Laminitis: Verlig die pyn en ongemak

kruisteling
Dit is belangrik om ordentlik na alle skou- en vleisbeeste se kloue te kyk en bewus te wees van enige siektes en toestande wat die diere se prestasie en algemene gesondheid kan beïnvloed.
In die volgende reeks artikels gaan Johan Hoewe die belangrikste oorsake van ongesonde kloue bespreek, naamlik:
- Laminitis
- Ontsteking – witlynontsteking en vrotpootjie
- Absesse – dubbelsool
- Krake – horisontaal en vertikaal
- Penetrasiewonde
- Hakerosie
Ons begin hierdie reeks met die mees algemene hoefprobleem wat geen ras of omgewing ontsien nie, naamlik laminitis. Laminitis is ’n pynlike, nie-aansteeklike ontsteking van die lamina of dun beenplaat wat die hoefwand aan die hoefbeen heg.
Dit kan lei tot lang, oorgroeide en misvormde kloue. Die dier sal soms lam, styf en kruppel wees. Enige rou en bloederige sere, hetsy op die sool of die wand, is gewoonlik ’n teken van laminitis. Laminitis kan veroorsaak word deur voeding met hoë volumes oplosbare koolhidrate wat dan suurpens veroorsaak. My ondervinding is dat dit dikwels voorkom by fase C- en D-bulle waar voeromset en gewigstoename getoets word. Menigmaal is dit die topgroeier wat laminitis ontwikkel.
Voorkoming en behandeling
Dit is baie belangrik om jou diere gereeld te sien en om die kloue gereeld te laat snoei. Maak seker dat enige voeding wat die dier inneem reg geformuleerd is, verkieslik deur ’n voedingskundige. Dit is ook belangrik dat die omgewingsfaktore gunstig is vir die dier.
In die volgende uitgawe sal vrotpootjie bespreek word. Hierdie probleem kom meestal voor by melkerye en voerkrale.
Vir meer inligting kontak my gerus per e-pos by info@johanhoewe.co.za, 082-568-5034 of besoek www.johanhoewe.co.za. Sluit gerus ook by my aan op facebook.

1. Só kan die kloue van ’n
bees wat aan laminitis ly lyk. Die hoefsnoeier kan nie laminitis wegtoor nie, maar hy kan darem die kloue so snoei dat die bees gemakliker loop.

2.So lyk ’n laminitisbees
aan wie se kloue die hoefsnoeier net begin sny
het. Let op hoe lank die kloue na voor uitgegroei het.

3. Die hoefsnoeier sny die kloue reg sodat hy gemakliker kan loop, maar die boer moet
steeds stappe doen om die oorsake van laminitis uit te skakel en om die ontsteking
stop te sit.

4. Wanneer die hoefsnoeier
met die bees wat aan laminitis ly klaar is, lyk die kloue baie beter en loop die
dier darem heelwat gemakliker.
