As leeuteel verban word sal die ekonomie daaronder lei

leeu
Wat is die ekonomiese waarde van leeuteel in Suid-Afrika? Hierdie was die vraag waarop prof Melville Saayman en prof Peet van der Merwe van die navorsingseenheid, TREES (Tourism Research in Economic Environs and Society and members of the South Africa Predators Association), antwoorde gesoek het na aanleiding van die eise van sekere drukgroepe dat leeuteel in aanhouding verban moet word.
Nuwe navorsing is gedoen om die ekonomiese betekenis van die leeusektor in die private wildlewe toerismesektor te bepaal. Die resultate kan gebruik word om die bedryf in toekomstige wetgewing, produkontwikkeling en die ekonomiese betekenis en belangrikheid daarvan vir bewaring, by te staan.
“Ons kyk na die verlies van werksgeleenthede in landelike gebiede, wat ‘n bedrag van amper R1-miljard is en ‘n afname in leeugetalle aangesien die meeste van die leeus in SA deur privaatmense besit word,” sê Prof Saayman van hulle bevindings.
“As leeuteel in aanhouding beëindig word, sal dit lei tot ‘n verhoging in die prys van leeuprodukte soos bene, velle, tande en hare aangesien die mark tans deur karkasse van leeus in aanhouding voorsien word. Die aanvraag na leeuprodukte sal bly, maar die wettige voorsiening daarvan sal verdwyn. Dit sal tot stropery lei en sal gevaar vir die spesie inhou,” voeg hy by.
Prof Saayman sê ook: “Die privaatsektor speel ‘n onmisbarerol in leeubewaring. Nie die regering of provinsiale parke kan dieselfde rol speel nie, omdat hulle nie die finansies of menslike hulpbronne het om dit te doen nie. Kyk net wat het met renosters gebeur. Die privaarsektor moet die inisiatief bestuur.”
Die syfers
Die meerderheid van leeutelers is in die Vrystaat, Noordwes en Limpopo-provinsie.
Die navorsing wys die gemiddelde respondent het tussen een en vyf kampe met ‘n gemiddelde grootte van 1 tot 200 hektaar. Verder is die grootte om leeus aan te hou baie groter (tussen 1401 en 1 800 hektaar) as ander plase wat fokus op bewaring en toerisme.
Die grootste persentasie van respondente (45%) het tussen R1,1-miljoen en R5-miljoen betaal om aanhoudingsgeriewe vir hulle leeus bou. Die gemiddelde koste om die aanlegte te bou is R1 385 000 en die gemiddelde koste om dit te bestuur is R50 000 per maand.
Die studie wys dat daar tussen 8 000 en 8 500 leeus op privaatplase is en die gemiddelde plaas huisves 28 leeus.
Die drie hoofdoeleindes wat respondente vir leeuteling het, is vir bewaring en genetiese doeleindes, teling en wildlewe toerisme en jag. Die meerderheid (78%) van die leeus is bruin (Panthera leo) en 22% is wit (Panthera leo krugen), terwyl 55% volwasse mannetjies is, 39% volwasse vroutjies en 6% is welpies. Die gemiddelde verkoopprys vir manlike leeus is R180 000, R45 00 vir wyfies en R20 000 vir welpies. Pryse vir mannetjies kan tot R500 000 wees.
Die navorsingspan het gevind dat die operasionele koste om die land se 297 leeuteel aanlegte te bestuur R178 200 000 ‘n jaar is. Dit is net die uitgawes op operasionele kostes per jaar en sluit infrastruktuur uit. Om een leeu te onderhou per jaar kos ongeveer R20 964.
Die gemiddelde leeuteler het vier werknemers en as dit gemaal word met die hoeveelheid teelaanlegte wat daar is, kan gesê word dat 1 311 werksgeleenthede onderhou word in die ekonomie. Dit sluit die ander werkers op die plaas uit. As hulle bygesit word, dan is dit ‘n totaal van 1 680 werksgeleenthede wat volgehou word.
Wat is die gevolge van die verbod op leeuteel in aanhouding?
As ‘n verbod op leeuteel in aanhouding opgelê word, sal dit die verlies van 1 680 moontlike werksgeleenthede in oorwegende landelike gebiede beteken. Dit beteken 6 720 families as ‘n familie uit vier bestaan. Gegrondop die operasionele koste van die teel van leeus sal die ekonomiese impak dan R500-miljoen wees. Die verlies van kapitaalkoste kan tot R411-miljoen wees.
Bron: NWU