Categories: Boer slim!, NuusPublished On: 30th March 2022

Klimaat- en Landboutoestande

By 7 min read
1335 words

pexels-pixabay-158163

deur Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS)

Belangrike inligting
• Daar is nog reën moontlik vir die Somerreënvalgebied tot ten minste die middel van Mei.
• La Nina-toestande duur voort.
• Koeler toestande met ligte reën moontlik vir die Weskaap vir April en eerste deel van Mei.

Huidige toestande

Temperature is besig om af te neem en alhoewel dit nie koud genoeg was om ryp te veroorsaak nie, het minimumtemperature onder 10°C voorgekom tussen 24 en 28 Maart op sommige plekke in die Somerreënvalgebied. Daar is byvoorbeeld die volgende minimumtemperature gemeet: Koppies en Bloemfontein 6°C, Barkly East 6.3°C, Viljoenskroon 7.1°C, Ficksburg 7.2°C, Bethlehem 7.5°C, Bloemhof 8.7°C en Ottosdal 9.6°C. Minimumtemperature onder 10°C is te laag om groei en ontwikkeling vol te hou en vertraag groei ernstig. Dit is vanjaar veral laat aanplantings van mielies en sonneblom wat moontlike oesverliese kan ervaar.

Gereelde reën kom steeds voor oor die sentrale tot westelike dele van die land. Lusernboere vind dit baie moeilik om ‘n geskikte periode sonder reën of baie hoë lugvog te kry om goeie kwaliteit hooi te maak. Die reën in die Karoo en Kalahari stimuleer ook meer generasies sprinkane. Rosyntjie- en tafeldruifboere in veral die Benede Oranjerivier het ook al groot verliese gely as gevolg van die reën. Aan die ander kant het weidingstoestande baie goed herstel en is die droogte in byna die hele land nou gebreek. Reën het ook vir die eerste keer in die baie droë dele van die Ooskaap voorgekom maar meer reën is steeds nodig om veral oppervlak- en ondergrondse water aan te vul asook om weidings te laat herstel.

Byna al die opgaardamme in die Somerreënvalgebied het baie hoë watervlakke as gevolg van die swaar reën hierdie seisoen tot op hede. Die gemiddelde vlakke van damme in die Vrystaat was op 105% in die laaste week van Maart. Slegs enkele damme in die Ooskaap het steeds lae vlakke. Die Kouga dam het weer gedaal tot onder 15% maar die gemiddelde vlakke van damme in die Ooskaap is ongeveer 10% beter as verlede seisoen dieselfde tyd. Damvlakke in die Weskaap is gemiddeld 61% vol teenoor 56% verlede seisoen die ooreenstemmende tyd maar die reënseisoen behoort binne die volgende twee tot drie maande te begin.

Die watervlak van die Karibadam is op 22% teenoor 43% verlede seisoen dieselfde tyd terwyl die Katzedam in Lesotho op 99.5% is en die Mohale dam op 77.4%. Die Hardapdam in die suide van Namibië is op 71.4% van vol volume teen einde Februarie 2022.

ENSO en Indiese Oseaan

ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)

La Nina toestande duur voort, geassosieer met atmosferiese toestande soos sterk pasaatwinde in die westelike Stille Oseaan, koeler as normale oppervlakte en dieper lae van die oseaan asook die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat steeds positief is. Daar was aanvanklik ‘n verswakking van La Nina asook die indikators gedurende Januarie maar dit het weer versterk in Februarie en Maart.

Langer termyn voorspellings, veral vir die lente en somer van 2022/23 is steeds onseker. Huidige voorspellings gee omtrent ‘n gelyke waarskynlikheid vir La Nina om voort te gaan of oor te gaan na neutrale toestande van tussen 40% en 45% elk. Selfs al gaan toestande oor na die Neutrale fase van ENSO, behoort die greep van die huidige La Nina op weertoestande nog vir die volgende klompie maande voort te gaan. Die waarskynlikheid dat ‘n El Nino en moontlike droër toestande in die somer van 2022/23 kan voorkom, is laag (ongeveer 15%).

Daar behoort meer sekerheid te wees vanaf ongeveer Augustus of La Nina gaan voortgaan en of dit gaan verswak om oor te gaan in neutrale toestande.

Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) as indikator van die invloed van see-oppervlaktoestande op oorliggende weerstelsels in die Nino-gebiede, het weer versterk om meer La Nina-neigend te wees nadat daar ‘n verswakking in Januarie 2022 voorgekom het. Op ‘n skaal van -30 (sterk El Nino) tot +30
(sterk La Nina) is die 30-dae lopende SOI tans op +13.04 in vergelyking met einde Januarie 2022 toe dit op +1.5 was. Die huidige waarde is op dieselfde vlak as wat dit tydens die piek in Januarie was toe dit op +12.99 gestaan het en wat aandui dat La Nina steeds goed gevestig is.

Indiese Oseaan

Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) Indeks bly tans in ‘n neutrale fase tot ten minste Junie maar voorspellings toon dat dit moontlik die drempelwaarde kan oorsteek na die negatiewe IOD fase in die laatwinter en lente. (‘n Negatiewe IOD is positief vir somerreënval en dit beteken dat daar koeler
water in die westelike Indiese Oseaan nader aan die Afrika kuslyn is en warmer water nader aan Australië, soortgelyk soos in 2021)

Reënval- en klimaatsvooruitsigte

Somerreënvalgebied

Reënval

Die huidige volskaalse La Nina is nog baie positief vir verdere reën op die korttermyn. Indien enige van La Nina of Neutrale fases voorkom in die winter en somer, kan reënvaltoestande versterk word deur die verwagte teenwoordigheid van die negatiewe fase van die IOD en kan daar weer gemiddelde tot bogemiddelde reënval voorkom.

  • Op die korttermyn kan reën nog tot in Meimaand voorkom vir die grootse deel van Suid_Afrika.
  • ‘n Droë tydperk kan voorkom vanaf Junie tot November wat in lyn is met die verwagting tydens La Nina seisoene, veral oor die sentrale tot westelike dele.
  • Gemiddelde tot bogemiddelde reënval is weer moontlik vanaf ongeveer November 2022 oor die oostelike dele en wat later in die somer verskuif na die sentrale tot westelike dele.

Temperatuur

  • Temperature gaan koeler word in April en baie skerp daal in Mei. Minimumtemperature gaan in April daal tot ongeveer 10°C oor die sentrale tot suidelike dele van die land en die Hoëveld. Dit sal egter steeds hoër wees (rondom 15°C of hoër) meer noordwaarts.
  • Die waarskynlikheid vir ernstige ryp voor die einde van April is skraal maar ryp word verwag in die eerste week van Mei. Baie koue toestande is moontlik vanaf die tweede deel van Junie tot laaste deel van Augustus met laat ryp in September en Oktober weer moontlik.

Winterreënvalgebied

Met koue fronte wat nou meer gereeld die westelike en suidwestelike dele van die land bereik en daarmee saam die tropiese vog wat steeds in omloop is, is daar ‘n kans vir gereelde ligte neerslae oor die Winterreënvalgebied in April en Mei. Dit sal ook veroorsaak dat daar bewolkte tot gedeeltelik bewolkte toestande gaan voorkom.

Die aanvang van die werklike winterreënvalseisoen as gevolg van koue fronte vanuit die suidelike Atlantiese Oseaan gaan waarskynlik laat begin vanaf Mei of selfs later. Soortgelyke jare in die geskiedenis soos 1975 en 1989 het baie stormagtige toestande ervaar met swaar sneeuneerslae.

Temperatuur

Temperature gaan heelwat koeler wees van nou af en dit lyk asof die baie warm toestande nie gaan terugkeer voor die winter nie.

Namibië

Reën is steeds moontlik tot die tweede deel van Mei. Baie droë toestande gaan dan heel waarskynlik voorkom tot ongeveer November/Desember. As die La Nina steeds voortduur en die Indiese Oseaan toestande is gunstig in die volgende maande, is dit ‘n positiewe teken vir reën in die mid- tot
laatsomer.

Opsomming en samevatting

  • La Nina toestande duur voort.
  • Reën kan nog voorkom oor die Somerreënvalgebied tot in Meimaand maar droë toestande kan dan verwag word vanaf Junie tot ongeveer November.
  • Ligte reënneerslae kan voorkom tot in Meimaand oor die Winterreënvalgebied maar die begin van die werklike winterreënvalseisoen kan eers later wees teen einde Mei. Dit kan geassosieer wees met stormagtige toestande en redelike swaar sneeu.

Vrywaring:

Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.

Kontak besonderhede:

Epos: wjvandenberg1959@gmail.com
Cell: 082 3744692

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0