Laaste twee provinsies tuimel voor BEK aanslag

Foto Willie Ferreira
Foto: Willie Ferreira
Die Noord-Kaap kan sy bek-en-klouvrye status kwyt wees nadat ‘n geval van die gevreesde siekte die afgelope naweek in die Kurumandistrik voorgekom het.
Die provinsie was sover die enigste waar die staatsbeheerde siekte nog nie aangemeld is nie.
Volgens Yolande Botha, bedryfsbeampte van die Rooivleisprodusente-organisasie RPO in die Noord-Kaap, was Veeartsenykundige dienste gou op die toneel. Die geval is omstreeks 13:10 aangemeld en teen 15:00 was ‘n gesondheidstegnikus reeds op die plaas, het RPO NK se voorsitter Brand du Toit in ‘n mediaverklaring op Facebook gesê.
Monsters is onmiddelik na laboratorium in Kimberley versend waar dit ontleed sal word.
Die polisie en Veeartsenydienste sal Maandag 9 Februarie by die kwarantyngebied vergader om bewegingsbeheer in die gebied verder te verskerp om verspreiding van die siekte te voorkom. Omdat dit ‘n staatsbeheerde siekte is, is die staatsveearts in beheer en bestuur van die situasie en tree in samewerking met rolspelers op.
Die RO en verteenwoordigers van landbou in die provinsie sou ook Maandag vergader om verdere optrede te bespreek. Alle rolspelers sal ook deurlopend ingelig word oor verdere verwikkelinge.
Die RPO NK het boere opnuut versoek om by die voorgeskrewe protokolle na te kom. Die klem val daarop om kontak te beperk en sodoende risiko’s te voorkom. Bewegingsbeheer moet streng toegepas word en biosekerheid is van die grootste belang.
Wes-Kaap
In die Wes-Kaap is twee moontlike gevalle van bek-en-klouseer pas aangemeld.
Dit volg nadat Agri Wes-Kaap en RPO Wes-Kaap op 18 Januarie bekend gemaak het dat geen verdere voorvalle na die een by Gouda in 2025 in die provinsie voorgekom het nie.
Wes-Kaapse premier Alan Winde en dr Ivan Meyer, minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme het Sondag 8 Februarie in ‘n gesamentlike mediaverklaring gesê dringende pogings sal aangewend word om die uitbrekings van bek-en-klouseer te bekamp. Belanghebbendes vergader vandag om die plan van aksie te bespreek.
Rojeanne de Wet, woordvoerder van Agri Wes-Kaap gee terugvoer na ‘n noodvergadering vanoggend (Maandag 9 Februarie).
‘n Moontlike geval is Vrydag 6 Februarie naby Mbekweni tussen Wellington en die Paarl aangemeld. Nog ‘n voorval by in die Mosselbaai-omgewing word ondersoek. Die voorval is gister (Sondag 8 Februarie) deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou se veeartsenydienste bekend gemaak.
Volgens Rojeanne word hierdie geval nog as verdag beskou en ondersoeke duur voort.
Produsente word gemaan om waaksaam te wees. Streng biosekerheidsmatreëls en bewegingsbeheer van diere is van uiterste belang. Lede van Agri Wes-Kaap word ook versoek om voorgeskrewe protokolle streng na te kom en nie diere onnodig te verskuif nie.
Volgens Rojeanne is die Bek- en Klouseer Gesamentlike Operasionele Komitee reeds geaktiveer en hulle sal vandag (Maandag 9 Februarie) weer vergader om die situasie te bespreek en verdere maatreëls te oorweeg en te implementeer.
Bek- en klouseer is ’n hoogs aansteeklike virussiekte wat beeste, skape, bokke en ander gespleethoewige diere raak. Uitbrekings kan ernstige ekonomiese gevolge vir produsente en die breër landbousektor inhou, veral weens bewegingsbeheer en handelsbeperkings.