Kragdrade wat aasvoëls doodskok: Dit kan voorkom word

aasvoel 5
Kransaasvoël op 'n huis se dak naby die broeikolonie(Bron: Wilhelm Schack)
Ten minste 225 aasvoëls is reeds vanjaar weens onnatuurlike oorsake dood, en dié vrektes het hoofopskrifte gehaal.
Op 8 Mei het 123 gevrek nadat hulle vermoedelik aan ‘n vergiftigde olifantkarkas in die Mahlangenigebied in die Krugerwildtuin gevreet het. Op 18 Mei het nog 102 gevrek wat klaarblyklik in die Leeuspruit-wildreservaat naby Marlothpark in Mpumalanga aan ‘n vergiftigde vlakvarkkarkas gevreet het.
Maar die 225 waaroor berig word is klaarblyklik die spreekwoordelike oortjies van die seekoei. Volgens dr Wilhelm Schack van Eco Group Africa (EGA), ‘n wildveearts en ekoloog van Thabazimb, is die reste van ten minste tien aasvoëls onlangs op private eiendom in die Waterberge gevind.
“Alles dui daarop dat die aasvoëls minder as ‘n half kilometer vanaf die grootste aasvoël-broeikolonie in die Waterberge deur Eskom-kraglyne doodgeskok is,” sê hy.
“Hierdie ontstellende ontdekking vol kort op die twee voorvalle van massa-vergiftigings in Mei, maar in hierdie geval is dit die nalatigheid van die nasionale kragvoorsiener wat aanspreeklik is vir die dood van hierdie tien aasvoëls.

So lyk Eskompale wat gevaarlik is. Al drie kabels lê op dieselfde horisontale vlak en as aasvoëls hier land of opstyg kan hulle vlerkpunte baie maklik aan twee kabels gelyktydig raak en ‘n kortsluiting veroorsaak. (Bron: Wilhelm Schack)
225 vrektes aangemeld
Die ergste voorval ooit van aasvoël vergiftiging ooit in die land het op 6 Mei vanjaar in die Mahlangenigebied van die Krugerwildtuin voorgekom. ‘n Olifantkarkas is met opset met landbougif gedokter.
Altesaam 123 aasvoëls het weens die vergiftiging gevrek – 102 van hulle die kritiek bedreigde witrugaasvoëls (Gyps africanus) en 20 van die kwesbare kransaasvoëls (Gyps coprotheres), en een swartaasvoël (Torgos tracheliotos) Sommige van die 84 aasvoëls wat gered is, het tydens behandeling gevrek.
Op 18 Mei het 102 aasvoëls wat aan ‘n vergiftigde vlakvarkkarkas in die Leeuspruit Natuurreservaat naby Marlothpark in Mpumalanga gevreet het gevrek – 92 van hulle ook witrugaasvoëls, nege van hulle monnikaasvoël (Necrosyrtes monachus), en een witkopaasvoël (Trigonoceps occipitalis). Negentig present van die witrugaasvoëls wat broeipare.
Volgens Wilhelm het die vrektes op ‘n slegte tyd voorgekom, want Mei is piek broeiseisoen vir aasvoëls in Afrika. Elke broeipaar lê gewoonlik net een eier per jaar. “Om volwasse aasvoëls in hierdie kritieke tyd te verloor lei daartoe dat die enkele kuiken wat nog nie of reeds uitgebroei het ook verlore is.”
- Aasvoël in rehabilitasiehok op pad na beterskap. (Bron: Wilhelm Schack)
- Dis wat oorbly as kraglyne en aasdiere klaargespeel het met die ‘gesondheidspolisie’ van die bosveld. (Bron: Wilhelm Schack)
Kragdrade
Anders as die vrektes weens vergiftiging, kon die vrektes in die Waterberge voorkom gewees het.
“Die aasvoëls vrektes het naby die broeiplek is veroorsaak deur Eskom se kraglyne, nie deur vergiftiging nie en aasdiere soos jakkalse kon aan die karkasse vreet en die oorblyfsels versprei.
“Volgens die geskatte ouderdomme van die oorblyfsels wat ek op verskeie plekke gevind het , het die mortaliteit oor ‘n periode sedert ongeveer April tot nou toe plaasgevind,” se Wilhelm. “Daar is selfs nog ouer reste van halfvergane vere gevind wat aandui dat vrektes oor jare gereeld voorgekom het.”
- Verskillende tipes kragpale wat vir aasvoëls veilig is. Die kabels is vertikaal of vertikaal maar weg van mekaar gerangskik. Dit beteken ‘n sittende aasvoël met uitgespreide vlerke nie twee kabels gelyktydig met sy vlerkpunte kan raak en doodgeskok word nie.
Navorsing 10 jaar gelede
Navorsing deur Walter Neser vanaf Julie 2015 tot Mei 2016 het al daarop gedui dat Eskom se Thaba-SABC-lyn tussen pale 214 en 220 ‘n ‘bekende brandpunt’ van aasvoëlvrektes is. Hy het ‘n verslag aan Eskom gestuur waarin hy voorstel dat die gevaarlike Y-vormige strukture dringend aangepas word na T-pale wat veilig is vir groot voëls soos aasvoëls om op te land, kragafleiers te installeer en aarddrade wat afgesny is te verwyder. “Eskom het nooit op herhaalde waarskuwings reageer nie en tien jaar later word die aasvoëls op hierdie presiese plek digby die broeikolonie steeds doodgeskok.
“Die vrektes word nie veroorsaak deur moedswillige vergiftiging of per ongeluk, of deur grondeienaars se nalatigheid of onvermydelike natuurlike omstandighede nie: dit word veroorsaak deur Eskom se onwilligheid om ‘n bewese oplossing toe te pas. Hierdie nalatigheid oortree die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur (1998) wat omgewingsbewaring verpligtend maak.
“Eskom se versuim om bekende gevare aan te spreek stel beskermde spesies direk in gevaar en stel die diensverskaffer bloot aan potensiële regstappe.”
Aasvoëlkarkas op ‘n kragpaal. (Bron:https://africanbirdlife.org.za/2025/04/11/vultures-in-peril-amid-expanding-energy-infrastructure/?utm_source=chatgpt.com)
Aasvoëls se rol in die ekosisteem
Aasvoëls speel ‘n sleutelrol in die ekosisteem deur elke flentertjie vleis en been van dooie diere op te vreet wat andersins heelwat langer sou neem om te verrot en te vergaan.
Sodoende help hulle om die verspreiding van siektes soos miltsiekte en hondsdolheid te voorkom. Omdat hulle spysverteringstelsel aangepas is om gevaarlike patogene te neutraliseer, kom hulle self niks oor van die siektes nie.
Deur dierereste wat met siektes besmet is te vreet, voorkom die aasvoëls dat die siektes versprei en tot ‘n uitbreking lei. Die reste wat die aasvoëls uitskei verseker ook dat die voedingstowwe vinniger terugkeer na die grond wat plantegroei bevorder.
Terselfdertyd beheer aasvoëls die getalle van ander aasdiere soos rondloperhonde en rotte wat aan karkasse vreet en die siektes kan versprei.
Die teenwoordigheid van aasvoëls dui aan of ‘n ekosisteem gesond is. Wanneer hulle getalle, soos in die geval dramaties afneem, dui dit dikwels op probleme soos vergiftiging, siektes, ‘n krimpende habitat weens die mens se landbou-aktiwiteite of ontwikkeling van natuurlike gebiede, en ‘n gevolglike afname in die aasvoëls se prooidiere.
Laaste, maar nie die minste nie, is aasvoëls net soos ander skaars of bedreigde spesies ‘n trekpleister vir toeriste wat die land se uitsonderlike natuurskoon en verskeidenheid wilde diere wil sien. “Die aasvoëls se teenwoordigheid by ‘n vangs verbeter die natuurlike skouspel van roofdier-prooi-dinamika en aasdieraktiwiteit.”
Vulpro
Volgens Vulpro, wat ‘n leidende rol in die bewaring en rehabilitasie van aasvoëls in die land speel, word kritiek bedreigde aasvoëls deur die energie-infrastruktuur bedreig weens botsings met kragdrade en wind turbines. Tussen 2020 en 2025 is 191 aasvoëlvrektes en beserings weens insidente met kragdrade aangemeld.
Volgens Kerri Wolter, Vulpro se hoof uitvoerende beampte en stigter, het Vulpro in Maart/April vanjaar reageer op talle voorvalle waar aasvoëls met gebreekte vlerke, ernstige brandwonde en ander traumatiese beserings na botsings met kragdrade. “Sonder onmiddellike intervensie sou nie een van hulle oorleef het nie.
Sy meen die omvang van die probleem is baie groter aangesien nie alle insidente aangemeld word nie. Sedert Vulpro in 2012 ontstaan het, is altesaam 473 vrektes aangemeld. In 2024 is 38 vrektes aangeteken, wat ‘n toename van slegs drie in 2012 tot 1 166% is.
Aasvoëls is uiters kwesbaar vir infrastruktuur omdat hulle wyd kos sok en staatmaak op kragpale vir nesmaakplek. Botsings vind plaas gedurende storms of wanneer hulle nie die kragdrade kan sien nie. Verder veroorsaak hulle mis op die lyn ‘n kortsluiting veroorsaak. Aasvoëls wat sweef kan ook in windturbines verstengel raak.
Hoewel die Biodiversiteitsbestuurplan vir Aasvoëls reeds in 2022 met die hulp van Vulpro finaliseer is, word dit steeds nie toegepas nie.
Regstappe
Wilhelm sê dit blyk duidelik uit kommunikasie met Eskom dat die diensverskaffer nie die dringendheid van die saak besef of erken nie, veral in die lig daarvan dat die broeiseisoen in volle swang is. Jong voëls sal binnekort van die kranse af begin vlieg en blootgestel word aan die lewensgevaarlike Eskom-infrastruktuur in hulle broeigebied.
Volgens hom sal Eskom versoek word om die kragpale wat as dodelik identifiseer is, binne ‘n redelike tyd veilig gemaak moet word. “Indien Eskom nie aan die redelike versoek voldoen nie, sal ons oorgaan tot verdere stappe om die kwessie op nasionale media uit te lig. Uiteindelik sal regstappe vir die oortreding van verskeie bewaringswette oorweeg word; ons regslui is reeds besig met ‘n ondersoek.”
Kontakbesonderhede
Kontak dr Wilhelm Schack, Eco Group Africa (EGA) by 083-301-8119 of stuur ‘n e-pos aan wilhelm@ecogroup.africa
Kontak Vulpro by 082-808-5113 of 082-254-4162 vir noodgevalle of e-pos
admin@vulpro.com vir meer inligting.
Bronverwysings
Imray, G. (2025) More than 100 vultures die in a mass poisoning in South Africa’s flagship national park AP
https://apnews.com/article/vultures-poison-poachers-africa-wildlife-5eb501c68b143064929c0940dac2b8f1
Vultures Under Attack: Another 100 poisoned in Mpumalanga (2025) Birdlife Africa https://africanbirdlife.org.za/2025/05/19/vulture-poisoning-mpumalanga-2025/?utm_source=chatgpt.com
South Africa’s vultures face extinction as power infrastructure claims more lives (2025) Vulpro
Bega, S. (2025) Mass vulture poisoning near Marloth Park raises alarm in Mpumalanga Mail & Guardian
Ruiters, T. (2025) New poisoning tactics threaten South Africa’s endangered vultures The Star
Over 200 Vultures Killed in Mass Poisonings in South Africa; 83 Rescued in Unprecedented Response (2025) Peregrine Fund
Ecological crisis in South Africa: another vulture mass poisoning incident in Mpumalanga (2025) Vulture Conservation Fund
Vultures in peril amid expanding energy infrastructure African Birdlife




