Klimaatsverandering: Boere voel die pyn, maar hoeveel dra hulle by?

5. Field measurements in KZN grassland 1995 PhD study
Stephanie Midgley meet die gas wat grasspesies in KwaZulu-Natal vrystel. Dit het deel gevorm van navorsing vir haar doktorsgraad op die reaksie van tropiese grasse van Afrika op hoër vlakke van koolstofdioksied. (Bron: Verskaf)
Prof Stephanie Midgley, ՚n deskundige oor klimaatsverandering, meen boere dra nie doelbewus by tot klimaatsverandering nie, maar is deel van die massiewe wêreldwye klimaatsverandering wat veroorsaak word deur die gebruik van fossielbrandstof. Die brandstof, wat lei tot die vrylating van kweekhuisgasse in die atmosfeer, is die sondebok.
Stephanie het in Januarie 2021 by die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangesluit as ՚n wetenskaplike vir klimaatsverandering en risikobepaling, en is in Oktober 2023 aangestel as spesialis-wetenskaplike vir klimaatsverandering. Naas haar eie navorsing, lei en hou sy toesig oor strategiese wetenskaplike navorsing in klimaatsverandering en landbou.
“Die navorsingsresultate moet lei tot ՚n toename in kennis wat in die praktyk oorgedra kan word. Dit moet ook die ontwikkeling van klimaatslim tegnologie stimuleer wat die Wes-Kaapse landbousektor ondersteun om meer veerkragtig te word in die lig van klimaatsverandering.”
Wat is klimaatsverandering?
Stephanie gebruik die Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering (UNFCCC) artikel 1, om klimaatsverandering te verduidelik. Daar is klimaatsverandering wat toegeskryf word aan menslike bedrywighede wat bykomend is tot natuurlike klimaatsverandering wat oor vergelykbare tydperke waargeneem word.
Klimaatsverandering en die uitwerking daarvan moet in die verskillende landbouklimaatsones, oftewel SmartAgri-sones, waarvan daar 23 in die Wes-Kaap is, gemeet word. SmartAgri verwys na die reaksieraamwerk vir klimaatsverandering en die bestuursplan vir die landbousektor in die provinsie.
Hoe raak dit boerdery?
“Oor die algemeen verwag ons dat die klimaat oor die grootste deel van die provinsie warmer en droër sal word, met meer onvoorspelbare weer en meer gereelde uiterstes soos vloede, droogtes en hittegolwe,” sê sy.
- Minder water beteken meer druk op reeds oorbenutte waterbronne en veroorsaak laer oesopbrengste;
- Hoër temperature beteken meer verdamping en minder water in damme, terwyl gewasse meer water benodig;
- Meer hittegolwe beteken meer hittespanning op gewasse, vee en mense wat op plase werk;
- Langer, meer gereelde en erger droogtes sal groter damme en meer doeltreffende besproeiingstelsels vereis;
- Meer intense reënval sal lei tot oorstromings, gronderosie en skade aan gewasse;
- ՚n Korter reënvalseisoen beteken minder tyd om reënwater op te gaar; en
- Warmer winters sal die voorkoms van plae en siektes in gewasse en vee verhoog en die koueeenhede wat vrugtebome benodig verminder.
“Daarteenoor ondersoek ons ook positiewe geleenthede, soos hoe boere kan voordeel trek uit die opneem van groot hoeveelhede koolstof in die grond deur bewaringof herlewingslandboupraktyke,” sê Stephanie.
Hoe dra boere by tot klimaatsverandering?
Sy meen boere dra nie doelbewus by tot klimaatsverandering nie. Landbou op ՚n wêreldwye vlak is egter wel verantwoordelik vir sowat ՚n kwart van alle kweekhuisgasvrystellings weens die gebruik van fossielbrandstof, elektriese kragopwekking wat op steenkool steun, en die gebruik van kunsmis. Dit sluit ook die verandering in grondgebruik in, soos die vernietiging van inheemse woude om plek te maak vir gewasse en beesboerdery.
“Dit sluit ook metaangasvrystellings van beeste en ander vee wat enteriese gisting in hulle spysverteringstelsel het in, wat nogal ՚n groot persentasie van die totale koolstofuitstoot van landbou verteenwoordig.”
Aan die ander kant is landbougrond ook ՚n koolstofstoor wat ՚n baie belangrike oplossing is vir die versagting van klimaatsverandering. Boere, soos enige ander sektor of bedryf, het ՚n gedeelde verantwoordelikheid om teikens te stel vir hulle oorgang na verminderde kweekhuisgasvrystellings. Gevaarlike praktyke wat die skaderisiko’s vir landbou, veral tydens uiterste weerstoestande, aansienlik verhoog, sluit onverantwoordelike bestuur van grond, waterbronne en ekostelsels in. Die ekostelsels moet noodsaaklike produkte en funksies verskaf om lewe te onderhou.

Navorsing oor boordpraktyke wat sonbrand weens hitte kan verminder het ՚n groot deel van haar navorsingsprogramme uitgemaak terwyl sy ՚n lektor aan Stellenbosch Universiteit was. Hier beduie sy vir ՚n sproei-operateur hoe om ՚n veilige sonblok op appelbome op ՚n plaas in Grabouw aan te wend in 2004. (Bron: Verskaf)
Wat is bewaringslandbou?
Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) omskryf bewaringslandbou as ՚n boerderystelsel wat die volgende drie komponente bevorder:
- minimum grondversteuring, dus geen- of minimumbewerking;
- instandhouding van ՚n permanente grondbedekking; en
- diversifikasie van plantspesies. Bewaringslandbou verhoog biodiversiteit en natuurlike biologiese prosesse bo en onder die grondoppervlak, wat bydra tot meer doeltreffende verbruik van water en voedingstowwe wat tot beter en volhoubare gewasproduksie lei.
“Soms begin boere met een of twee van die drie komponente van bewaringslandbou, maar dit is belangrik om daarna te streef om al drie toe te pas om die meeste voordeel daaruit te haal.”
Stephanie se pad met landbou
Plante en landbou is in Stephanie se bloed. Sy is in Stellenbosch as die jongste van vyf kinders gebore. Sy het skoolgegaan aan die Rynse Laer- en Hoër Meisieskool, en in 1984 matrikuleer met tale, wetenskap en musiek as vakke. Tussen 1985 en 1990 het sy aan Stellenbosch Universiteit studeer met die aanvanklike doel om plantfisioloog te word.
Ter wille van ՚n sterk grondslag het sy BSc met Plantkunde en Biochemie met hoofvakke gekies, wat sy cum laude geslaag het. Daarna het sy vir haar meestersgraad oorgeskakel na die Fakulteit AgriWetenskappe en in 1990 MSc (Agric) in Hortologie ook met lof voltooi. Na ՚n paar jaar se werk het sy in 1999 ՚n PhD in Plantkunde aan die Universiteit Kaapstad behaal.
Waar kom haar belangstelling in landbou vandaan?
“Landbou, wetenskap en ՚n liefde vir plante en die natuur is in my bloed van albei my ouers se kante af,” vertel sy. Haar pa, wat uit ՚n familie van onderwysers en wetenskaplikes kom, het ՚n graad in landbou verwerf en was ՚n navorser wat later ՚n hidroloog en waterhulpbronbeplanner vir die regering geword het. Haar ma het ՚n diploma in tuinbou gehad, en hoewel sy dit skaars formeel beoefen het, het sy ՚n groot liefde vir tuinmaak en bome gehad, net soos haar ma voor haar wat uit ՚n boerderyfamilie gestam het.
“Ek het aanvanklik nie regtig landbou oorweeg nie, maar tydens my voorgraadse studies het ek besef ek wil my liefde vir plantfisiologie in ՚n toegepaste en ekonomiese sektor nastreef – tuinbouwetenskap was ՚n perfekte pasmaat!”
Na voltooiing van haar meestersgraad het sy ses maande as ՚n vrugtetegnoloog vir Unifruco in Londen gewerk. Dié maatskappy het destyds in 1991 alle vrugte-uitvoere na Europa hanteer. Na haar terugkeer het sy by die Navorsingseenheid vir Stres-ekologie by die Nasionale Botaniese Instituut in Kirstenbosch gaan werk. Die Instituut het sedertdien ontwikkel tot die huidige Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI).
Daar het sy waardevolle vaardighede in plant-ekofisiologie – hoe plante op hulle omgewing, wat klimaatspanning insluit, reageer. Dit was toe nog ՚n baie nuwe veld van klimaatsverandering. “Toe ek besef hoe belangrik klimaatsverandering gaan word, was ek verslaaf daaraan en het nog nooit teruggekyk nie!”
- Stephanie Midgley in Januarie 2021 toe sy ՚n pad saam met die WesKaapse Landboudepartement geloop het as spesialiswetenskaplike vir Klimaatsverandering en Risikobepaling. (Bron: Verskaf)
- Die Internasionale Hortologie Kongres (IHK) word elke vier jaar gehou en is ‘n belangrike geleentheid om navorsing bekend te stel en te netwerk. Een van die kongresse wat sy oor die jare heen bygewoon het was die 30ste in Istanboel, Turkye in 2018. (Bron: Verskaf)
Terug landbou toe
Volgens Stephanie het haar doktorsgraad haar die geleentheid gegee om in 1999 na landbou terug te keer in die pos van senior lektor en later medeprofessor by die Departement Hortologie by Universiteit Stellenbosch. “In die tyd het ek gefokus op navorsing en onderrig van ekofisiologiese aspekte van vrugteproduksie en veral die uitdagings wat hoë temperature op produksie en gehalte het.”
Daarna het sy ՚n paar jaar lank in die private sektor aan groot streeksprojekte in Suidelike Afrika gewerk wat op klimaatsverandering, landbou en voedselsekerheid gefokus het. Tussen 2013 en 2020 het sy as onafhanklike navorser eers vir die Afrika Klimaat en Ontwikkelingsinisiatief (ACDI) by Universiteit Kaapstad, en daarna by die Departement Hortologie by Stellenbosch Universiteit gewerk.
“Gedurende hierdie tydperk het my insigte veral ten opsigte van die uitdagings van klimaatsverandering en volhoubaarheid vir die landbousektor verdiep en verbreed.”
Kortpad na klimaatsverandering
“Kort voordat ek met my eerste werk by die NBI (Kirstenbosch) begin het, het die direkteur, prof Brian Huntley, ՚n oorkoepelende program begin wat gegrond was op die vier nuwe Konvensies van die Verenigde Nasies, waarvan een die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (UNFCCC, 1992) was. My eenheid het die uitdaging aangepak om ՚n navorsingsprogram oor klimaatsverandering te ontwikkel.
“Ons het navorsing gedoen oor die reaksies van plantspesies en ekostelsels op stygende atmosferiese koolstofdioksiedkonsentrasies, sowel as stygende ultraviolet-B-bestraling. Die kombinasie van hierdie faktore het die onderwerp van my PhD-navorsing geword en al my navorsing daarna was ingestel op klimaatsveranderlikes en -spanning, asook klimaatsverandering oor die langer termyn.”
En nou is sy dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou se klimaatslim regterhand wat hard werk om boere in die provinsie so veerkragtig as moontlik te maak teen die aanslae van die klimaat.
Kontak prof Stephanie Midgley by Stephanie.Midgley@westerncape.gov.za
Bronverwysing
SmartAgri Newsletter 3 (2023) https://greenagri.org.za/newsletter/smartagri/2023/SmartAgri%20Newsletter%20December%202023%20web.pdf

