Categories: NuusPublished On: 14th January 2026

Krismisbrand in die Sederberge eis 53 ha fynbosveld

By 5 min read
1036 words

Franskraal brand

‘n Brand by Walker Bay het groot dele van die Franskraal Natuurreservaat in puin gele en versprei nou in die rigting van Baardskeerdersbos en die Kaap Agulhas Nasionale Park. (Bron: Facebook)

‘n Veldbrand wat 53 000 ha unieke fynbos in een van die grootste veldbrande in die geskiedenis van die Cederberggebied afgebrand het, is na 12 dae onder bedwang gebring.

Die brand was die ergste sedert veldbrande in Wuppertal in 2019 huise en historiese geboue verwoes het.  Anders as in die Wuppertalbrand, het die Krismisbrand net ‘n houthuis en karavaan geëis.

Na bewering het weerlig die brand in die Cederberg Wildernisgebied op 20 Desember laat ontstaan. Verbete pogings van brandbestryders en tydige ontruiming het die verlies van lewens en infrastruktuur voorkom.

Die uitgestrekte bewaringsgebied, wat deur CapeNature bestuur word, is bekend vir die unieke fynbos wat dikwels deur toeriste langs talle staproetes verken word.

Die brand is vererger deur digte plantegroei na die goeie reëns van 2023 en 2024 wat in 2025 deur ‘n erge droogte uitgedor is. Sterk wind en uiters droë toestande het die vuur deur gebiede soos Algerië, Dwarsrivier, Remhoogte en Buffelshoek versprei en plase in die omgewing bedreig. CapeNature het alle besoekers by gewilde kampplekke en op staproetes vroegtydig ontruim. Die huisies by Algerië en die Bosherberge, asook al die staproetes in die Cederberg Wildernisgebied sal ten minste tot 26 Januarie gesluit wees.

Boere in die omgewing van Citrusdal en Clanwilliam het weiveld verloor en dit sal maande duur voor die weiding herstel is, ‘n geweldige terugslag  vir die gebied wat van vee en toerisme afhanklik is.

Omdat vuur ‘n noodsaaklike deel van fynbos se groeisiklus is, sal die fynbos wat gebrand het na verwagting positief reageer op die brandskade, maar die verlies aan soveel fynbosveld plaas ongetwyfeld druk op wildspesies wat hier voorkom. Dit sluit bok- en roofdiespesies, bobbejane en talle kleiner soogdierspesies in wat by die besondere ekosisteem aangepas is en daarvan afhanklik is.

Sederbome

Volgens CapeNature se woordvoerder, Luke Kolb, is begin met ‘n opname oor die impak wat die brand op die biodiversiteit van die gebied.

Skade aan die skaars, bedreigde oeroue Clanwilliam-sederbome sal veral aandag geniet.  CapeNature werk saam met die organisasie Sustainable Ceder om die unieke bome te restoureer. Sustainable Ceder se missie is om die kritiekbedreigde Clanwilliam Sederbome te restoureer sodat dit volhoubaar kan voortbestaan

Die bome kom in gebied van sowat 250 km2 op ‘n hoogte van tussen 800 en 1 500 m bo seespieël in rotsagtige sandsteengebiede voor. Die bome is van historiese en kulturele waarde vir individue en gemeenskappe van die Sederberge.

Die bome is deur die jare uitgekap en word bedreig deur brande wat al meer en met groter intensiteit voorkom, min bome wat vanself opkom omdat die sade opgevreet word en klimaatsverandering, wat lei tot feller droogtes. Saailinge  word gekweek en op plekke geplant waar die kans op oorlewing die beste is.

Die brand wat twaalf dae lank in die Sederberge gewoed het, het altesaam 53 ha fynbosveld in vlamme laat opgaan. (Bron: Facebook)

Tekens van herstel

“Dit is bemoedigend om te sien die veld is reeds besig om te herstel. Oral langs strome en vleie is tekens van nuwe groei. Ons hop die matige winterreëns sal bydra dat ons natuurlike fynbos opnuut uitloop.”

CapeNature is dankbaar vir die hulp wat verskeie brandbestrydingsgroepe, grondeienaars, gemeenskapslede en vrywilligers verleen het om die brande onder Beheer te bring, asook donasies en bystand vir die brandbestryders wat verbete teen die vlamme geveg het.

Ander brande

Intussen woed verskeie brande steeds in die provinsie se bewaringsgebiede.

Swartberg

‘n Brand wat op 11 Januarie net agter die dorp De Rust uitgebreek het, woed steeds voort in die Swartberge. Tot dusver het die brand reeds 536 ha gebrand, maar eers op 13 Januarie CapeNature se Swartberg Natuurreservaat bereik. CapeNature se brandspanne, asook die van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit is op die toneel.

Die brand wat tans in die Grootvadersbosch Natuurreservaat het op privaat eiendom ontstaan. (Bron: Facebook)

Grootvadersbosch

‘n Brand wat op 10 Januarie op privaat eiendom in die omgewing van Barrydale uitgebreek het, het gou na die Grootvadersbosch natuurreservaat versprei. Hoewel net ‘n klein stukkie van die natuurreservaat tot dusver gebrand het, het altesaam 2837 ha buite die reservaat reeds gebrand.

Walker Bay

‘n Brand by Walker Bay, wat op 4 Januarie langs die R43 ontstaan het, het reeds sowat 29 999 ha gebrand. Hoewel die gebied nie self binne CapeNature se Beheer is nie, het die brand op 5 Januarie na Uilkraalsmond Natuurreservaat versprei en  sowat 80% van die reservaat het in vlamme opgegaan.

CapeNature se brandspanne het probeer om die reservaat te beskerm toe die windrigting skielik draai en naasliggende privaat eiendom bedreig.

Lugsteun teen ‘n enorme R100 000 per uur is gebruik om die eiendom te beveilig.

Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

Op 6 Januarie het die vuur weer buite die bewaringsgebied opgevlam en aangedryf deur ‘n sterk westewind in die rigting van Pearly Beach en Baardskeerdersbos versprei. Die vuur het oornag binne tien ure sowat 30 km ver versprei en dit woed steeds voort in die rigting van die Agulhas Nasionale Park. Tot dusver is 29 318 ha verbrand. Die omvang van al die brande sal later bevestig word.

Meld beseerde wildlewe aan

Volgens CapeNature moet beseerde diere aangemeld word. “Moenie aan hulle raak, vang of vervoer nie, en moenie hulle voer of water gee nie.  Onnodige hantering veroorsaak meer stres, beserings of selfs vrekte en kan ander diere of mense in gevaar stel.

“Slegs opgeleide mense met die nodige geriewe mag beseerde diere hanteer, verwyder of rehabiliteer in ooreenstemming met omgewingswetgewing en die nodige permitte. Dit is onwettig om wildlewe te verwyder al is dit met die beste voornemens.”

Wanneer jy wel beseerde wild teëkom, maak so:

  • Bly op ‘n veilige afstand en hou ander mense en troeteldiere weg;
  • Tensy die dier in lewensgevaar verkeer moet dit nie verwyder of gevoer word nie;
  • Maak ‘n nota van die presiese posisie van die dier met behulp van ‘n GPS/Pin;
  • Identifiseer die spesie so akkuraat as moontlik;
  • Maak ‘n nota van die dier se beserings;
  • Meld die inligting onmiddellik by een van CapeNature se streekskantore aan.

Kontaknomers

Cederberg: 082 455 5569

Kaapse Skiereiland: 076 103 4615

Boland en Kogelberg: 082 785 1045

Witsenberg: 082 784 7173

Overstrand: 087 087 3841 / 071 999 5348

Langeberg: 087 087 3895 / 082 496 2449

Paarl: 087 087 4170

Tuinroete: 044 802 5300/ 087 087 3037

Karoo: 087 087 3002

Bronverwysings

Relief in the Cederberg: Firefighters mop up after devastating 12-day blaze (2026} Central News

https://centralnews.co.za/relief-in-the-cederberg-firefighters-mop-up-after-devastating-12-day-blaze/?fbclid=IwY2xjawPR4rRleHRuA2FlbQIxMABicmlkETF5cTRKZzdDbEZOUDZKbGVjc3J0YwZhcHBfaWQQMjIyMDM5MTc4ODIwMDg5MgABHghHUTPtMXTEBbLSOeF5yQetAWNn7DBwUr4BrvZANK8E-yVbNFIe7sPjcLGn_aem_tXsvzRV_oyAKXT_MrD0roA

Reviving the Critically Endangered Clanwilliam Cedar, South Africa (2025)

https://www.eocaconservation.org/projects/reviving-the-critically-endangered-clanwilliam-cedar-south-africa/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0