Categories: Crop production, Crop protectionPublished On: 12th January 2011

Ken ’n kenner in die saak: Witvlieg

By 2 min read

Stuur gerus u vrae oor enige landbouverwante onderwerp na info@proagri.co.za 

Sakkie van Niekerk het ’n vraag oor witvlieg op sy tamaties ingestuur. ’n Plantkundige van Hygrotech, Nevill Boersma antwoord soos volg:
 
Witvlieë veroorsaak baie hoofbrekens vir die groente-bedryf. Die oplossing is ook nie so eenvoudig nie.
 
Witvlieë kan die gehalte van produkte soos tamaties verswak deur ’n taai afskeiding – ook bekend as heuningdou, waarop swart swamme weer kan groei. Verder is dit ’n baie groot verspreider of vektor van verskeie virusse.
 
Eiers, larwes en volwasse vlieë kan gelyktydig aan die onderkant van die blare voorkom. Dit maak dit moeilik om te beheer omrede chemiese beheer slegs doeltreffend is op sekere stadias van die vlieg se leeftyd. 
 
Beheer:
 
Chemies
Die vlieë het weerstand teen verskeie chemiese middels- en daarom is chemiese beheer nie altyd meer so doeltreffend nie. Soos genoem sal sekere chemiese middels net ’n sekere fase van die vlieg se lewensiklus beheer, en dit veroorsaak ook dan dat die lewensiklus nooit ordentlik gebreek word nie.
 
Indien daar dus van chemiese middels gebruik gemaak gaan word, wissel die middels af met ander middels wat ’n ander soort werking het.(Chemiese middels wat in ‘n ander klas of kategorie val).
 
‘n Paar bespuitings kort opmekaar om die siklus te verbreek kan ook help. Blaarbespuitings, sistemiese korreltoedienings in die grond en ultra-lae-volume-bespuiting in kweekhuise is ’n paar opsies.
 
Biologies
Die gebruik van parasiete om op die vlieë te parasiteer kan ook suksesvol wees. Encarsia formosa, ’n parasitiese wespe lê eiers in die larwe van die wit vlieg. Uiteindelik sal die wespe se eiertjie uitbroei, terwyl die larwe van die witvlieg swart verkleur en afsterf.
 
Plantteling en fisies
Daar is kultivars (soos die kweekhuis-variëteit, Dirk) wat sy blare meer regop dra. Dit veroorsaak dat die gunstige mikro-klimaat wat onder die blare geskep word, versteur word. Deur plante soos tamaties oordeelkundig te snoei, kan dit ook die vlieë beperk deurdat die mikroklimaat versteur word.
 
Witvlieë is nie ‘n maklike pes om te beheer nie, en sal nog lank by ons bly.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment