Categories: NewsPublished On: 21st November 2014

Landbou groei want mense moet eet

By 2 min read
367 words

Die landbousektor het vyf persent beter groei as die res van die ekonomie getoon in 2014. “Tot ‘n sekere mate is dit te danke aan die feit dat mense steeds moet eet, al gaan dit sleg met die ekonomie,” sê Nico Groenewald, hoof van Landboubesigheid by Standard Bank. 

Hy het by ‘n sake-ontbyt gesê hoewel ekonomiese groei plaaslik en wêreldwyd maar traag is, is daar steeds geleenthede vir Suid-Afrika se boere en landbou-ondernemings om te presteer. 

Hy sê: “Boere is van die wêreld se mees aanpasbare sakelui, omdat hulle met soveel veranderlikes te doen het, soos die weerpatroon wat al hoe meer onvoorspelbaar raak.” 

Hy meen ratse aanpasbaarheid gaan nog belangriker in 2015 wees, want daar is ‘n hele rits nuwe uitdagings wat ook nuwe geleenthede bied. 

Suid-Afrika se 35 000 kommersiële boere maak reeds intensief gebruik van tegnologie en moderne prosesse en stelsels, wat onder andere gelei het tot verlede somer se rekord-oes. Die graanpryse het daaronder gelei, maar die veeboere het natuurlik weer gebaat by die verlaging in pryse. 

Die behoefte aan natuurvriendelike verbouingsmetodes gaan, volgens Nico, heelwat nuwe uitdagings stel. 

Hy sê supermarkte en verbruikers dring al hoe meer daarop aan dat hulle wil weet watter prosesse gevolg word om kos te produseer en boere kan nuwe regulasies rakende oesbekermingsmiddels, bemesting en verpakking verwag. 

Die “groen” dryfveer gaan ook geleenthede skep soos met betrekking tot die uitbreiding van die biobrandstofbedryf en diegene wat eerste inklim, sal die grootste markaandeel kan bekom. 

Hy sê ook Standard Bank handhaaf al lankal die standpunt dat boere hulle inkomste kan verhoog deur verder af in die waardeketting ook betrokke te raak. 

Hoewel daar heelwat druk op landbou was as gevolg van stygende brandstof- en energiekoste, asook arbeid, het plaasinkomste ‘n opwaartse neiging getoon. 

Die sektore wat die beste presteer het was die veebedryf en spesifiek die wol- en sybokhaarbedryf. Wat gewasproduksie betref het tee en sitrus die beste gevaar ondanks die uitvoerprobleme as gevolg van swartvlek. 

Sorghum en droë bone het ‘n jaar-op-jaar-groei van 55% getoon. Soja en kanola het ook sterk gegroei.   

Nico sê: “Daar is geen twyfel dat dit moeiliker is om te groei as die ekonomie traag is nie, maar dit is beslis nie onmoontlik nie.”

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0