LEXION 7000 en 8000: Ontmoet CLAAS se nuwe LEXION

claas 1
Slim stroopwerk is nou ’n werklikheid: CLAAS se nuwe APS SYNFLOW HYBRID-dorsstelsel vorm die kern van die LEXION 7000 en 8000-stroperreekse. Met enjinkrag van tot 581 kW is hierdie stropers in ’n werkverrigtingklas van hulle eie.
Die slim beheerkonsep met sy fyn aanvoeling en ’n nuwe kajuit verseker die grootste gerief en gemak vir die operateur. DYNAMIC POWER pas die enjin se kraglewering aan by die strooptoestande en verseker die beste brandstofverbruik moontlik.
Die nuwe hart: APS SYNFLOW HYBRID
APS SYNFLOW HYBRID bou voort op die suksesvolle kombinasie van ’n rotor en ’n sekondêre dwarsdrom. Die dorsdrom se deursnit verhoog tot 755 mm. Dit word gevolg deur ’n nuwe, groter voerdrom met ’n deursnit van 600 mm.
Die groot deursnit van die dorsdromme veroorsaak ’n lae-kontakhoek van 132°. Hierdie eienskappe, saam met die sinkronisasie van die spoed waarteen die dromme draai, verseker ’n egalige materiaalvloei wat die stroper ligter op brandstof maak.
Vir vinnige skakeling tussen gewasse, word al die dorsdele hidroulies aangepas, parallel met CEBIS.
’n Beheerstelsel beskerm die werktuig teen verstoppings. Dit beheer die invloei van materiaal baie fyn en is ook by die CEMOS Automatic-stelsel ingeskakel. Al die konkaafdele kan maklik van die kant van die stroper af bereik en vervang word.
Te danke aan die dromspoed wat tussen 160 en 920 omwentelinge per minuut verstel kan word, is die APS SYNFLOW HYBRID geskik vir enige gewas wat gestroop moet word.

JET STREAM-skoonmaakstelsel en die nuwe QUANTIMETER
Die JET STREAM-skoonmaakstelsel met sy groter sifoppervlak werk met ses of agt turbines afhangende van die model en is selfs teen sywaartse hellings van 20% doeltreffend. Die kaf word vooraf verwyder deur ’n ventilasietrap. Die siwwe en turbinespoed kan elektronies vanuit die kajuit beheer word.
Die nuwe QUANTIMETER werk met ’n impakplaat wat die graan baie fyn weeg. Slegs een kalibrasieproses per jaar per gewastipe is nodig en dit kan ook vanuit die kajuit gedoen word.
Nuwe afmetings vir die graantenk en aftappyp
Die volumes graan wat die graantenk kan hou wissel tussen 10 000 en 18 000 liter en die tenk kan nou maklik en veilig van die agterkant van die stroper af bereik word.
Daar is sewe verskillende aftappype beskikbaar en die aflaaispoed wissel tussen 110 ℓ/s en 130 ℓ/s. Hierdie pype is tot 12 meter lank. Daar is ook ’n 180 ℓ/s weergawe beskikbaar vir die LEXION 8900-, 8800- en 8700-modelle. Om die afvoertrokke en tapkarre so presies as moontlik te laai, kan hierdie aflaaipyp se werkspoed verlaag word na 90 ℓ/s. Wanneer die graantenk leeggetap is, word die awegaar binne die bak outomaties eerste afgeskakel terwyl die awegaar in die aflaaipyp nog draai om die pyp behoorlik leeg te maak.
Die aftappyp van die nuwe LEXION het ’n hoek van 105°. Dit gee die operateur van die stroper ’n uitstekende uitsig oor die aftapproses vanuit die kajuit.

Slim werking en meer gemak
Die nuwe LEXION-kajuit gee die operateur meer gemak, meer beheer, en is ook baie stiller as die vorige modelle. Die bestuursfunksies op die CEBIS-skerm maak dit moontlik om “slimmer” met die masjien te werk in plaas van harder. Die belangrikste funksies van die stroper is in die armleuning ingebou vanwaar dit maklik beheer kan word. Die armleuning, CEBIS-skerm en stuurkolom kan verstel word om die bestuurder te pas.
Die nuwe, argonomiese C-MOTION-beheerstelsel gee die operateur volle vingerpuntbeheer oor die stropertafel en aftappyp.
Presisie deur gevorderde tegnologie
In die nuwe LEXION pas CEMOS AUTOMATIC die masjieninstellings outomaties aan vir optimale deurvloei en top dorsgehalte. FIELD SCANNER in die dak van die kajuit verseker fyn stroopwerk tot by die laaste ry.

Enjins nou met DYNMIC POWER
Die nuwe LEXION 8000- en 7000-modelle is toegerus met MAN- en Mercedes Benz-enjins in ooreenstemming met die CLAAS POWER SYSTEMS-konsep. Hulle ontwikkel kraglewering van tussen 790 en 581 kW in die LEXION 8900 en 300 kW in die LEXION 7400. Dit beteken dat die LEXION 8900 ’n bykomende 110 kW kan aanvra in vergelyking met die LEXION 780.
DYNAMIC POWER pas die enjin se kraglewering aan volgens die werkstoestande. As die kragbehoefte laag is, word ’n laer kurwe gekies; as die kragbehoefte toeneem, skakel die stelsel oor na ‘n hoër kurwe om meer krag beskikbaar te stel. Hierdie buigsame aanpassing lei tot aansienlike brandstofbesparing wanneer maksimum verrigting nie nodig is nie.
Die nuwe aandryfkonsep van die LEXION is ontwerp vir maksimum betroubaarheid. Dit benodig minder dryfbande, al die wisselaars is versterk en kan aan die sentrale smeringstelsel gekoppel word.
DYNAMIC COOLING is standaard in alle nuwe LEXION-modelle en sorg vir voortgesette doeltreffende verkoeling, terwyl die lugfilter minder gereeld skoongemaak hoef te word. Met REMOTE SERVICE ontvang die operateur onmiddellike ondersteuning om enige staantyd so kort as moontlik te hou.
Met die uitsondering van die LEXION 7400, is alle nuwe modelle beskikbaar met TERRA TRAC vir maksimum grondbeskerming. Al die modelle is ook met gewone wiele beskikbaar indien die boer dit verkies.
Vir meer inligting kontak Michael Howell by 083-701-8779, 043-703-3100, of michael.howell@kagri.co.za. Besoek gerus ook www.claas.co.za om te kyk wie is jou naaste handelaar is.