, gaan bly. “Dit was harde werk om ՚n droëlandplaas na besproeiing om te skakel,” erken sy, maar die plaas se sukses getuig daarvan dat dit ՚n goeie besluit was.

“Ons besproei mielies en sojabone, maar plant ook hierdie gewasse op droëland. Ons verskaf ertjies, suiker­mielies en aartappels vir die bevrore mark aan maatskappye soos McCain en Nature’s Garden. Verder boer ons ook met braaikuikens.”

Die Early Riser 2130-planter is nuut uit die boks! Die hele plaas is
opgewonde om dit die aankomende plantseisoen in te span.

 Vroue en mans boer saam

Waar boer en vrouwees oorvleuel, voel Lollie sy kan met gesag praat. “By my ouers het ek gesien hoe ՚n vrou haar man kan ondersteun, net soos ek moes sterk staan vir dit wat sou kom.

“My man het die afgelope drie jaar deur ՚n baie moeilike tyd gegaan. Ons was deur baie erge finansiële druk. Dit het hom heeltemal uitgebrand. Ek kan vandag getuig dat uitbranding kan oor­skakel na depressie en later selfdood.”

Na die groot hartseer het sy en haar vier kinders besluit om voort te boer en die droom waaraan sy en Francois saam gebou het uit te leef.

“Ons boere — ongeag van die taal wat hulle praat — moet opgepas word. Boerdery is ernstig in gedrang en daar moet ՚n breër besef wees van wat dit verg om vir ՚n gemeenskap kos op die tafel te sit.”

Haar respek vir ander boere kom vanuit haar eie ervarings saam met haar man en pa. “Saam het ons ge-swoeg, gesweet en gebid. Ek respek­teer mans wat sterk staan in so ՚n omgewing, want ՚n boer is nie net ՚n persoon wat ՚n pit plant nie. Hy is op soveel maniere ՚n spesiale mens wat God geskape het. ՚n Boer is ՚n wonder­werk. Hy moet op sy voete kan dink en die natuur se uiterstes in ag neem terwyl hy aan sy gesin en werknemers voorsien,” verduidelik Lollie.

Vroue moet verstaan watter druk hulle mans beleef. ՚n Man kan nie net in die huis instap en ՚n liefdevolle,  sorgvrye man wees nie. Hy het ook tyd nodig om af te skakel en te ontlaai. “Maar ons moet mekaar aanspoor, in­spireer en ons menswees behou.

“Vroue wat wil boer moet ՚n passie daarvoor hê. As jy nie daarin gebore is en met boerdery grootgeword het nie, begin van onder af. Leer by iemand. Trek jou vellies aan en maak jou hande vuil!” sê sy.

“Boer is spanwerk,” sê Lollie. Hier is sommige van haar spanlede.
Agter, van links na regs: Michelle van Rooyen, Michal Kruger, Tertius
Kruger, Jandré Senekal, en Karel Senekal. Voor, van links na regs is
Ina Meiring, Lollie Hoffman en Jannie Fourie.

Sterk vroue in ՚n manswêreld

“Dit was vir my ՚n riem onder die hart toe die ondersteunende maatskappye na my toe gekom het om te vra of ek nog die jaar gaan plant en hoe hulle my kon bystaan; en dat hulle geensins aan my getwyfel het nie.

“Almal het my met ope arms ontvang; daar was geen diskriminasie nie. Hulle het nie getwyfel dat ek en my span steeds die produk sal lewer nie,” getuig sy. CASE was een van daardie maat­skappye wat haar welkom laat voel het.

Om die plaas op te gradeer is die volgende werktuie toegevoeg: CASE MAGNUM 340 en MAGNUM 250 trek­kers, ՚n 16-ry Early Riser 2130-planter, ՚n CASE 3230-spuit, die JX 95-trekker en ՚n TLB. Die 250 is aangeskaf vir saai en diswerk, waar die 340 swaarder grondbewerking sal doen.

“Die 340 is ՚n 254 kW-trekker met ՚n hoëdruk hidrouliese pomp wat planters en spuite met hidrouliese stelsels beter beheer. Albei trekkers het die ASF-sein gratis vir vyf jaar. Dit stel Lollie in staat om haar vloot beter te bestuur. Met die tegnologie word stroperkaarte geskep en geberg, en die inligting word vir die res van die werktuie beskikbaar gestel om presisieboerdery te bevorder,” verduidelik Gerhard Lindeque, VKB Delmas se CASE-verteenwoordiger.

Die 340 het ՚n luukse kajuit met ՚n Pro1200-skerm.

Die nuwe planter sal die komende plantseisoen gebruik word. “Dit is ontwerp om eweredige en vroeë op­koms van die gewas te verseker. Dit gebruik afwaartse krag om elke saadpit op die regte plek en diepte te plant.

“Vir die eerste keer in ՚n lang tyd na my man se afsterwe is ek opge­wonde oor waar ek is, want ek sien die geleentheid, maar ek doen dit nie alleen nie. Ek het ՚n wonderlike span agter my,” sê Lollie.

Raak ook weer opgewonde oor jou plaas en spesiale boerdery met die regte toerusting! Skakel (+27) 11-922-2300 of besoek www.caseih.co.za om meer uit te vind.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0