Categories: NuusPublished On: 12th May 2021

Klimaat en Landboutoestande No 52 – Mei 2021

By 7 min read
1425 words

Rainy-Weather

Deur: Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS)

Belangrike inligting

  • ‘n Koue en nat winter word verwag vir die Wes- en gedeeltes van die Ooskaap.
  • Baie min winterreënval met ‘n hoë veldbrandgevaar word verwag vir die Somerreënvalgebied.   

Huidige toestande

Ondergemiddelde reënval het oor die grootste deel van die land gedurende Maart en April 2021 voorgekom hoofsaaklik as gevolg van die La Nina-verskynsel wat verswak het sedert die tweede deel van Februarie 2021. Die verwagting was dat die La Nina wat in die lente van 2020 ontwikkel het, sou voortduur tot in April 2021 maar dit het vinnig verswak om in ‘n neutrale fase van see-oppervlaktemperature van die Nino-gebiede in te gaan. Dit is tans steeds stewig in die neutrale reeks van plus/minus 0.5°C vanaf gemiddeld.

Daar was egter ‘n bietjie reën in die laaste paar dae van April oor die sentrale tot oostelike dele van die land wat gewissel het tussen byna niks tot meer as 50mm. Areas of distrikte wat die meeste reën gekry het was Richardsbaai in KZN (50mm), Queenstown (50mm) en Elliot (40mm) in die Ooskaap, Kroonstad (31mm), Ventersdorp (30mm), Kimberly (30mm), Fouriesburg (30mm) en Koppies (30mm).

Swaar reën tot meer as 300mm wat plek-plek vloede veroorsaak het, het voorgekom in die eerste week van Mei oor dele van die Suidkaap. Tot 80mm het voorgekom in die baie droë Langkloof en meer as 100mm in die Bonnievale area. Min of geen reën oor die suidelike dele van die Ooskaap waar rampdroogtetoestande steeds heers nie.

Die droër toestande in die Somergraangebied is oor die algemeen verwelkom want dit kan die oesproses versnel en dit is veral soja-, droë- en grondbone sowel as sonneblom en vroeë aanplantings van mielies wat hierby baat.  Die gebrek aan reën gedurende Maart en April was egter nadelig vir veldtoestande met gras en ander plante wat vinnig uitgedroog het en wat ‘n laer voedingskwaliteit veroorsaak. Dit het ook die veldbrandrisiko verhoog vir die winter en lente met baie brandbare materiaal wat reeds vroeg brande kan veroorsaak. 

Die vlakke van bykans al die damme in die sentrale tot oostelike dele van die land is baie gunstig met damvlakke in die Vrystaat op gemiddeld 98.3%.  Die groot verandering het in Limpopo voorgekom waar die damvlakke tans 68.8% vol is teenoor omtrent 70% laasjaar dieselfde tyd. Die Tzaneendam het gestyg van minder as 10%  ‘n paar maande gelede tot meer as 100% huidiglik. Damme in die sentrale tot suidelike dele van die Ooskaap bly op ramp lae vlakke met die Kougadam op 4.4% en die Impofudam op 15% – die belangrikste damme wat water aan die Nelson Mandelabaai Metro en omliggende besproeingsgebiede voorsien.

Die Bridledriftdam wat water aan die Buffalo City Metro voorsien is op 28%. Daar word egter bietjie aanvulling van damme verwag na die reën in die eerste week van Mei in gedeeltes van die Ooskaap wat hoofsaaklik aanvulling aan die Kougadam kan gee. Die meeste damme in die Weskaap is goed daaraan toe vir hierdie tyd van die jaar met die reënseisoen wat voorlê en is gemiddelde 10% beter as in die vorige jaar op dieselfde tyd. Die Clanwilliamdam wat die belangrikste dam in die westelike dele van die Weskaap is en wat water vir besproeiingsdoeleindes voorsien, is egter op slegs 15.8%.

Die watervlak van die Karibadam in Zambië het gestyg tot 49.8% teenoor 28.8% laasjaar die ooreenstemmende tydperk. Die Katsedam in Lesotho is op 77% en die Mohaledam op 39% terwyl die Hardapdam in die suidelike dele van Namibië op 68.8% was teen die einde van April.                  

ENSO en Indiese Oseaan

ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)

See-oppervlaktemperature van al die Nino-areas behalwe Nino1+2 (-0.7°C) was stewig in die neutrale reeks teen die einde van April. Voorspellings dui dat die neutrale toestande baie waarskynlik sal voortduur tot ten minste September 2021. Daar is ‘n voorspelling vir ‘n ongeveer 45% kans vir elk La Nina en Neutrale fase met slegs 10% kans vir El Nino tot einde September. Vanaf begin Oktober verhoog die waarskynlikheid tot ongeveer 50% vir La Nina en verklein vir Neutraal tot 40%. 

Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat die atmosferiese indikator van die ENSO is, was teen einde April ook in ‘n neutrale fase of naby zero. Op ‘n skaal van -30 (sterk El Nino) tot +30 (sterk La Nina) was die 30-dae gemiddelde SOI op +2.69 op 11 Mei 2021. 

Indiese en Atlantiese Oseaan

Die grootste deel van die Indiese Oseaan se oppervlaktemperature suid- en oos van die Afrikakuslyn dui op koeler as normale temperature alhoewel daar ‘n effense verwarming was gedurende April. Water langs die weskus van Suid-Afrika, Namibië en Angola is ongeveer 2°C tot 4°C warmer as gemiddeld en kan dit as ‘n “Benguela Nino” beskryf word. Gedurende die 1985, 1995 en 2011 episodes het dit grootskaalse ontwrigting van die visvangindustrie veroorsaak as gevolg van minder suurstofryke waters en grootskaalse migrasie van visse. Dit kan ook ‘n invloed uitoefen op weerspatrone, veral langs die Namibiese en Angolese kuslyne maar die globale impak op weerspatrone as gevolg van Benguela Ninos is nog onduidelik.    

Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks bly neutraal en voorspellings neig na ‘n voortsetting van neutrale toestande. 

Reënval- en klimaatsvooruitsigte

Somerreënvalgebied

Reënval

Baie min verdere reën word verwag oor die grootste deel van die Somerreënvalgebied tot ten minste Oktober 2021. Daar is egter steeds reën moontlik oor die Ooskaap en die suidelike dele van KZN in die laaste deel van Mei. 

Temperatuur

Bogemiddelde temperature kom steeds voor en dit is alreeds die middel van Mei. ‘n Reeks koue fronte in die laaste deel van Mei kan egter skerp temperatuurdalings veroorsaak oor die sentrale tot suidelike dele. Baie koue toestande word verwag vir die mid- tot laatwinter.     

Die eerste datums vir ryp is heelwat later as normaal met byna geen ryp wat voorgekom het tot die middel van Mei nie. Ryp word egter verwag in die tweede deel van Mei oor die sentrale en suidelike dele en eers later in Junie/Julie oor die meer noordelike dele. 

Winterreënvalgebied 

Reënvalverwagtings het verbeter vir die grootste deel van die Winterreënvalgebied vir die komende maande. Op die korttermyn kan meer as 20mm word verwag tussen 15 en 17 Mei oor gedeeltes van die Swartland met ligter neerslae oor die Suidkaap. Reën kan ook voorkom tussen 20 en 22 Mei sowel as 25 en 26 Mei. Alhoewel die swaar reën in die eerste week van Mei skades aan die bogrond veroorsaak het in die Suidkaap, was dit egter baie voordelig vir die aanvulling van grondwater sowel as aan damme. Die begin van die wintergraanseisoen in die Suidkaap is waarskynlik die beste in baie jare as gevolg van die reën wat voorgekom het asook die verwagting van verdere reën. Die verwagting van goeie neerslae in die tweede deel van Mei in die Swartland en aangrensende gebiede sal ook goeie toestande daar kan veroorsaak. Daar is ook ‘n moontlikheid dat die baie droë noordelike dele van die Weskaap en suidwestelike dele van die Noordkaap dalk ‘n bietjie winterreënval kan kry.    

Namibië

Baie min verdere reënval word verwag vir die winter en lente . ‘n Onbekende faktor is die Benguela Nino wat ‘n verskynsel van warmer waters teen die kus van Namibië en Angola is.  

Opsomming en samevatting

  • Reënvalverwagtinge vir die Somerreënvalgebied is negatief vir die komende maande behalwe gedeeltes van die Ooskaap en suidelike dele van KZN.
  • Vir die 2021/22-seisoen is die waarskynlikheid vir neutrale tot La Nina-toestande omtrent 90% met slegs ‘n 10% kans vir ‘n El Nino. Dit verbeter later in die somer ten gunste van La Nina.
  • Reënvalverwagtings is positief vir byna die hele Weskaap vanaf die tweede deel van Mei. Die swaar reën in die eerste deel van Mei kan egter ‘n voorteken wees van stormagtige weer om voort te duur in komende maande.
  • Redelike swaar sneeuneerslae lyk moontlik.     

Kontakbesonderhede:

Epos:     wjvandenberg1959@gmail.com

Cell:       082 3744692    

Vrywaring:

Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal,  waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie. 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0