Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 6th October 2026

Laventel as alternatiewe gewas: Meer as net ’n mooi pers land

By 10 min read
1959 words

Beautiful lavender flowers close up on a field

Beautiful lavender flowers close up photo on a field

’n Land vol pers laventelblomme is beslis iets wat die oog vang, maar agter dié mooi prentjie skuil ’n gewas met heelwat meer kommersiële moontlikhede as wat ’n mens aanvanklik sou dink.

Laventel kan vir vars en gedroogde blomme verbou word, maar dit kan ook verwerk word tot essensiële olie en gebruik word in kosmetiese produkte, persoonlike versorgingsprodukte en selfs sekere kulinêre produkte. Voeg landboutoerisme daarby, en dieselfde land laventel kan verskeie moontlike inkomstestrome bied.

Dit is boonop ’n meerjarige gewas wat, wanneer dit eers goed gevestig is, redelik droogtebestand is en relatief min probleme met peste en siektes het. Maar voordat ’n boer ’n land vol pers plantjies aanplant, moet hy of sy besef dat nie alles wat ons sommer “laventel” noem, is dieselfde nie.

Laventel of lavandin?

Die naam laventel is afgelei van die Latynse werkwoord lavare, wat “om te was” of “om te bad” beteken. Vandag word die algemene naam egter vir verskillende Lavandula-spesies gebruik, wat maklik verwarring tussen ware laventel en lavandin kan veroorsaak.

Van die bekendste soorte is Lavandula angustifolia, oftewel ware of Engelse laventel, en Lavandula dentata, wat dikwels Franse laventel genoem word.

Dan is daar lavandin, ’n baster tussen L. angustifolia en L. latifolia. Lavandinplante is groter en produseer meer plantmateriaal, blomme en essensiële olie per hektaar. Die olie het ’n soet maar ietwat meer kamferagtige geur en word onder meer in skoonmaakprodukte gebruik.

Ware laventel lewer minder olie, maar hierdie olie word as ’n hoërgehalteproduk beskou en kan daarom hoër pryse behaal. Dit bevat minder kamferverbindings en word veral vir premium aromaterapie-, kosmetiese en soortgelyke produkte gebruik.

Hierdie onderskeid is belangrik vir enige boer wat laventel kommersieel oorweeg.

Die vraag is dus nie bloot “watter laventel moet ek plant?” nie, maar eerder “wat wil ek uiteindelik verkoop?”

Een gewas, verskillende markte

Dit is juis laventel se veelsydigheid wat dit as alternatiewe gewas interessant maak.

’n Boer kan onder meer na die volgende markte kyk:

  • essensiële olie;
  • vars blomruikers;
  • gedroogde blomme en stingels;
  • kosmetiese en persoonlike versorgingsprodukte;
  • kulinêre laventel

Vir kleiner boeredery-ondernemingse kan waardetoevoeging veral belangrik wees. In plaas daarvan om slegs ’n primêre landbouproduk te verkoop, kan laventel verder verwerk of verpak word.

Dieselfde oes kan dus deel vorm van ’n veel groter onderneming waarin landbou, verwerking, direkte verkope en selfs toerisme saamwerk.

Die boer moet egter sy mark reeds in gedagte hê voordat die eerste plant in die grond gaan, aangesien die eindgebruik ’n groot invloed op kultivarkeuse het.

Kies die regte laventelvariëteit vir die werk

Daar is talle laventelkultivars beskikbaar en die beste keuse sal afhang van die produksiegebied, klimaat, verlangde eindproduk en teikenmark.

Ware of Engelse laventels produseer gewoonlik kleiner blomme en minder olie as lavandins, maar hul olie is van beter gehalte en kan ’n premie behaal.

Bekende ware laventelkultivars sluit Hidcote, Munstead, Jean Davis en Vera in.

Lavandin-variëteite produseer weer meer blomme en olie per hektaar. Kultivars sluit Abriali, Dutch Mill, Grappenhall, Grosso, Provence, Seal en Super in.

Lavandula × intermedia ‘Grosso’ word wyd vir essensiële olieproduksie gebruik. Die plant lewer baie olie, het ’n sterk geur en is gehard en droogtebestand.

Nog ’n interessante opsie vir Suid-Afrikaanse toestande is Margaret Roberts, ’n lavandin wat vir verskillende doeleindes aangewend kan word, waaronder olie, gedroogde blomme en landboutoerisme. Volgens die beskikbare inligting hanteer dit ryp, droogte en hoë UV-vlakke goed en kan dit in matige klimaatstoestande vir lang tydperke blom.

Vir premium olie of kulinêre gebruik kan L. angustifolia-kultivars soos Hidcote en Munstead oorweeg word, terwyl Spaanse laventel (Lavandula stoechas) meer geskik is vir vars blomme, sierdoeleindes en landboutoerisme as vir grootskaalse olieproduksie.

Plaaslike aanpasbaarheid bly egter belangrik. ’n Kultivar wat uitstekend in een produksiegebied vaar, sal nie noodwendig dieselfde resultate elders lewer nie. Klimaat, siekteweerstand, geur, groeigrootte en eindgebruik moet alles in ag geneem word, en boere kan daarby baatvind om verskillende kultivars op kleiner skaal te toets voordat groot aanplantings gevestig word.

Waar groei laventel graag?

Laventel verkies toestande wat met ’n Mediterreense klimaat ooreenstem: baie son, relatief lae humiditeit en grond waarin water vinnig kan dreineer. Die plante benodig ongeveer ses tot agt uur direkte sonlig per dag en verkies sanderige of leemgrond met ’n pH van ongeveer 6,5 tot 7,5.

Swaar kleigrond is minder geskik omdat dit water rondom die wortels kan vasvang. Dit verhoog die risiko van wortelvrot, een van die grootste probleme waarteen ’n laventelboer moet waak.

’n Grondontleding voordat die land gevestig word, is daarom belangrik. Dit gee ’n aanduiding van die grond se voedingstatus en of aanpassings nodig is. Kompos of goed ontbinde mis kan gebruik word om grondstruktuur en vrugbaarheid te verbeter waar nodig.

Laventel is nie noodwendig ’n gewas wat beter vaar met die toediening van meer kunsmis nie. Die plante benodig relatief min bemesting en dus kan oorbemesting nadelig wees.

In Suid-Afrika bied gebiede in onder meer die Wes-Kaap, die voetheuwels van die Drakensberge en sekere hoërliggende dele van Limpopo en Mpumalanga geskikte toestande. Kultivarkeuse moet egter by die spesifieke mikroklimaat aangepas word.

In die Wes-Kaap se Mediterreense toestande kan lavandin-variëteite soos Grosso en Abrialis goed pas, terwyl kouer gebiede meer geskik kan wees vir sommige Engelse laventels.

Van ’n steggie tot ’n kommersiële land

Laventel kan uit saad of steggies vermeerder word. Vir kommersiële produksie is plante wat uit steggies gekweek word dikwels verkies omdat dit tot groter eenvormigheid in die land kan lei.

Planttyd kan volgens die plaaslike klimaat aangepas word. Herfsaanplantings kan van laat Maart tot vroeg April gedoen word sodat die plante kans kan kry om hulle voor die winter te vestig. In kouer gebiede kan lente-aanplantings vanaf laat Augustus tot vroeg September, nadat die gevaar van ernstige ryp verby is, ’n beter opsie wees.

Plantspasiëring is in die algemeen ongeveer 50 cm, met 100 tot 120 cm tussen rye. Dit laat ruimte vir plantontwikkeling en toegang tot die land, kan ’n plantestand van ongeveer 16 000 tot 20 000 per hektaar lewer.

Onkruidbeheer is veral tydens vestiging belangrik. Gereelde snoei help daarna om die plante se vorm te behou en nuwe blomgroei aan te moedig.

Een van laventel se voordele is dat die sterk aromatiese verbindings van die plant uiteenlopende insekte doeltreffend afweer. Dit beteken egter nie dat ’n boer plaag- en siektebestuur net kan ignoreer nie. Plaaslike monitering en ’n geskikte gewasbeskermingsprogram bly belangrik.

Veral swak dreinering en gevolglike wortelvrot moet ten alle koste voorkom word.

Die oes hang af van wat jy wil verkoop

Net soos kultivarkeuse word die tydstip en metode van oes deur die eindproduk bepaal. Op kleiner aanplantings kan laventel met die hand geoes word, terwyl meganiese oes meer prakties raak namate die produksie-eenheid groter word. Vir gedroogde blomproduksie kan sny begin wanneer genoeg blomme beskikbaar is om ’n bemarkbare oes te lewer.

Vir essensiële olie is tydsberekening belangriker. Die beste olie word verkry wanneer die blomgedeeltes geoes en gedistilleer word net voordat hulle heeltemal oopgaan, wanneer die aromatiese olie in die plant sterk gekonsentreer is.

’n Klein oes kan reeds gedurende die eerste somer moontlik wees, maar kommersiële produksie neem langer om op dreef te kom. Volle produksie word gewoonlik vanaf die tweede tot derde jaar verwag. Afhangend van groei en plaaslike toestande kan gevestigde plante meer as een keer per jaar geoes word.

Ware laventel teenoor lavandin: Opbrengs maak ’n verskil

Wanneer essensiële olie die teikenmark is, word die verskil tussen ware laventel en lavandin besonder duidelik. Die beskikbare Suid-Afrikaanse produksiesyfers dui op ’n olie-opbrengs van ongeveer 15 tot 45 kg/ha vir ware laventel met verbeterde kultivars.

Lavandin kan aansienlik meer lewer, met opbrengste van ongeveer 60 tot 280 kg/ha wat aangedui word. Vir gedroogde blomme word opbrengste van ongeveer 800 tot 1 500 kg stingels per hektaar genoem.

Die hoogste opbrengs beteken egter nie outomaties die meeste wins nie. Ware laventel lewer minder olie, maar vanweë die hoër gehalte van die plant kan ’n beter eenheidsprys behaal word. Lavandin lewer meer olie, maar dit word gewoonlik teen ’n laer prys bemark.

Dit bring die boer weer terug by dié belangrike vraag: Wie gaan die produk koop?

Van pers blomme tot essensiële olie

Vir ’n boer wat essensiële olie wil bemark, eindig die werk nie wanneer die blom afgesny word nie. Die geoesde materiaal moet gedistilleer en dan moet die olie korrek hanteer en geberg word.

Essensiële olie behoort in ’n droë, donker en koel omgewing geberg te word. Donker glasbottels is verkieslik omdat dit die olie teen lig beskerm.

Volgens die beskikbare riglyne kan laventelolie ongeveer 12 tot 18 maande ná bottelering geberg word voordat ouderdom die geur en doeltreffendheid toenemend begin beïnvloed.

Dit beteken dat verwerking, verpakking en voorraadbestuur deel vorm van die onderneming wanneer ’n boer verder as die verkoop van vars of gedroogde plantmateriaal beweeg.

’n Gewas wat jare lank kan produseer

Een van die aanloklikste eienskappe van laventel as alternatiewe gewas is dat die boer nie elke seisoen sy land vooraf hoef te vesig nie.

Met goeie bestuur kan plante sowat 10 tot 15 jaar produktief bly. Dit versprei die aanvanklike vestigingskoste oor ’n langer produksietydperk.

Sodra die plante goed gevestig is, is hulle ook betreklik droogtebestand en het hulle relatief min plaagprobleme.

Dit beteken egter nie laventel is ’n “plant-en-vergeet”-gewas nie. Die sukses van die onderneming sal steeds bepaal word deur die regte grond, dreinering, kultivar, snoei, onkruidbeheer, oesbestuur en – miskien die belangrikste – ’n betroubare mark.

Die geld lê dalk nie net in die olie nie

Essensiële olie is waarskynlik die produk wat eerste by ’n mens opkom wanneer kommersiële laventelproduksie ter sprake is, maar ’n boer hoef hom nie tot een mark te beperk nie.

Vars ruikers kan direk aan bloemiste, markte en die publiek verkoop word. Gedroogde blomme kan gebruik word in dekor, geurprodukte en handwerk. Met verdere verwerking ontstaan moontlikhede vir seep, kosmetiese produkte, persoonlike versorgingsprodukte en ander waardetoegevoegde produkte.

Sekere ware laventels kan ook vir kulinêre markte geproduseer word.

Dan is daar ’n produk wat glad nie van die land afgehaal hoef te word nie: die ervaring van die laventelland self.

’n Volblom laventelland bied moontlikhede vir fotografie, plaasbesoeke, funksies en ander vorme van landboutoerisme. Vir ’n kleiner boerdery-onderneming naby ’n groot dorp, stad of toeristeroete kan hierdie deel van die besigheid moontlik net so belangrik as die oes word. Dit is juis hier waar laventel van allerlei tradisionele gewasse verskil. Dieselfde plant kan ’n landbouproduk, ’n verwerkte produk én ’n ervaring bied.

Mooi gaan egter nie die rekeninge betaal nie

Laventel se droogteverdraagsaamheid, lang, produktiewe leeftyd en verskillende moontlike eindprodukte maak dit ’n interessante alternatiewe gewas vir Suid-Afrikaanse boere.

Maar die pers land wat op ’n foto so eenvoudig lyk, is steeds geskik vir ’n kommersiële boerdery-onderneming.

’n Voornemende lanventelboer moet eers vasstel watter mark hy wil bedien, en daarna die kultivar, produksieskaal, oesmetode en moontlike verwerking daarvolgens kies. Die boer wat olie in grootmaat wil lewer, het ander vereistes as iemand wat premium gedroogde blomme of kulinêre laventel wil verkoop. ’n Land wat hoofsaaklik vir toerisme gevestig word, kan weer totaal ander prioriteite hê.

Dit is dalk waar laventel se grootste geleentheid as alternatiewe gewas lê: ’n boer hoef nie noodwendig net meer te produseer nie – hy kan meer uit dieselfde plant kry en verkoop.

Van vars blomme op die land tot gedroogde ruikers, botteltjies olie of besoekers wat tussen rye pers blomme kom stap, bied laventel verskillende maniere om waarde uit dieselfde hektaar te ontsluit.

Bronne

Lavender Farming in South Africa | Mzansi Farming Hub
https://mzansifarm.co.za/lavender-farming/

Comprehensive Lavender Oil Production Guide 2026 | Lavender SA
https://lavendersa.co.za/comprehensive-lavender-oil-production-guide-2026/

Lavender Crop Management – Herb Growing in South Africa | SouthAfrica.co.za
https://southafrica.co.za/lavender-crop-management.html

How to Grow Lavender in South Africa: A Step-by-Step Guide | Plantinfo
https://plantinfo.co.za/articles/herbs-and-medicinal-gardening/how-to-grow-lavender/

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0