Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 11th April 2024

Landbouskrywers SA se besoek aan 2023 se Boer van die jaar: Waarde in landbou strek verder as die plaas

By 5 min read

DSC_0076

Die pragtige Bovelders van Hirsaw Livestock word afgerond met Dewald te Water se eie kuilvoer.

“In vandag se dae moet jy absoluut veelsydig wees,” is Dewald te Water se beskrywing vir hedendaagse boerdery. Dit is ook hierdie veelsydigheid in boerdery wat hom die titel Boer van die jaar 2023 help verwerf het.

“Jy moet in alle opsigte ՚n baie goeie sakeman wees, van aankoper tot verkoper. Terselfdertyd moet jy ook ՚n agronoom wees en goeie menseverhoudings handhaaf.”

Dewald boer tussen Bethal en Trichard in Mpumalanga. Die saak wat hy en sy wyle broer begin het, is die TW Groep wat bestaan uit verskeie vertakkings in die konstruksie- en landboubedryf. Die konstruksiebeen bestaan uit grondverskuiwingswerk asook ՚n baksteenen klaargemaaktebetonfabriek. Verder in die landbousy is daar ՚n graanvertakking, ՚n vleisbeeskudde, kunsmismengaanleg, ՚n kuilvoersaak en twee voedselverwerkingsaanlegte.

Die lang pad na sukses

Om te wees waar hy vandag is, het harde klippe kou gekos. “Die boerdery het begin met ՚n klein skaapkudde en twee- of driehonderd hektaar mielies. Van daar af het ons begin om sowel ons kudde as landerye uit te brei. “Nadat ek in 1997 geswot het, het ek by ՚n boer naby Kriel gewerk. My broer het hier op die plaas waar ons grootgeword het saam met ons oupa geboer en basies na my oupa se vee gekyk. Twee jaar daarna het hy voorgestel dat ons saam en groter probeer boer.”

Dewald het toe sy werk bedank en saam het die broers bykomende grond gehuur om groter te begin boer. “In daardie stadium het my broer na die saaiboerdery gekyk en ek na die vee.” Hulle het elke jaar daarna ՚n hektaar of twee probeer byvoeg. Danksy hierdie benadering kon Dewald-hulle ՚n tweede plaas buite Bethal bekom.

“In 2002 het ons die geleentheid gekry om ՚n TLB en ՚n tippertjie te kon koop. Dit het gehelp dat ons werk kon doen om ons kontantvloei te stimuleer. So het die behoefte in dié afdeling ook gegroei.”

Intussen het hulle baie ander planne gehad; sommiges suksesvol en ander nie. Maar naderhand het Dewald-hulle besef hulle moet die verskillende aspekte van hulle onderneming meer doeltreffend benader. Daarom het Dewald die boerderybeen behartig en sy broer die konstruksie-afdeling. In 2006 het hulle die eerste baksteenfabriek opgerig.

“Dit was werklik ՚n geraap en -skraap om kontantvloei te kry om al die paaiemente te betaal, maar ons het aanhou groei en nie ՚n geleentheid laat verbygaan nie.” Die trop beeste is later bygevoeg en dit is volgens Dewald waar hulle werklik begin vooruit boer het. In 2013 het hulle die tweede baksteenfabriek opgerig.

“Ons het nie alles op ons eie probeer doen nie; ons het kenners ingekry om die fabriek op te rig en te bedryf,” vertel Dewald.

Later het die broers begin om konstruksiemasjiene te verhuur, wat hulle genoodsaak het om ՚n behoorlike binnenshuise werkswinkel vir herstelwerk op te rig. Terselfdertyd is ՚n klaargemaaktebetoneenheid opgerig. Sasol-kunsmis het in daardie tyd toegemaak, en die broers het hierdie geleentheid aangegryp om die kunsmisvermengingsbehoefte te vervul. Constantia Fertilizer se kunsmis word buite Trichard vermeng. Die mees onlangse onderneming wat die TW-groep bygevoeg het, was kuilvoerproduksie onder die naam, Exact silage.

Die dames van Sense het verduidelik hoe die masjien wat die ontbytpap en pofhappies maak werk. Hulle is Mandy van Zyl, Izelri Marx, Simoné van Niekerk en Nadine van der Walt.

Waardetoevoeging help die boerdery vooruit

Die beweegrede agter die voedselverwerkingsaanlegte is om die maksimum waarde uit ՚n oes te kry. Soos Dewald dit stel – beteken dit dat die onderneming ՚n prysgewer is en nie bloot ՚n prysnemer nie. Hierdie beginsel geld ook vir die kuilvoer-afdeling om waarde toe te voeg aan die mielies wat die boerdery verbou. ՚n Gedeelte van die kuilvoer word aan ander boere verkoop.

Sowel die springmielies as die ontbytpapprodukte se hoofbestanddeel is ՚n soort witmielie wat uit die saaiboerdery geoes word. “Ons gebruik die witmielie, want sy pit is groter en die styselinhoud is ook waarna ons soek,” vertel Dewald. Mieliepitte word in springmieliekanonne verhit. Tydens hierdie proses bars die mielie oop. Binne-in die kanon bou die druk op en wanneer die klep wat die kanon verseël opmaak, skiet die springmielies uit met ՚n harde plofgeluid. Die springmielies word versamel, gesif om doppe te verwyder en dan bedek in ՚n kleurvolle suikerstroop. Uit die pofhappie- en ontbytpapfabriek word dieselfde graan in ՚n meel verwerk wat dan gebruik word om saam met verskeie ander bestanddele òf kitspap, òf pofhappies te vorm. Albei is beskikbaar in enige geur onder die son, maar by AfriKing is ontbytpap aarbei- of vanieljegeur, en die pofhappies is in verskeie geure beskikbaar.

Boer van die jaar wenner 2023

Om benoem te word as die 2023 se Boer van die jaar beteken baie vir Dewald. “Ek is nederig trots, en ongelooflik dankbaar,” erken hy. “Net om benoem te word, was vir my ՚n groot eer. ՚n Mens boer nie om so ՚n prestasie te behaal nie, maar dit raak my diep om daardie titel te verwerf het. “Maar dit is nie ek alleen wat daardie wentitel dra nie: Dit was absoluut ՚n spanpoging om dit te bereik.

“Landbou het my geleer om absoluut nederig te bly,” lag hy. “Sodra jy dink daar kom ՚n goeie jaar, dan besef jy elke jaar is anders. Daar is oral groot uitdagings. Jy kan net nederig bly.”

Dewald glo dat dit enige boer – net soos enige ander sakeman – se verantwoordelikheid is om werk te skep. “Ons het ongeveer 600 permanente werkers.

Daarvoor moet ons ook ons eie menslikehulpbrondepartment hê, want op daardie skaal en met soveel ondernemings is dit nie moontlik om daarsonder klaar te kom nie.” Dewald verduidelik dat die skaal waarteen hulle werk baie fyn bestuur moet word. “Dit verg konstante risikobestuur, want sonder om uit te brei bly jy agter, maar jy moet ook bewus bly van dit wat ՚n nuwe uitbreiding in terme van insetkostes vereis.” Hy sluit af met sy wens vir landbou: “My wens vir landbou in Suid-Afrika is vir die volhoubaarheid daarvan. Mense moet eet. Boere wil boer. Ek wens volhoubaarheid toe vir almal.”

ProAgri bedank graag die Landbouskrywers van Suid-Afrika en die borge wat hierdie besoek moontlik gemaak het. Danksy hierdie vereniging kan ons skouers skuur met ons kollegas in die media en aanhou om saam te bou aan landbou.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment