Categories: NuusPublished On: 31st March 2022

Landbou begroting versaak boere t.o.v. misdaadbekamping en biosekuriteitmaatreëls

By 2 min read
406 words

ashraf-ali-JLW-T4LiJCw-unsplash

Die Vrystaatse LUR vir Landbou se onlangse begroting uiteensetting is ʼn klaaglike mislukking om boere ten opsigte van misdaadbekamping en biosekuriteitsmaatreëls effektief by te staan. Alle boere is uitgelewer nie net aan kriminele nie, maar ook aan die uitbreek van moontlike dieresiektes onder hul kuddes.

Dit is die siening van Vrystaat Landbou (VL), nadat die LUR van Landbou sy
begrotingstoespraak op Vrydag 25 Maart gelewer het.

Die jongste geval van bek-en-klouseer wat in Potchefstroom geïdentifiseer is, plaas weer hierdie uiters kommerwekkende situasie op die voorgrond. Vrystaat Landbou het al in 2019 tesame met die Rooivleis Produsente-Organisasie (RPO) ʼn beroep op die regering gedoen vir die instel van kompartemente en beheerde kontrolepunte om die uitbreek van dieresiektes in die Vrystaat te voorkom. Dit blyk dat ten spyte van
hierdie versoek, daar steeds wesenlike gevare bestaan dat besmette diere vanuit geaffekteerde areas vervoer word en sodoende ʼn risiko inhou vir areas wat poog om hul gesondheidstatus te behou.

Slegs R4.5 miljoen van die totale begroting van R830,7 miljoen van die Departement van Landbou is aan die bekamping van veediefstal met hommeltuie, opsporingstoestelle, uitgebreide tegnologiese hulpmiddels toegeken. VL meen die toekenning skiet hopeloos tekort om in die 88 dorpe in die Vrystaat by kommunale gronde enige impak te maak.

Die toekenning van R9 miljoen vir veeartse vir die bou / uitbreiding van die
laboratorium te Kroonstad is bemoedigend, maar daar word geensins gemeld hoe veeartse en dieregesondheid tegnici opkomende boere kan bystaan op kommunale gronde om hul vee in te ent teen dieresiektes nie.

Programme ten einde opkomende boere te help om seker te maak dat hul oor diere identifikasie kaarte beskik, hul vee te brandmerk ten einde eienaarskap te bewys wat voorkomend is ten einde veediefstal aan te spreek word ook nie vermeld nie.

Die begroting maak ook geensins melding van maatreëls om die diefstal van veral mielies, waaroor Vrystaat Landbou onlangs berig het, te probeer aanspreek nie. Opkomende boere word ook soos kommersiële boere wesenlik hierdeur geteiken.

In die laaste instansie, versuim die begroting om voorsiening te maak vir die oprigting van kwarantynskutte langs die RSA/Lesothogrens. Diere wat deur die wetstoepassingsagentskappe geskut word wat oorgrens wei of moontlik gesteel is, moet in afsondering gehou word (apart van skutte) onder instruksie van die Staatsveearts ten einde te verseker dat hul aan biosekuriteitsreëls en wetgewing voldoen. Die gevare van die verspreiding van dieresiektes vereis daadwerklike optrede, iets wat die onderskeie organisasies betrokke in die landbou waardeketting al ʼn geruime tyd bepleit.

Bron: Vrystaat Landbou

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0