Koue ysters, warm harte by Dry Ice 4 Farming

NAM05343
Die Dry Ice 4 Farming-span het besoekers by hul NAMPO-stalletjie bygestaan.
Elke jaar is NAMPO Bothaville die kernpunt vir die jongste landboutegnologie en -innovasie in Suid-Afrika. Hoewel die span van Dry Ice 4 Farming nie vanjaar hul demonstrasies lewendig kon aanbied nie, het dit beslis nie nuuskierige besoekers of die span se geesdrif gedemp nie. Die passievolle span was steeds in volle krag by NAMPO om boere met ope arms te verwelkom en eerstehandse inligting oor die vriesbrandmerkmetode te deel.
Cynthia Oliver, vriesbrand-spesialis vir die Dry Ice 4 Farming-handelsmerk by Dry Ice International het vertel watter brandysters word benodig vir die vreisbrandproses.
Die wetenskap agter die koue brandmerk
In plaas van die eeue oue warm ystermetode wat die vel skroei, maak vriesbrandmerk gebruik van ’n koue applikasie. Die geheim lê in die spesiale brandmerkysters wat van geelkoper (brass) gemaak word.
Hierdie ysters is aansienlik dikker as ’n gewone brandyster. Hierdie ekstra dikte is noodsaaklik sodat daar genoeg spasie en massa is vir die intense koue om effektief van agter af deur te penetreer na voor.
Wanneer hierdie koue yster op die dier se vel geplaas word, is die doel nie om skade te veroorsaak nie, maar om die kleurpigment van die haarfolikel permanent te vernietig. Die gevolg? Die nuwe hare wat mettertyd uitgroei, is spierwit.
Omdat daar geen uiterste hitte betrokke is nie, is daar absoluut geen skade aan die vel of die onderliggende huid nie. Daar ontstaan geen rou wonde of pynlike sere ná die tyd nie, aangesien die vel self geen fisieke trauma ervaar nie. Omdat dit ’n pynvrye metode is, hoef boere nie hul diere te immobiliseer tydens die proses nie. Dit skep ’n rustiger werksomgewing vir mens en dier.
- Dry Ice International kan jou van die die geelkoper-vriesbrandyster voorsien wat jy benodig.
- Een van die Dry Ice International se geelkoper-ysters wat in ’n koue droëys-mengesl geplaas is.
Langtermynvoordele vir die kudde
Die uitskakeling van trauma hou beduidende langtermynvoordele vir die algehele gesondheid en produktiwiteit van die kudde in. Waar warm brandmerke dikwels produksieskokke veroorsaak, kan boere met vriesbrandmerk lakterende koeie merk sonder die gevreesde daling in melkproduksie.
Selfs dragtige koeie kan veilig gemerk word sonder die risiko om te aborteer weens spanning. Omdat die diere vinniger en makliker hanteer kan word sonder die pynfaktor, bespaar die boer ook kosbare tyd en arbeid.
Die finale resultaat is ’n lewenslange, hoogs sigbare identifikasiemerk. Selfs al sou die hare afgeskeer word, bly die merk altyd duidelik sigbaar op die huid – en selfs op die karkas nadat die dier geslag is. In die praktyk beteken dit dat ’n boer so ver as 50 m met ’n bakkie in die veld verby sy vee kan ry en elke koei onmiddellik en akkuraat kan uitken. Boonop dien dit as ’n uitstekende afskrikmiddel teen veediefstal: dit is ’n unieke en onbekende manier van merk – veediewe sal sukkel om hierdie merk met ’n ander een te verdoesel.
- So lyk een van die geelkoper-ysters wat vir vriesbrand gebruik word. Hulle is dikker as gewone brandysters.
- Cynthia Oliver verduidelik die proses aan besoekers by NAMPO.
Pasgemaakte oplossings en landwye verspreiding
Dry Ice International verskaf hierdie unieke vriesbrandmerkysters volgens elke boer se unieke sertifikaatbehoeftes, en die nodige dokumentasie word vereis voordat ysters uitgereik word.
Die ysters beskik ook oor volledige nommerstelle om in enige spesifieke behoefte te voorsien. Dit is belangrik om te weet dat tradisionele brandysters – selfs dié van geelkoper – nie dik genoeg is om die koue korrek na die haarfolikel deur te voer nie, terwyl standaard vlekvrye staalysters nie die koue lank genoeg kan behou nie.

Cynthia Oliver, vriesbrand-spesialis vir die Dry Ice 4 Farming-handelsmerk by Dry Ice International.
As amptelike landwye verspreider, sorg Dry Ice International dat hierdie spesiale ysters deur middel van ’n betroubare koerierdiens regoor Suid-Afrika en selfs oor grense heen afgelewer word.
Die Dry Ice 4 Farming-span staan gereed om boere te help met raad, verkope en professionele demonstrasies om te verseker dat hul kudde die beste beskerming en identifikasie kry.
Besoek Dry Ice International se webtuiste by www.dryice.co.za vir meer inligting of om met die kundige span in kontak te kom.

Gewone vlekvrye staal of geelkoper ysters is nie voldoende vir die vriesbrandmerkproses nie.



